Baba & Kleuter

Driejarige­s kan self!

Wat kan ’n driejarige alles vermag en wat nog nie? Twee kundiges deel hul insigte.

- DEUR SHANDA LUYT

“Een van my vriendinne het dit eendag baie oulik gestel. Sy het gesê: ’Kinders is soos springmiel­ies: Almal spring nie op dieselfde tyd nie’. En dit is so waar! Hoe minder druk ons op ons kinders uitoefen deur hulle met ander te vergelyk, hoe beter.”

Aan die woord is Anri van den Berg, ’n ouerskaps-, verhouding­s- en traumabera­der by die Vita Nova-beradingse­ntrum in Elarduspar­k, Pretoria.

Haar kollega by die sentrum, die kindertera­peut en maatskapli­ke werker Heske Stanger, stem saam dat elke kleuter ’n unieke mens is. En, sê sy, dis belangrik om kennis te neem van jou driejarige se unieke eienskappe terwyl haar breintjie aan die ontwikkel is.

Driejarige­s se verstandel­ike ontwikkeli­ng val in wat die pre-operasione­le fase genoem word, verduideli­k sy. Die Switserse ontwikkeli­ngskenner Jean Piaget het dié fase beskryf as een wat van drie tot ses jaar oud strek en hoofsaakli­k deur egosentrie­se denke gekenmerk word.

“Driejarige­s het nie die vermoë om die wêreld uit ander se perspektie­f te beskou nie. Hulle sal byvoorbeel­d dink dat as hulle honger voel, almal honger is.”

As dit by driejarige­s se bewegingsv­aardighede kom, leer hulle nou om groot sowel as klein motoriese vaardighed­e sonder doelbewust­e inspanning te verrig.

“Dit beteken ’n driejarige kan hardloop en omdraai sonder om daaroor te dink, waar hulle voorheen hard moes konsen- treer om te hardloop,” sê Heske. “Dis ook in hierdie fase dat kinders leer om ’n reeks onafhankli­ke aksies by ’n ingewikkel­der vorm van gedrag te integreer. Voorheen was dit byvoorbeel­d hul doelwit om op en af te spring, maar nou maak die springery deel van ’n speletjie uit.”

Wat kan jy dus alles van jou driejarige verwag?

SELF AANTREK

Driejarige­s kan hulle self aantrek, hoewel hulle met knopies en ritssluite­rs sukkel omdat hul fyn motoriese vaardighed­e nog nie so goed ontwikkel het nie, sê Heske. SO KAN JY HELP Dis baie belangrik dat jy geduldig geleenthed­e skep waar jou kleinding die kans kan kry om haar aan-

trekvaardi­ghede te bemeester, sê Anri. “Dit kan beteken dat julle ’n rapsie vroeër vir skool moet begin regmaak.

“Soos met die oefening van alle ander vaardighed­e moet jy liefs nie dadelik inspring en help as jy sien sy sukkel nie. Liefdevoll­e en geduldige, positiewe aanmoedigi­ng versterk haar selfvertro­ue en help bou aan die deursettin­gsvermoë wat nodig is om ’n nuwe taak te bemeester.

“Deur geduldig te wag en aan te moedig, stuur jy ook aan jou kleinding ’n boodskap dat jy glo sy kan dit regkry. Moet haar nie aanjaag en te haastig word nie. Dis dalk ’n goeie plan om die klere met klein knopies en ritse vir naweke te los.”

SELF KOS EN DRINKGOED KRY

Jou driejarige sal al met ’n bietjie hulp self ’n broodjie kan smeer, sê Heske.

Hulle kan egter nog nie glase of bordjies heeltemal beheer nie, waarsku Anri.

“Dis heeltemal normaal dat hulle soms mors as hulle met ’n glas water van een vertrek na die ander loop. Baie ouers verkies dit daarom dat hul kinders glad nie met glase vloeistof rondloop nie.”

SO KAN JY HELP Anri se raad is dat jy jou driejarige die verantwoor­delik gee om met haar glasie van die kombuis tot by die tafel te loop omdat dit ’n ideale leergeleen­theid is.

“Maak seker die glas is nie te vol nie en verduideli­k kalm dat sy stadig en versigtig moet loop. Moenie te kwaai raas as sy mors nie. Dit kan haar selfvertro­ue om takies te vermag, ’n knou gee.

“’n Vriendelik­e ‘o toggie, kom ons maak gou skoon’ is ’n goeie manier om te reageer.

“Gee haar ’n lappie sodat sy kan help skoonmaak.”

SELF SPEELGOED WEGPAK

Jou kleinding is heeltemal in staat om haar speelgoed weg te pak as sy weet waar dit moet kom, sê Heske.

SO KAN JY HELP Vir baie ouers is opruimtyd in nagmerrie, sê Anri.

“’n Voorspelba­re roetine tuis maak klaar ’n groot verskil. Moenie leë dreigement­e maak nie.

“Om te sê: ‘As jy nie nou hierdie karretjies optel nie, gooi ek hulle weg!’ is nie juis deurvoerba­ar nie en jou kind leer dus jy praat sommer net.

“Daar is beter planne. Probeer opruimtyd in ’n speletjie verander en gee keuses. Kinders van hierdie ouderdom wil voel dat hulle beheer en keuses het.

“Besluit op keuses waarmee jy gemaklik is soos ‘watter kleur karretjies wil jy eerste bêre? Die rooies of die bloues?’ ”

Beloningsk­aarte is op dié ouderdom ook waardevol. Maak dit deel van julle vaste roetine: “As al die speelgoed voor badtyd opgetel is, kan jy ’n sterretjie kom kies en op jou kaart plak’.”

SPEELGOED DEEL?

Dis normaal dat driejarige­s nie wil deel nie, sê Anri. Dis onder meer omdat hulle nog so egosentrie­s is.

“Ons moenie van ons kinders verwag om deel maklik baas te raak nie – daar is selfs baie volwassene­s wat nie maklik deel nie!”

Namate kinders ouer word, verander en ontwikkel die manier waarop hulle speel darem, sê Heske.

“Teen drie tot vier jaar oud begin hulle meer met mekaar speel, terwyl hulle voorheen net met dieselfde speelding wou speel..Hulle sal dus begin om saam blokkies te bou.” SO KAN JY HELP Die kuns is om met geduld in te meng wanneer dit nodig is en oplossings te probeer vind, sê Anri.

“Vrae soos ‘Hoe dink jy voel die maatjie as hy nie ’n beurt kry om met die blokkies te speel nie?’ kan help. Eindig met iets soos: ‘Watter plan dink jy kan ons maak?’ Kyk ’n bietjie hoe kreatief ’n driejarige met haar oplossings kan wees!”

IS MY KIND AGTER?

Verskeie faktore speel ’n rol wanneer kinders nuwe vaardighed­e aanleer, sê Heske.

“Die belangriks­te is om jou kind se gereedheid in ag te neem. Dit beteken dat ’n sekere mate van fisieke en emosionele volwassenh­eid nodig is voor jou kind ’n nuwe aktiwiteit kan leer.

“Kinders se ontwikkeli­ng word beskou as boublokke wat op mekaar volg, en jou kind kan nie die volgende blok bou as sy nie die vorige blok goed genoeg bemeester het nie. Navorsing wys dat wanneer kinders heeltemal gereed vir ’n nuwe aktiwiteit is, dit die minimum moeite en motivering verg om hulle dit te laat bemeester.

“Onthou dat elke kleinding uniek is en dat hierdie plek van gereedheid vir almal verskil.”

’n Kleuter se konsentras­ievermoë dra ook by tot die aanleer van nuwe vaardighed­e, sê Heske.

“Kleuters tussen drie en vyf jaar oud kan nie noodwendig lang woordeliks­e opdragte uitvoer nie en leer die beste deur aktiewe nabootsing. Met ander woorde, ons moet hulle wys wat om te doen.

“Dis ook belangrik dat hulle die nuwe vaardighei­d inoefen deur dit oor en oor te herhaal, soms tot ons frustrasie. Gee ook aandag aan terugvoeri­ng. Hulle het nodig dat jy hulle motiveer om aan te hou tot hulle die aktiwiteit bemeester het.”

Anri reken dat as jy ’n gebalansee­rde omgewing skep waarin jou kind onvoorwaar­delike liefde en aanvaardin­g ervaar, ’n omgewing waar jy as ouer ferm en konsekwent, voorspelba­ar en regverdig optree, jou kind teen haar eie unieke tempo kan ontwikkel en floreer.

Hou deurentyd in gedagte dat elke kleinding uniek is.

“Ons leef in ’n tyd waar dit die norm geword het om ons kinders met ander kinders te vergelyk,” sê Anri.

“Baie ouers meet hul waarde as mens aan die hand van hul kinders se prestasie en vordering. Ons verwag partykeer dinge van ons kinders bloot omdat ander kinders dit al kan doen of omdat hulle sus of so is.

“Ek wens so ons kan dit regkry om ons kinders as 100 persent uniek geskape te beskou en ons fokus te verskuif van ander kinders se vermoëns na ons eie kinders se unieke menswees.”

Kinders van drie jaar oud is egosentrie­s en gaan nie maklik hul speelgoed met ander deel nie.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? ANRI VAN DEN BERG, OUERSKAPS-, VERHOUDING­SEN TRAUMABERA­DER VAN PRETORIA
ANRI VAN DEN BERG, OUERSKAPS-, VERHOUDING­SEN TRAUMABERA­DER VAN PRETORIA
 ??  ?? HESKE SANGSTER, KINDERTERA­PEUT EN MAATSKAPLI­KE WERKER VAN PRETORIA
HESKE SANGSTER, KINDERTERA­PEUT EN MAATSKAPLI­KE WERKER VAN PRETORIA
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa