Baba & Kleuter

Omseil skoolsiekt­e

Wat doen jy as jou graadnulle­tjie soggens skielik oor maag- of hoofpyn kla om skool te vermy?

- DEUR NIA VISAGIE

Dis niks vreemds dat ’n kind sy gretigheid vir skool ná ’n paar maande van die harde werklikhei­d verloor nie. Ná die opgewondhe­id oor ’n nuwe skoolsak en uniform kan die opwinding stadig begin verdwyn en kan jou kind ontnugter voel by die besef dat skoolgaan eintlik inspanning en werk vereis – en nie net pret en speletjies is nie.

HOEKOM HOU SY NIE VAN SKOOL NIE?

Graad O gaan meestal met baie aanpassing­s gepaard, soos ’n nuwe skool en ’n nuwe onderwyser – daarom is dit te verstane dat dit vir jou kind soos net te veel kan voel. Miskien is die struktuur en roetine van ’n nuwe graad ook strenger as die vorige jaar. As sy boonop tussen nuwe maatjies is, kan dit oorweldige­nd wees.

Dis ook moontlik dat jou kind dalk nie vir graad O gereed was nie en dat sy weens ’n leerproble­em soos aandaggebr­ek of disleksie met van die werk sukkel. As ’n mens te veel sukkel, hou jy naderhand nie meer van die werk nie.

’n Ander rede vir die skielike skoolfobie kan skeidingsa­ngs wees. Jou kind het nie iets teen die skool nie; sy wil net nie van jou geskei wees nie omdat sy bang is iets gebeur met jou of haar terwyl julle van mekaar af weg is.

Dan is daar angstige of oorsensiti­ewe kinders, wat geneig is om te oorreageer wanneer die juffrou streng is of selfs met iemand anders in die klas raas. Dalk het jou kind die vorige jaar ’n baie sagte juffrou gehad, en die nuwe juffrou se manier van doen kan ’n groot aanpassing wees. Onsekerhei­d oor die reëls en die moeilikhei­d waarin sy kan beland, kan haar baie angstig laat voel. Perfeksion­istiese kinders, of kinders met oorbeskerm­ende ouers, kan sukkel om aan te pas en begin hulle onttrek van die leerproses in ’n poging om die risiko van mislukking mis te loop.

Spanning by die huis soos huwelikspr­obleme, finansiële druk of selfs die koms van ’n nuwe baba kan ook meebring dat jou kind nie skool toe gaan nie. In sulke gevalle besef ouers dikwels nie dat die probleem glad nie by die skool lê nie, en hulle hou aan om die kind te ondervra oor wat by die skool verkeerd is, terwyl die probleem eintlik tuis is.

Soms is daar sosiale probleme – ’n kind kan sukkel om by maatjies in te skakel of kan selfs geboelie word.

As jou kind begin kla dat hy nie skool toe wil gaan nie omdat sy maag pyn of hy kopseer het, jok hy nie doelbewus nie. Hy kan werklik dié simptome hê. Soms kan kinders selfs naar word en koors kry.

Sensitiewe kinders oorreageer as juffrou met hulle of selfs iemand anders raas.

HANTEER DIT SO

BLY NEUTRAAL Dis ’n goeie idee om nie die simptome te versterk deur ’n groot bohaai daaroor te maak nie. MOENIE DAAROOR REDENEER NIE Moenie met haar stry oor of sy werklik die simptome het nie – vir haar is dit werklik.

WEES EMPATIES Wys begrip deur te sê: “Ja, ek sien jy voel nie lekker nie” en probeer dan die fokus van die klagtes weglei.

SPEEL SAAM Moet dit nie vir jou siek kind lekker by die huis maak nie. Psigosomat­iese simptome verdwyn gewoonlik wonderbaar­lik sodra die kind toestemmin­g kry om nie skool toe te gaan nie en dan wil sy speel. ’n Kind wat te siek is om skool toe te gaan, behoort in haar kamer te bly of op die bank in die woonkamer te lê – sonder afleiding.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa