Bangmaakflieks: wie durf dit kyk?
Kinderrolprente is deesdae so slim en gesofistikeerd dat volwassenes dit ewe veel geniet – maar word die flieks nie terselfdertyd ál donkerder en ontstellender nie? Kan ons ons kinders nog goedsmoeds na enige kinderfliek toe neem?
Sedert Maurice Sendak se kinderboek Wildekanisland ( Waar die wilde dinge is) in 1963 verskyn het, het die storie die kleinspan óf eindeloos vermaak, óf hul broekspype laat bewe. Dit vertel die storie van Max, ’n stout seuntjie wat sonder kos bed toe gestuur word en dan per boot reis na ’n eiland vol monsters. Dis ’n donker storie wat met enige kinderverbeelding op loop kan sit en die monsters onder jou kind se bed (en in jou onderbewuste) laat uit bars. Max kraai uiteindelik koning, maar toe die boek in 2009 deur die regisseur Spike Jonze en die skrywer Dave Eggers in ’n fliek omskep is, het baie ouers gevoel dit is hopeloos te angswekkend om as kinderkykstof te dien.
Nadat hulle die fliek gesien het, het baie ouers ander ouers afgeraai om hul kinders soontoe te neem. Dit het ’n heftige teenreaksie deur Sendak ontlok, wat aan die tydskrif Newsweek gesê het hy sal hom nie steur aan ouerlike bekommernisse dat die fliek – en die boek ook – te skrikwekkend vir kinders is nie. As kinders dit nie kan hanteer nie, het hy gesê, moet hulle liewer huis toe gaan.
Verlede jaar het dieselfde situasie hom herhaal met die fliek My Little Pony. Sommige Amerikaanse ouers het op openbare forums gemeen dat die fliek glad nie geskik is vir kinders jonger as vyf nie, al is dié ouderdom die grootste teikengehoor. Ouers het gevoel dis heeltemal te vreesaanjaend en het vertel van kinders wat so bang geword het dat hul ouers hulle uit die teater moes neem. Ander ouers kon egter nie begryp waaroor die bohaai is nie.
DIS NIKS NUUTS NIE
Of die hedendaagse kinderflieks, van Frozen tot The Amazing Spider-Man 2, nou meer vreesaanjaend is as hul voorgeslagte of nie, bly daar ’n belangrike punt te maak: Kinderstories bevat al eeue lank ’n element van vrees of gevaar. Dink maar aan die Grimm-broers se grusame sprokies soos Hansie en Grietjie: twee klein kindertjies word in ’n bos agtergelaat deur hul pa en ná ’n vreesaanjaende alleennag word hulle deur ’n mensvretende heks gevang wat hulle in ’n oond wil braai. Kan dit veel erger? Baie ander sprokies is propvol wreedhede en skrikwekkende situasies.
Baie kenners reken dit is dalk die kern van die saak: dat kinderstories veronderstel is om ’n bietjie angswekkend te wees, sodat kinders die emosies van vrees en angstigheid in die gemak en veiligheid van hul eie huis kan ervaar.
’N LEERKURWE
Kinders kan boeke of flieks dalk vreesaanjaend vind, maar ervaar dit baie minder intens as die vertroostende teenwoordigheid van pa of ma daar is. En, soos skrywers maar te goed weet, vreesgevoelens is deel van grootword.
Dink daaraan as vrees in ’n veilige omgewing. Kinders moet oefen hoe om vrees te hanteer, want die volwasse lewe is dikwels angswekkend. Selfs klein diertjies word deur hul ouers geleer om vir die volwasse lewe te oefen. Hulle speelveg en speeljaag mekaar en hul ouers leer hulle hoe om te jag. Dit is dieselfde met klein mensies: Die kinderjare is wanneer hulle oefen hoe om groot te wees.
Kenners redeneer dat ouers wat hul kinders uit die rolprentteater neem die oomblik dat hulle effens bang lyk, die hele punt misloop. Nie net hou kinders daarvan om – binne perke – bang te wees nie (hoekom anders is die uitdagende ritte in pretparke so gewild?), maar hulle het hierdie ervaring van hul meer uitdagende emosies nodig sodat hulle kan leer om weerbaar te word en ’n meer robuuste psige te ontwikkel wat hulle sal toerus met die vaardighede wat hulle later in hul lewe nodig sal hê.
Dr. Angharad Rudkin, ’n Britse kliniese sielkundige, sê dat ’n bietjie vrees gesond kan wees.
“Die meeste ou sprokies en klassieke flieks het ’n bangmaak- element gehad,” sê sy. “Soos opwinding en geluk, is vrees net nog ’n element in die emosiespektrum. En as dit versigtig bestuur word, word dit net nog ’n emosie wat kinders op ’n veilige manier moet leer hanteer.”
Jong kykers of lesers verdwaal nie regtig in ’n donker woud of moet ’n land vol monsters aandurf nie – die kinderkarakters doen dit namens hulle.
“Dis nie hulle wat dit beleef nie, maar die karakter. Hulle ervaar dus hierdie gevoelens indirek, wat dit makliker maak om te oefen hoe dit voel om bang te wees.”
VIND JOU GEMAKSONE
Hoewel die onregstreekse ervaring van vrees oor die algemeen ’n goeie en gesonde ding vir kinders kan wees, moet ’n mens onthou dat sommige kinders buitengewoon sensitief en kwesbaar is, of geneig is tot ontstellende nagmerries. Die laaste ding
wat hulle dan nodig het is vreesaanjaende beelde bo en behalwe dié wat hul ryk verbeelding reeds optower. As jy ’n kind het wat in elk geval baie bang of sensitief is, moet jy hulle liefs nie na hierdie soort fliek neem nie. Daar is geen rede om hulle te dwing om iets te kyk wat hulle duidelik bang maak nie.
Hoe jy jou kinders help om met die angswekkende materiaal om te gaan, hang van hul ouderdom af. Teen agt tot 10 jaar kan jy baie meer met hulle gesels oor wat julle in die fliek sien en saam strategieë uitwerk as hulle dit wel wil sien. As ’n fliek hulle te bang gaan maak, maar hulle dit regtig graag wil sien, kan julle die DVD tuis kyk waar jy enige tyd die stopknoppie kan druk. Dit gee hulle ’n sin van beheer wat hulle nie in die teater het nie.
En, soos die Amerikaanse fliekresensent Eric D. Snider uitwys, moet jy altyd ’n fliek met ’n gelukkige einde kies.
“In kinderflieks moet die held uitdagings in die gesig staar wat ’n mate van gevaar, hartseer of spanning inhou,” sê hy. “Maar hierdie stories is pret omdat die held altyd wen. Hy oorwin die angswekkende dinge en die gehoor deel in sy verligting en vreugde.” Want onthou: Na sy avonture in Wilde
kanisland kom Max huis toe om sy aandete in sy kamer te vind ... nog lekker warm. Hy het ’n ma wat hom onvoorwaardelik liefhet. En watter gelukkiger einde kan daar wees?