RYMPIES & SKOOLGEREEDHEID
Ouers vra dikwels hoe om hul kind skoolgereed te kry, maar Gertie meen die vraag moet eerder wees hoe om te sorg dat jou kind leergereed is teen die tyd dat hy skool toe gaan.
Dit beteken dat die “poorte” waardeur jou kleuter leer – sy oë en ore – ontwikkel moet word. Rympies kan baie help om kleuters se ore sensitief te maak vir die klank en taalstruktuur van Afrikaans.
Gertie verduidelik dat kinders se fonologies bewustheid – hul vermoë om die klankstruktuur van taal te hoor en te gebruik – so ontwikkel.
GROTER BEWUSTHEID VAN WOORDE
RYMWOORDE “Rympies maak kinders van rymwoorde bewus, en dis die eerste stap om die verskillende woorde in ’n sin te onderskei,” sê Gertie.
HELP SÓ Gesels oor die prentjie by die gedig en lees dan die rympie vir die lekkerte daarvan voor. Sê terloops: “Om en blom klink amper dieselfde, nè? Luister, ek lees die rympie weer.” Beklemtoon dan die rymwoorde wanneer jy dit weer lees. Lees dieselfde rympie die volgende aand weer, maar huiwer voor die laaste rymwoord en kyk of jou kleinding dit dalk self voltooi.
As jou kind se oor ná baie blootstelling aan rympies al geoefen is om rymwoorde te hoor, kan julle ’n speletjie speel: “Wat klink amper soos ‘gat’?” Gee leidrade soos: “voor jy gaan slaap, moet jy eers ... ( bad). Jy speel graag met jou blokkies op die ... (mat).”
HERHALING Herhaling kom dikwels in rympies voor en kan kinders help om van individuele woorde bewus te raak, sê Gertie.
HELP SÓ Beklemtoon herhaalde woorde subtiel soos “om en om” of “blom en blom”. As dit lekker gesê kan word, kan jy saam handeklap om nog meer aandag op die individuele woorde te vestig. VRA VAN VRAGIES Die antwoorde op vragies oor ’n gediggie kan jou kleinding na die gebruik van individuele woorde lei.
HELP SÓ Vra speelse vragies nadat die gediggie voorgelees is, soos “Wat dwarrel so om en om?”, “Wie vlieg van blom tot blom?”, “Wie seil tot in ’n gat?” en “Wie brul?”
GROTER BEWUSTHEID VAN BEGINKLANKE
Jou kleinding moet nog agterkom dat woorde eintlik uit klanke bestaan en rympies is die ideale werktuig vir dié leerproses.
HELP SÓ Kies ’n woord uit die rympie en vra: “Wat hoor jy eerste as ek sê ssssseil of ssssslang?” Gebruik eers klanke wat maklik uitgerek kan word soos s, m, n, g, r, v, w, l en j, want jou kleinding hoor dit makliker. Daarna kan jy oorskakel na woorde waarin klinkers en die plofklanke (t, b, d en k) gebruik word.
ONTHOU Alfabetname word nie voor graad 2 gebruik nie. Sê dus “ss” pleks van “es”. Dis omdat klanke gebruik word om woorde te ontsluit, soos wanneer kinders leer lees. Wanneer hulle leer skryf, voeg hulle ook klanke bymekaar om ’n woord te vorm. Alfabetname help in dié gevalle niks.
ONTLUIKENDE GELETTERDHEID
Kinders se ogies word algaande leesgereed wanneer julle gereeld saamlees.
HELP SÓ Jy kan help deur jou kleinding geleidelik en terloops bewus te maak van dinge soos die volgende: die buiteblad met sy prentjie vertel iets oor wat binne- in die boek gebeur, en die name van die mense wat die boek help maak het, staan ook buiteop. Daar is ’n spesiale blad wat ons vertel waar die rympies in die boek is. Kom ons “lees” wat hier geskryf staan.
So leer jou kleinding hierdie proses van kommunikasie verstaan.
Nog maniere sluit in: Elke rympie het ’n naam wat groot daarbo geskryf staan en onderaan is die skrywer se naam. ’n Rympie lyk anders as ’n storie want dit het minder woorde en kort reëls. Die prentjie vertel my meer van die rympie. Party woorde is lank, ander is kort; party reëls is lank en ander nie.