WEEK 3
EK WORD MENS
Jou baba word ál meer aan sy nuwe omgewing gewoond. Aanvanklik kan ligte, geraas en naaktheid jou baba onseker laat voel. Dis hoekom hy dit gerusstellend vind om styf in ’n kombersie toegewikkel te wees en sagkens gewieg te word. Teen drie weke oud sal jou baba na jou toe draai as hy jou stem hoor en ligte en ander geluide sal hom nie meer laat skrik nie.
Jou baba word ook nou meer sosiaal en raak daaraan gewoond om deur ander mense vasgehou te word. Party babas hou daarvan om drukkies te kry, maar ander kan kla. Beproef verskillende posisies en susmetodes, en jou baba sal mettertyd leer om deur aanraking getroos te word.
Ma’s met nageboortelike depressie kan die toestand nou op sy ergste ervaar. Versteurde slaap, die eise van voeding, aanpassingshormone, die spanning van ouerskap en ander onderliggende kwessies begin hul tol eis. Bespreek jou gevoelens met jou dokter, want vertraagde binding met jou baba kan later ’n probleem wees. Dit help om met iemand te praat.
JOU BABA SE GESONDHEID
In die eerste weke kan die kleur en die aanhoudendheid van jou baba se stoelgang jou verbyster. Sy eerste stoelgang is ’n dik, taai, swart slym genaamd mekonium. Wanneer borsmelk makliker verteer word, verander baba se poef na enigiets van olyfgroen tot helder mosterd. Dis dikwels sag en skuimerig – so raak die natuur van die ekstra bilirubien in jou baba se stelsel ontslae.
Bottelbabas het ’n fermer poef wat taamlik sterk ruik en soos ’n groen pasta lyk. Dis normaal dat ’n bottelbaba net een vuil doek per dag het, en hulle raak ook makliker hardlywig. Vra eers jou dokter of suster voor jy enige boereraat volg.
SPESIALE TYD
Maak voedings spesiaal. Sorg dat jy gemaklik in ’n wiegstoel of ander geriefstoel sit. Ondersteun jou rug met ’n kussing en plaas jou voete op ’n voetstoeltjie. Hou ’n paar tydskrifte, iets om te drink en ’n gesonde peuselhappie byderhand. Geniet die oog-totoog-kontak met jou baba, wat jou stem ken en graag daarna luister. As jy bottelvoed, onthou om kante te ruil soos met borsvoeding. Dit stimuleer jou kind se koördinasiesin.
BABA LYK NOU SÓ
Jou baba se oë is blou, blougrys of swart. Sy permanente oogkleur word eers teen drie maande sigbaar. Baba knip van tyd tot tyd sy oë tot sy oogspiere sterker is.
JOU BABA SE SLAAP
Navorsing wys jy moet jou baba op sy rug aan die slaap maak. Jy kan hom met ’n wig of opgerolde handdoek in posisie hou. Die voorkoms van wiegiedood het aansienlik afgeneem sedert ma’s hul baba so aan die slaap begin maak en babas nie op hul magie laat lê het nie.
Baba het nie kussings of duvets nodig om op te slaap nie. Hou knuffelspeelgoed met linte en knope uit die wiegie; dis ’n veiligheidsgevaar. Hou die kamer se temperatuur tussen 20 en 22 grade C en skuif die bedjie weg van die muur en venster.
Kies ’n ferm matras met ventilasiegate. Gebruik komberse en lakens van suiwer katoen en stel die matras ’n paar uur per week lank aan vars lug en sonskyn bloot.
WAT BETEKEN JOU BABA SE HUIL?
Noudat jy jou baba beter ken, kan jy ook sy huilpatrone onderskei: • Die hongerhuil is ontroosbaar. • Die pynhuil is hartroerend en jou baba kan so huil wanneer hy te styf toegedraai word, die motorstoeltjie se gordel in sy vel insny, of wanneer luieruitslag sy boudjies brand. • Die skrikhuil is skielik, ’n dringende hulproep (soos as ’n hond skielik blaf en hy skrik). Jou baba word ewe vinnig getroos wanneer ’n volwassene hom “red”. • Die moeghuil is rusteloos, gefrustreerd en hou aan en aan. Wieg jou baba aan die slaap. • Die frustrasiehuil kan voorkom wanneer dit te lank duur om hom aan te trek of sy doek te ruil. • Die siekhuil klink asof dit te veel moeite is om te huil – selfs onervare ma’s sal dadelik weet iets is verkeerd. Jou baba sal nie trane huil voor hy sowat vier weke oud is nie.
MYPALE IN WEEK 3
Jou baba se bewegings is reeds meer gekoördineerd en minder rukkerig. Hy kan sy arms en bene onafhanklik en vrylik in sirkels beweeg en geniet dit om te skop en in die bad te spat. Jou baba leer ook om hom self te troos deur sy vuisie of vingers te suig of dit naby sy gesig te hou.