Nege dinge om nie te sê nie
As dit kom by positiewe versterking, kan ’n paar verkeerde woorde soms al jou goeie werk in die wiele ry ...
Lank voor jou kind se geboorte het jy waarskynlik reeds in jou kop ’n lys opgestel van dinge wat jy nooit vir hom sal sê nie. Maar as ’n mens moeg en gefrustreerd voel, is dit baie maklik om tog maar te verval in daardie ou clichés wat ouers so graag kwytraak.
Die waarheid is egter dat leë dreigemente en outydse bangmaaktegnieke nie werk nie. Hoekom dan nie liewer daarop fokus om jou peuter se selfbeeld te bou of goeie gedrag te beloon nie? Ja, dit is meer werk, maar jy én jou kind sal gelukkiger voel. Hou dus liewer verby die volgende:
1‘ MAAK GOU!’
Staan stil, word rustig en waardeer jou omgewing soms, is die raad van Celeste Rushby, ’n Munchkins-ouerskapsafrigter en arbeidsterapeut van Kaapstad.
“Probeer jou tyd so bestuur en beplan dat dit nie nodig is om jou kind aan te jaag nie en dat daar tyd is om jou peuter beperkte keuses te gee, soos: ‘Dis koud, jy moet dus ’n baadjie aantrek. Wil jy die bloue of die groene aantrek?’ Dit maak ook sommer ’n einde aan die klerestryd.”
Celeste moedig ouers aan om in hul tydsbestuur voorsiening te maak vir tyd waarin hul peuter dinge self kan probeer doen, soos om self aan te trek of ontbyt te eet. “Die kleinspan word hopeloos te vinnig groot; drink dus elke minuut wat jy kan in,” is haar raad.
2‘ JY BEHOORT VAN BETER TE WEET!’
Hierdie stelling bereik niks, want die waarheid is dat jou jong kind beslis nog nie van beter weet nie en al wat hy eintlik doen, is om deur sy gedrag te wys hoe sterk sy gedagtes en gevoelens is.
“Jou kind is eintlik op soek na ’n doeltreffende reaksie wat hy kan inspan. Jy moet realistiese verwagtinge koester oor wat jy op sy ouderdom kan verwag,” verduidelik Anne Cawood, ’n Kaapse maatskaplike werker en skrywer van die gewilde Grense
boekreeks. “Sê liewer: ‘Ek kan sien jy is baie ontsteld, maar as ons ontsteld is, gebruik ons liewer ons woorde as dat ons iemand stamp.’ So leer jy jou kind hoe om toepaslik te reageer en help jy hom om noodsaaklike lewensvaardighede te ontwikkel.”
3 ‘LOS MY UIT!’
Ons raak almal soms prikkelbaar, hartseer of kwaad en het ’n bietjie eie tyd nodig. “Sit daardie eie tyd vir jou opsy,” sê Celeste, “maar moenie dat jou kinders daaronder ly nie.”
Sy verduidelik dat dit eintlik baie gesond is as kinders weet dat hul ouers ook gevoelens het en hard daaraan moet werk om dit te beheer.
“Vir ’n kind ouer as twee en ’n half kan jy verduidelik hoe jy voel (hartseer, kwaad, gefrustreerd) en dat jy ’n bietjie ruimte nodig het.
“Van hierdie ouderdom af sal hy al vir ’n kort rukkie op sy eie kan speel tot jy hom roep, sonder dat hy jou kom soek. Dit is dalk net wat jy nodig het om weer tot verhaal te kom.”
4‘ AS JY NIE NOU OPHOU HUIL NIE, GEE EK JOU IETS OM OOR TE HUIL’
As jou kind reeds ontsteld is, is daar geen manier waarop hierdie aaklige dreigement die situasie gaan verbeter nie, sê Celeste. Ouers verlaat hulle dikwels op sulke dreigemente nadat hulle oor en oor oor iets gepraat het sonder om hul dreigemente deur te voer. “Haal liewer diep asem, dink mooi en stel vas wat werklik met jou peuter aan die gang is. Hoekom huil jou kind? Is dit iets wat moet ophou – soos vloerstuipe – oor iets wat sy wil hê? Of het jou kind miskien net ’n bietjie koestering nodig? Het sy seergekry of voel sy oorweldig? Leë dreigemente help dan niks.”
5‘ JY IS STOUT!’
Etikette werk vir niemand nie. Jou kind moet weet jy het hom onvoorwaardelik lief, ongeag wat hy aanvang. “Moenie sy karakter aanval nie. Hanteer liewer sy gedrag. Hy moet weet dat wat hy ook al doen, hy altyd gelief is, maar dat sy swak gedrag nie geduld sal word nie,” sê Celeste.
“Om ’n kind stout of lomp of gemeen te noem laat hom glo dat dit is wie hy is, en dan sal hy waarskynlik in die toekoms nog meer so optree.”
6‘ HOEKOM KAN JY NIE MEER SOOS JOU BROER WEES NIE?’
Vergelykings tussen kinders vererger net konflik tussen medespruite.
“’n Kind wat so vergelyk word, kan erg wrewelrig teenoor sy broer of suster begin voel en onbewustelik probeer om soveel moontlik van hulle te verskil,” waarsku Anne.
“Dit plaas ook druk op die sogenaamde ‘perfekte’ broer of suster om aan hierdie ‘verwagtinge’ te voldoen. Wat dan ontwikkel is die tipiese hartseer patroon waar ’n ‘goeie’ kind teenoor die ‘moeilike’ een gestel word. En omdat kinders aan hul voorgeskrewe rolle probeer voldoen, eindig die storie in ’n selfvervullende profesie.”
7‘ MOENIE SO ’N TJANKBALIE WEES NIE!’
Moet vanuit die staanspoor nooit jou kind se gevoelens ontken nie.
“Peuters kommunikeer hul gevoelens deur gedrag soos ’n gehuil en daarom is huil heel toepaslik vir ’n jong kind. As jy hom dan vertel hy moenie so ’n “baba” wees nie, hang jy ’n onaanvaarbare, negatiewe etiket om sy nek,” sê Anne.
Sy verduidelik dat ’n kind wat in der waarheid aangesê word om “niks te voel nie”, groot sal word sonder enige idee hoe om sy emosies in woorde uit te druk.
“Sê liewer: ‘Ek kan sien jou hart is sommer baie seer’ en troos en koester jou kind. As hy aanhou huil, stel sagkens ’n grens deur te sê: ‘Dit is nou genoeg gehuil. Kom ons gaan lees ’n storie.’
“So wys jy vir jou kind dat jy sy gevoelens aanvaar en dit benoem en dat daar ’n oplossing daarvoor of afleiding daarvan bestaan.”
8‘ WAG NET TOT JOU PA HUIS TOE KOM’
Moenie jou outoriteit aan iemand anders oorhandig nie, selfs nie eens jou maat nie.
“Jy is ook ’n ouer; staan dus jou plek vol en stel die nodige grense. Jou kinders sal nooit veilig en beskut voel as hulle heeltyd oor jou kan loop tot hul pa by die huis kom nie,” sê Celeste.
“Dit is uiters belangrik dat albei ouers uit die staanspoor gereeld met mekaar oor die ware betekenis van doeltreffende dissipline praat,” beaam Anne.
“Dit beteken dat julle elkeen toepaslike grense stel en dan toesien dat die gevolge van die oortreding van hierdie grense of buig van die reëls toegepas word – deur die ouer wat by is wanneer dit gebeur. Kinders behoort nie angstig gemaak te word en bang te voel vir die ander ouer wat nie eens teenwoordig was toe die onaanvaarbare gedrag plaasgevind het nie.”
9‘ JY IS SO ’N SOET SEUN!’
Dit is moeilik vir ouers om die gevaar van oordadige, beoordelende lof te vermy as hulle so geesdriftig oor en trots voel op die mylpale wat hul kinders bereik of as hul kinders so optree dat hulle soos suksesvolle ouers voel.
Die probleem met hierdie soort loftoeswaaiing is dat kinders leer om op die opinies van ander staat te maak en nie leer om hul eie waarde te bepaal nie, sê Anne.
“Dit is normaal, maar jy moet liewer beskrywende pryswoorde gebruik wat fokus op die werk en nie op die finale produk nie. En beskryf wat jy sien,” stel sy voor.
Om dus te sê: “Dis wonderlik wanneer jy al jou speelgoed so mooi bêre,” of “Jy het soveel kleure gebruik en die hele bladsy ingekleur – dis pragtig!” is meer doeltreffend as “Jy kleur so mooi in!”.
As jy spesifiek is en nie net veralgemeen dat jou kind ’n “slim kind” is nie, weet hy ook presies wat hy reg gedoen het en word hy aangespoor om hierdie goeie gedrag in die toekoms te herhaal, sê Celeste.