Baba & Kleuter

Rympies vir klein duimpies

Die voordra van rympies en liedjies is ’n prettige en plesierige manier om jou kleinding vroeg al op die grootskool te begin voorberei.

- DEUR SHANDA LUYT BABA & KLEUTER

Rympies is prettig en plesierig en met onlangse boeke soos Rympies vir Kleintjies en Kleuters en Liedjies vir Pikkies en Peuters (albei deur Tafelberg Uitgewers) het geen ouer ’n verskoning om nie vir hul kleinspan rympies voor te lees of te sing nie.

Maar die waarde van rympies is veel meer as pret en plesier, sê Gertie Smit, ’n opvoedkund­ige van Wellington in die Wes-Kaap en ’n vrou met ’n uitgebreid­e kennis van die waarde van rympies en liedjies. Gertie, wat betrokke was by die samestelli­ng van die twee bundels, sê rympies gee jou kind nie net lewensinli­gting nie, maar help ook met skoolvoorb­ereiding.

RYMPIES EN FISIEKE ONTWIKKELI­NG

LEEF GESOND Basiese waardes vir ’n gesonde leefstyl soos gesond eet, higiëne soos gereeld hande was of bad, of slaaptyd kan speel-speel deur rympies aan jou kleuter oorgedra word. “Dit dra alles by tot die gesonde ontwikkeli­ng en groei van ’n kind se liggaam,” verduideli­k Gertie. LIGGAAMSBE­ELD Rympies kan jou kind help om sy liggaamsde­le te herken en te benoem, sê Gertie. Voer dus gereeld aksierympi­es uit waarin die verskillen­de liggaamsde­le benoem of met aksies verbind word. Beweeg lekker saam met jou kind, sê Gertie. Hul rympie “My lyfie is ’n wonderwerk” verwys selfs na die interne organe. PERSOONLIK­E VEILIGHEID Rympies kan ingespan word om jou kind meer weerbaar te maak teen die gevaar van misbruik en kan ook belangrike inligting daaroor oordra. Gertie verwys na hul rympies in die afdeling “Wees versigtig”, wat kinders op ’n spontane manier bewus maak van wat onaanvaarb­are aanraking is en in watter situasies hulle nee mag sê.

RYMPIES EN EMOSIONELE ONTWIKKELI­NG

Daar is talle rympies waarin die sentrale karakter in ’n liefdevoll­e verhouding met die belangrike mense in sy lewe is, vertel Gertie. “Ma se blom”, “As Pappa huis toe kom” en “Wat sê Ouma” is sulke goedvoel-

rympies waarmee kleintjies hulle kan vereenselw­ig.

Jong kinders moet positiewe boodskappe van liefde, aanvaardin­g, respek en waardering van volwassene­s kry sodat hul selfbeeld gesond kan ontwikkel, sê Gertie.

Rympies wat oor emosies soos vrees en hartseer handel, bied kinders weer die geleenthei­d om hulle in sulke situasies te plaas sonder dat hulle dit noodwendig self beleef. “In ‘Liggie by my bed’ help ouma om vrees vir die donker onder beheer te bring en in ‘My hondjie is dood’ maak kinders kennis met die rouproses wat volg op die dood van ’n geliefde troeteldie­r.”

RYMPIES EN SOSIALE ONTWIKKELI­NG

Rympies kan jou kind help leer hoe om by ’n groep in te pas en ander in ag te neem.

“Hulle speel graag met maatjies, maar sukkel soms om dit in vrede te doen. Rympies kan help deur sosiaalvri­endelike gedrag aan te moedig,” sê Gertie.

Sy vertel rympies kan kinders sensitief maak vir die nood van ander en hulle help empatie ontwikkel vir diegene wat swaarkry. “Die rympies in ons bundel vertel onder meer van Janus wat sukkel om te sien, Faried wat hakkel en Cornel wat ’n gehoorappa­raat moet dra.”

Gertie sê rympies kan ook jou kind goeie maniere help ontwikkel. “Kinders moet van vroeg af beleefdhei­dswoorde leer. Rympies soos ‘Groet mooi’ en ‘Belangrike woorde’ kan daarmee help.”

DOEN DIT REG

Lees rympies vir jou kinders voor nes jy saans vir hulle stories voorlees, sê Gertie. Kies rympies wat gerig is op jou kleuter se leefwêreld en daaglikse doen en late.

“Kinders hou daarvan om rympies herhaaldel­ik te hoor. Só maak hulle die inhoud hul eie en begin hulle later om die rympies saam op te sê. Die rympies word nie formeel geleer nie en ’n mens moenie van jong kinders verwag om ’n rympie oor en oor op te sê om dit te memoriseer nie. Kinders luister na die rympies en sê dit saam op omdat dit vir hulle lekker is en wanneer hulle daarvoor gereed is.”

Dit is belangrik dat speletjies met rympies nie in onderrig ontaard nie, waarsku Gertie. Kinders se leergereed­heid ontwikkel oor maande en jare en nie in ’n aand of twee nie.

En die belangriks­te van als? “Geniet die ritme, rym en klank saam met jou kind. Rympies luister moet lekker wees en jou geesdrif maak dit vir jou kleintjie lekker!”

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa