Baba & Kleuter

SÓ LYK DIE WEERSTAND-WEERMAG

-

Jou immuunstel­sel bestaan uit verskeie komponente wat deur jou liggaam versprei is. Elkeen het sy eie, spesifieke funksie. Een van die ooglopends­tes is jou vel, wat die hoofgrens tussen kieme en jou liggaam vorm. Net soos kleefplast­iek ’n toebroodji­e teen goggas beskerm, keer jou vel dat sommige organismes jou liggaam binnekom.

Ons neus, mond en oë is ander poorte waardeur kieme maklik toegang tot ons liggaam kan kry. In sulke gevalle is trane en slym die parate soldate wat van dié vyande ontslae raak.

Sommige nare kieme kry egter tóg op ’n manier toegang tot ons liggaam. Maar wees gerus, binne-in jou liggaam kry hulle met nóg ’n hele klomp soldate van die immuunweer­mag te doen. Hierdie soldate word almal in een van die volgende basisse gebore, versorg of gereed gemaak vir oorlog teen skadelike virusse en bakterieë.

TIMUSKLIER

Die timusklier sit binne-in jou borskas – min of meer tussen jou borsbeen en hart – en is verantwoor­delik vir die vervaardig­ing van T-selle. Dié selle stel onder meer perforerin­gsproteïen­e vry wat aanvalle loods op selle met infeksie, vreemde selle en dié wat kankeragti­g is. Hulle maak hierdie selle letterlik vol gaatjies sodat ander komponente van die immuunstel­sel dit makliker kan uitwis.

Die timusklier is veral belangrik by pasgebore babatjies, want daarsonder sal ’n baba se immuunstel­sel platval en die baba doodgaan.

BEENMURG

Beenmurg vervaardig nuwe rooi- en witbloedse­lle (en triljoene daarvan!), waarvan die wittes waarskynli­k die belangriks­te rolspeler in die immuunstel­sel is. Witbloedse­lle span saam om bakterieë en virusse wat jou liggaam binnedring, te vernietig en is ook verantwoor­delik vir die maak van teenliggaa­mpies. Teenliggaa­mpies merk onder meer “aanvallers” in jou liggaam sodat die vegtersell­e van die immuunstel­sel dit kan vernietig.

MILT

Die milt is ’n vuisgroott­e orgaan ( by volwassene­s) en lê net links van jou maag. Hierdie orgaan filtreer ons bloed en is gedurig op die uitkyk vir vreemde selle in ons bloed of rooibloeds­elle wat vervang moet word. Daar is mense wat sonder ’n milt klaarkom, maar hulle is baie meer gereeld siek as mense wat wel een het.

LIMFSTELSE­L

Die limfstelse­l is vir die meeste van ons taamlik bekend omdat dokters dikwels vir ma’s sê om op die uitkyk te wees vir geswelde limfknoppe in hul kinders se nek. Limfknoppe swel wanneer ons liggaam teen sekere bakteriële infeksies baklei – letterlik as gevolg van al die ekstra selle in die knoppe wat teen die bakterieë oorlog voer.

KOMPLEMENT­STELSEL

Hierdie stelsel werk op sy eie en vervul ’n baie belangrike rol wanneer dit by immuniteit kom. Danksy die komplement­stelsel word proteïenmo­lekules (oftewel komplement­e) deur die lewer vervaardig. Dié molekules bind dan saam in verskillen­de volgordes om verskillen­de funksies te verrig soos om witbloedse­lle te help om vreemde selle op te eet.

HORMONE

Die hormoonste­lsel is nog ’n belangrike deel van die immuunstel­sel. Die gewasuitwi­ssingsfakt­or is ’n voorbeeld van ’n hormoon wat gewasselle kan uitwis, nuwe are kan skep en genesing kan voortbring.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa