LIEFDEVOLLE VERHOUDINGS
Ontwikkelingswetenskaplikes verwys dikwels na “ryk” omgewings, maar dit moenie met luukse babastootwaentjies en berge speelgoed verwar word nie. Wat hiermee bedoel word, is ’n omgewing wat oorloop van liefdevolle interaksie tussen ’n baba en ’n volwassene, of dit nou ’n ouer of versorger is.
Babas leer nie by speelgoed of ander babas nie. Verskeie studies het gewys hulle het ’n liefdevolle volwassene nodig wat iets bied wat hulle nêrens anders sal kry nie – interaktiewe ervarings wat nommerpas is vir die spesifieke kind se behoeftes en sy manier om met die wêreld kontak te maak. Volwassenes kan met emosies soos liefde en opwinding ’n kind se wêreld ophelder sodat hy weet waar om sy aandag vir die meeste breinvoordeel te vestig. Hulle kan ook ’n ander kernbestanddeel tot ’n kind se groeiende brein toevoeg wat soos water op ’n saadjie sal wees: taal. Woorde, gebare en gesigsuit- drukkings gee betekenis aan alledaagse ervarings en stel babas in staat om ’n beter begrip van die wêreld te kry en intellektueel, emosioneel en sosiaal te ontwikkel. Volwassenes “ontsyfer” die wêreld vir ’n baba soos ’n gids ’n vreemde land vir toeriste verstaanbaar maak. Dié soort interaksie met ’n volwassene is so belangrik dat ontwikkelingsdeskundiges aan die bekende Harvard-universiteit in Amerika ’n klompie jare gelede ’n konsepdokument met die titel “Young Children Develop in an Environment of Relationships” die lig laat sien het. Die dokument haal die Russies-Amerikaanse ontwikkelingsielkundige Urie Bronfenbrenner so aan: “Ten einde normaal te ontwikkel, het ’n kind gedeelde aktiwiteite met een of twee volwassenes nodig wat ál ingewikkelder word. Hulle moet ’n irrasioneel emosionele verhouding met die kind hê. Iemand moet mal wees oor daardie kind, in die eerste plek, en in die laaste plek. Altyd.”