Baba & Kleuter

Slim planne vir ’n eina mond

Alles wat jy moet weet oor tande kry en hoe om van die begin af goeie mondhigiën­e te kweek.

- DR. MARETHA COMBRINK, PEDIATER VAN PRETORIA BABA & KLEUTER DEUR LIBBIE JOUBERT

Sommige babas se eerste tand maak sy verskyning so stilletjie­s dat jy amper voel jy het iets misgeloop. As jy weer sien, lag jou kleinding oopbek met die wit tandjie wat kordaat vir jou loer.

Vir ander babas – en hul ouers – is die geboorte van ’n eerste tand ’n ietwat pynliker affêre. Baba is weke voor die tyd al ongelukkig, kwyl sy borslappe sopnat en hou jou ’n ongewenste aantal nagte uit die slaap voor die groot oomblik aanbreek.

Hoe babas tande kry, is ’n interessan­te storie wat reeds in die baarmoeder begin. Die eerste melktande, oftewel die sentrale snytande wat in die middel voor sit, begin al in maand drie of vier van jou swangerska­p ontwikkel.

Daarna volg die laterale snytande net langsaan op vier en ’n half maande swangerska­p, en die oogtande teen vyf en ’n half maande.

Jou baba se eerste tandjies is dié wat eerste ontwikkel het. Die onderste twee sentrale snytande kom tussen ses en sewe maande uit, dan die boonste twee sentrale snytande (sewe tot agt maande), gevolg deur die laterale snytande (agt tot nege maande), die voorste kiestande (12 tot 16 maande), die oogtande (16 tot 20 maande) en die agterste kiestande (20 tot 30 maande).

Uiteindeli­k spog jou kleinding met altesaam 20 melktande.

Soms word ’n baba met ’n tand gebore. In só ’n geval moet ’n tandarts liefs besluit of die tand verwyder moet word. Hierdie tande is bekend as natale tande. Dit het dikwels geen wortels nie en is aan net die tandvleis vas.

Dieselfde geld vir tande wat verskyn wanneer baba ’n maand oud is, oftewel die “neonatale tande”.

Hierdie tande kan ook baie los wees. Daar is ’n gevaar dat dit só los is dat dit ingeasem word.

Dit kan ook gebeur dat tande heelwat later as normaalweg uitkom.

Dr. Maretha Combrink, ’n pediater van Pretoria, vertel die oorsaak kan oorerflik wees of die gevolg van toestande soos wanvoeding, ’n onderaktie­we skildklier, sindrome en ander chromosoom­afwykings.

“Neem jou baba dokter toe as hy teen 18 maande steeds geen tande het nie. Die dokter sal die oorsaak kan bepaal,” is haar raad.

As die tand ’n abnormale vorm het, moet jou kind by die tandarts uitkom.

MAAK TANDE KRY BABA SIEK?

Kenners verskil hieroor.

“Die meeste babas word moeilik en prikkelbaa­r,” sê Teresa Hayward, ’n privaat suster wat ’n postnatale­sorg-kliniek in Port Elizabeth bedryf.

Volgens haar is tipiese simptome rusteloosh­eid, prikkelbaa­rheid en versteurde slaappatro­ne, seer tandvleis, rooi wange, verlies aan aptyt, ’n effens hoër temperatuu­r, ’n gekwyl en die drang om te kou of byt.

“As ’n kind baie kwyl, kan jy ook die volgende sien: ’n rooi uitslag rondom die lippe en ken, diarree vanweë oormatige speeksel, ’n matige luieruitsl­ag, asook koors en prikkelbaa­rheid weens onsteking van die tandvleis.”

Maretha sê navorsing oor die saak is teenstrydi­g en subjektief.

“Volgens die American Academy of Pediatrics hou die volgende simptome verband met tande kry,” sê sy. • Byt, kwyl en jeukende tandvleis • Prikkelbaa­rheid • Trek of vryf aan oortjies • Veluitslag rondom die mond en lippe • Verminderd­e aptyt vir vaste kos • Matige koors (minder as 39 grade C)

’n Verstopte neus, slaapverst­euring, los stoelgang, verminderd­e aptyt vir vloeistof, hoes en ’n koors bo 39 grade C hou egter geen verband met tandekry nie.

TANDE SE VYANDE

Daar is ’n paar dinge wat jou baba se tandontwik­keling kan ondermyn. Dit sluit in swak mondhigiën­e, blootstell­ing aan suiker, te veel of te min fluoried en sekere antibiotik­a soos tetrasikli­en. Aangebore afwykings speel ook ’n rol.

Die grootste sondebok is egter tandbederf, wat ontstaan as baba met ’n bottel in die mond slaap of ’n peuter heeldag met ’n bottel in die mond rondloop.

Dit is veral die boonste snytande wat aangetas word en dis as gevolg van koeldrank, gegeurde melk en vrugtesap wat gedrink word terwyl jou baba aan die slaap raak. Dit kan ook met gewone melkvoedin­gs gebeur.

Die onderste tande word gewoonlik nie aangetas nie omdat dit deur die tong beskerm word.

Gewoonlik word bakterieë deur die spoeg in die mond geneutrali­seer. Maar as baba met ’n bottel in die mond aan die slaap raak, word sy boonste tande in die melk of sap gebaai.

Die spoeg kan nou nie by die bakterieë uitkom nie. Die suiker in die melk of koeldrank word na sure verander wat die tandemalje laat oplos en tandverrot­ting veroorsaak.

Tandbederf kan die tand en tandwortel vernietig, en kan natuurlik baie seer ook wees.

Daarby kan dit veroorsaak dat die permanente tande later skeef en op mekaar uitkom, want die tydelike tande wat vir hulle plek moes hou, is nie meer daar nie.

PAS TANDJIES SÓ OP

• Moenie jou kind met ’n bottel in die mond aan die slaap maak of laat slaap nie. • Vermy vrugtesap en gegeurde melk wat

baie suiker bevat. • Sodra baba tande het, kan hy begin om elke ses maande ’n tandarts of mondhigiën­is te besoek.

BRING VERLIGTING

Teresa het die volgende raad: • Gee baba ’n sagte tandering om aan te kou – dit sal verligting bring. Veral koue voorwerpe is strelend; plaas die tandering dus eers in die yskas, maar moet dit nie vries nie. • Masseer tandejel in die tandvleis in –

dit bied vinnigwerk­ende verligting. • Pynstropie­s soos Panado of Calpol kan die pyn help verlig en die koors laat daal. Gaan dokter toe as die koors voortduur. • Hou die kenvel droog met ’n borslap en

trek nat klere uit. Gebruik ’n skermroom. • Bied verkoelde (nie gevriesde) jogurt en babakos aan. Die koue sal baba se mond help streel. Jy kan ook afgekoelde kookwater, borsmelk of formulemel­k uit die yskas aanbied.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa