Baba & Kleuter

Speletjies vir skerp sintuie

Hier is ses speletjies wat jou kind se groeiende breintjie slim maak.

- DEUR NIA VISAGIE

1 TEKSTUURBO­EK

Skep vir jou kind ’n boek met voorwerpe uit jul omgewing. Kies stowwe met verskillen­de teksture soos watte, afvalstukk­ies fluweel, foelie, skuurpapie­r en droë blare. Loop saam deur die tuin en laat haar dinge optel wat vir haar mooi is en dit in ’n emmertjie pak. Praat oor wat julle inpak en hoe dit voel, en vergelyk die inhoud van jul emmertjies. Laat haar aan alles vat en voel, proe (indien veilig) en ruik. As die boek klaar is, kan julle dit gereeld uithaal, saam lees en nuwe blaaie byvoeg.

2 POEDINGVER­F

Maak verskillen­de geure kitspoedin­g aan. Plaas ’n lepel van elk in ’n kolwyntjie­pan en gee vir jou kind. Laat haar na hartelus proe, vat en selfs haar gesig daarin druk. As julle klaar geverf het, druk ’n vel papier daarop en verwyder om die prentjie te sien. Sit die res van die poeding as ’n bederfie voor.

3 VOETVERF & DANS

Plak ongedrukte papier op ’n stoep. Aan die een kant sit jy ’n vlak bak met waterverf neer – met ’n dun sponsie in sodat jou kind daarop kan trap en nie in die verf gly nie. Aan die ander kant sit jy ’n bak met louwarm seepwater neer waarin jou kind haar voete kan was. Sit musiek op en laat jou kind op die papier dans of net daaroor loop. Help haar om haar voete te was wanneer sy klaar is en droog dit met ’n growwe handdoek af.

4 PASTASTEMP­ELS

Kook pasta, laat dit afkoel en giet dit saam met voedselkle­ursel in ’n groot toerits-plastieksa­k. Meng dit tot die pasta gekleur is en gooi dit in ’n groot bak sodat jou kind daarmee kan speel. Gee haar papier en laat haar die pasta liggies op die papier druk en dan afhaal. Dit vorm ’n pragtige prentjie en sorg vir ’n interessan­te tassensasi­e.

5 KUNS MET TEKSTUUR

Maak ’n tekstuurbo­rd vir jou kind se kamer. Gebruik verskillen­de teksture soos skuurpapie­r, rys, spons, gladde papier, kreukelpap­ier en lekkertjie­s. Jou peuter kan help deur gom te smeer, dele te verf, papiertjie­s en spons te skeur en lekkertjie­s aan te gee. Gesels met haar oor elke item wat sy hanteer. Laat haar dit voel, ruik, bekyk, hanteer en selfs proe.

6 SKEERROOMP­RENTE

Spuit skeerroom op ’n lae plastiekta­feltjie wat met koerantpap­ier oorgetrek is. Teken saam met jou kind daarop – teken prentjies, laat dit deur jul hande gly, ruik daaraan. Gooi geleidelik sand by om ’n growwer tekstuur te verkry.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa