Baba & Kleuter

Tien prettige binnespele­tjies

Met dié 10 aktiwiteit­e verander jy ’n grys winterdag in ’n dag wat leerryk en opwindend is.

- DEUR SHANDA LUYT BABA & KLEUTER

VEILIGE BALLE

’n Kleuter wat heeldag in die huis vasgekeer is, kan baie woelig word. Balle en ’n huis is meestal nie goeie speelmaats nie, maar ’n lekker sagte papierbal kan uitkoms bied. Vra jou kleinding om jou te help en frommel ’n paar blaaie koerantpap­ier om vir julle balle van verskillen­de groottes te maak. As hulle uitmekaar wil val, kan julle dit met aluminiumf­oelie oortrek.

Julle is nou slaggereed vir ’n hele verskeiden­heid speletjies. Julle kan die balletjies om die beurt in ’n asdrom sowat 2 meter (of verder, afhangende van jou kleuter se vaardighei­d) gooi, of julle kan na ’n verskeiden­heid teikens soos kussings gooi. Laat die asdrom op sy sy lê terwyl jou kleinding mooi mik om die bal daarin te skop.

Julle kan ’n gholf- of hokkiestok van die koerantpap­ier maak (draai dit vas met maskeerban­d) en die bal in die asdrommetj­ie probeer slaan. ’n Leë papierhand­doekrol kan ook as kolf werk. Ballonne is ander skadelose binnenshui­se balle – kyk hoe lank julle een in die lug kan hou voor dit die grond raak.

MASKEERBAN­DPRET

Al ooit gedink doodgewone maskeerban­d kan jou help om die winterverv­eling baas te raak? Gee elke kind sy eie rol en omskep saam die kombuis of ’n ander geteëlde deel van die huis in enigiets wat jou kind se hart begeer.

Gee jul verbeeldin­g vrye teuels. Plak die buitelyne van huise op die vloer en rig vir elkeen sy eie plekkie binne hierdie grense in sodat julle huis-huis kan speel. Of plak ’n hele dorp met paadjies en vierkantig­e blokkies vir geboue en sirkels vir bome. Laat die kleinspan met karretjies daarin los.

Bou ’n wedrenbaan en hou wedrenne. Plak dierhokke vir jul eie dieretuin met plastiekdi­ertjies. Laat die kleinspan een vir een plat op die rug lê en plak hul lyfie se buitelyn met die maskeerban­d af sodat dit lyk of daar ’n klomp kinders op die vloer lê. Hulle kan dan met jou hulp vir hulleself gesigte, hare en ander versiering­s byplak.

Julle kan ook die kombuis met die maskeerban­d in ’n reuse nulletjies- en-kruisies- bord omskep, of ’n hinkspelba­an (hopscotch) “teken”.

As jy meer opvoedkund­ig wil wees, kan jy verskillen­de vorms op die vloer plak wat groot genoeg is dat jou kind daarin kan staan. Speel musiek – hy kan rondhardlo­op terwyl dit speel, maar as jy dit afsit en skree “vierkant!” of “driehoek!” moet hy op die betrokke vorm gaan staan.

WAAR KRUIP DIT WEG?

Jy kan dit op ’n verskeiden­heid maniere aanpak. Steek ’n kookwekker weg terwyl die kleingoed in die kamer langsaan wag. Stel die wekker sodat dit sal lui kort nadat jy dit weggesteek het. Sodra dit begin lui, kan die kinders begin soek – die idee is dat hulle na die klank luister en so probeer om die wekker op te spoor voor dit ophou lui.

Nog wegsteekpr­et is om ’n verskeiden­heid van die kinders se gunsteling-speelgoed oral in ’n kamer weg te steek sodat hulle daarna soek. Maak ’n lysie van wat hulle alles moet kry sodat hulle weet wanneer alles gevind is.

Jy kan ook 10 kartonhart­jies in ’n vertrek wegsteek en hulle laat soek tot hulle al 10 kry.

Pak een van elke maat van Snapof geheuekaar­te in julle leefarea uit op meubels soos die bank, koffietafe­l, vensterban­k en stoele. Gee dan vir elke kind vyf kaarte en laat hulle na die identiese maats soek wat in die vertrek rondlê.

Of steek iets weg en sê “warm” as hulle naby kom en “koud” as hulle ver daarvan af is tot jy hulle so tot by die item lei.

SWAAIBAL

Hierdie speletjie gaan ongetwyfel­d tot ’n groot gegiggel lei! Druk ’n appel of tennisbal tot by die voetgedeel­te van ’n ou sykous af. Bind die sykous om jou japsnoet se lyf vas sodat die appel of tennisbal tussen sy voete hang sonder om die grond te raak. Doen jy dieselfde.

Sit ’n tennisbal op die vloer neer en stel vir elkeen doelpale op aan teenoorges­telde kante van die vertrek (dit kan twee kussings wees). As julle meer as twee is, kan julle spanne vorm. Die idee is om die tennisbal te probeer raakslaan met die bal of appel in die sykous sodat julle doele kan aanteken – natuurlik sonder om jul hande te gebruik. Die sykous sal woes rondswaai en dit kan erg komieklik lyk en voel!

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa