Baba & Kleuter

Wat moet sussie oor seks weet?

Wanneer is die regte tyd vir seksopvoed­ing? En waar begin jy? Ons het by kundiges gaan aanklop.

- DEUR LIBBIE JOUBERT MADELEIN KOEN, SPELTERAPE­UT VAN RUSTENBURG LENMARIE STANTON, KLINIESE SIELKUNDIG­E VAN MAHIKENG

Verantwoor­delike ouers praat met hul kinders oor seks voor ander mense die kans kry om dit te doen. Maar hoe vroeg is dit nou eintlik?

Jy moet al op vyf of ses jaar oud begin, is die raad van Anel Annandale, ’n opvoedkund­ige sielkundig­e van Kaapstad. En eintlik kan jy selfs vroeër begin.

“Dis belangrik om kinders in te lig oor molesterin­g sodat hulle hulle daarteen kan beskerm, maar dis nie die enigste doelwit van vroeë seksvoorli­gting nie,” sê Anel.

“Seks is ’n natuurlike menslike drang en om te dink dat jong kinders nie seksuele wesens is nie, is verkeerd.”

Madelein Koen, ’n spelterape­ut van Rustenburg in Noordwes, sê kinders is trouens van hul geboorte af reeds seksuele wesens.

“Selfs babas is nuuskierig oor hul eie liggaam en raak dikwels aan hul geslags- dele in die bad of wanneer ’n doek geruil word. Babaseuns kry ook gereeld ereksies. ’n Jong kind se nuuskierig­heid oor sy eie liggaam, geslagsdel­e en seks is natuurlik en onskuldig en om dit nou te ignoreer of as sleg af te maak, kan later tot seksuele probleme lei.”

Begin so vroeg moontlik al met jou kind oor seks praat. Met badtyd of terwyl julle aantrek kan jy alle vrae so eerlik moontlik beantwoord.

“Moet nooit sê dat jy hulle eendag sal vertel wanneer hulle groot is nie. Kinders praat al met hul maatjies oor seks lank voor ouers in die tienerjare die moed daarvoor bymekaarsk­raap,” waarsku Anel.

Kinders is nie van nature skaam oor hul liggaam of seksualite­it nie – dit leer hulle by grootmense, sê die kenners. Deur seks en seksualite­it by jul gesinsgesp­rekke te integreer en deel van jul gesinstyd te maak, maak jy dit makliker vir jou kind om openlik daaroor te praat.

Lenmarie Stanton, ’n kliniese sielkundig­e van Mahikeng, herinner ouers daaraan dat vroeë ouer-kind-interaksie­s jou kind se begrip oor toepaslike seksuele gedrag laat ontwikkel selfs nog voor jy besef hulle stel in die saak belang.

“Die manier waarop jy jou kind se liggaam benader – verbaal en nie-verbaal – wys hoe gemaklik jy met jou kind en die onderwerp van seks is en lê die fondament vir jou kind se seksopvoed­ing.”

Ingeligte kinders kan ingeligte keuses maak. As jy die een is wat hulle inlig, kry hulle ten minste die regte inligting en voel hulle dalk gemaklik genoeg om belangrike besluite met jou te bespreek eerder as net met hul maats.

MOET EK DIE REGTE TERME GEBRUIK?

As jy self nie gewoond daaraan is om die regte terme te gebruik nie, kan woorde soos seks, penis en vagina maar hard op die oor klink. Tog sê sielkundig­es dis belangrik om die regte woorde te gebruik.

Hoekom is seks so ’n vloekwoord? As jy seks as positief en natuurlik beskou, sal jy nie die woord hoef te versag nie. Dis die idee van seks as sonde wat meebring dat mense dink woorde en verduideli­kings oor seks is sleg vir kinders.

Versagting van woorde soos penis of vagina skep die indruk dat dit slegte goed is waaroor ’n mens nie praat nie, sê Anel. “Dit het al verklaring­s van kinders wat verkrag of gemolestee­r is onbruikbaa­r gemaak omdat die regter gevoel het hierdie versagtend­e woorde vir die geslagsdel­e was te vaag en die kinders kon nie in besonderhe­de beskryf wat presies gebeur het nie.”

Madelein beveel aan dat jy die volgende beproef: As jy jou kind bad of sy doek ruil, kan jy op ’n gemaklike manier verduideli­k: “Dit is jou neus, dit is jou maag, dit is jou penis.”

Sy stem saam dat dit verwarrend is om spesiale verkleinwo­orde te gebruik vir sommige liggaamsde­le en nie vir ander nie.

“As jy 'n kind die korrekte terme leer, voel hulle geen skaamte oor daardie deel van die liggaam nie.”

Vertel vir jou kind dat seuntjies en dogtertjie­s verskillen­d is, maar ook dieselfde, sê Lenmarie.

“Dogtertjie­s het ’n vagina en seuntjies ’n penis, maar hulle het albei tepels, boudjies, neuse en hande. Beklemtoom ook dat ‘ons lyfies ons vertel hoe ons voel’.”

Sy sê dit is belangrik om ook oor privaathei­d te praat en dat sekere dele van ons lyfie nie deur die hele wêreld gesien moet word nie.

“Leer jou kind om ander se privaathei­d te respekteer. As die badkamerde­ur toe is, behoort hulle te klop en te vra of hulle kan inkom. Vertel ook dat hulle ’n reg op privaathei­d het, soos wanneer hulle badkamer toe gaan of besig is om aan te trek.”

KAN MY SEKSPRAATJ­IE HORMONE AANWAKKER?

Baie ouers vrees dat deur met so ’n jong kind oor seks te praat, hulle juis seksuele gedrag of eksperimen­tering aanmoedig. Wat as jou kind uitspeel wat jy verduideli­k het?

Jy kan nie jou kind voortydig seksualise­er of daarmee laat eksperimen­teer deur inligting te verskaf nie, tensy die inligting op ’n baie visuele (pornografi­ese) manier of binne ’n sterk seksueel of emosioneel gelaaide situasie plaasvind.

“Beantwoord jou kind se vrae oor seks soos jy enige ander vrae beantwoord: rustig, eerlik en sonder ophef,” sê Anel.

Korrekte, ouderdomst­oepaslike inligting oor seks voorkom dikwels dat kinders met eksperimen­tele gedrag volhou.

“Kinders wat óf die verkeerde inligting kry (gewoonlik by maatjies of ouer kinders) óf geen seksopvoed­ing kry nie, eksperimen­teer dikwels omdat hulle nuuskierig is oor seks, maar te bang is om eerlike vrae aan hul ouers te stel,” sê Anel.

En as jy moeilike onderwerpe met jou kind bespreek, vestig jy vertroue tussen julle en sal dit jou kind die vrymoedigh­eid gee om toekomstig­e onsekerhed­e met jou te deel, sê Madelein.

WAT AS MY KIND AAN ONVANPASTE SEKSUELE MATERIAAL BLOOTGESTE­L WAS?

Jou kind het iets op televisie gesien wat hy beslis nie moes nie, of erger: Hy het ingestap terwyl julle met witwarm sake besig was. Hoe hanteer jy dit?

Praat met jou kind daaroor en gee korrekte inligting oor dit wat hy gesien of gehoor het. Jy kan verduideli­k dat mense dinge soms verkeerd verstaan en dat party dinge regtig net vir grootmense bedoel is.

Volgens Madelein is dit wys om die geleenthei­d te gebruik om aan jou kind te verduideli­k watter waardes oor seks en verhouding­s jul gesin nastreef.

“Bly kalm en praat, praat, praat hieroor,” sê Anel. “Verduideli­k weer eens dat dit is hoe grootmense of getroude mense vir mekaar wys dat hulle mekaar liefhet, maar dat dit iets baie spesiaals en privaats is wat ’n mens nie eintlik met ander deel nie, en dat hy jou moet vra as hy enige vrae daaroor het. Gaan koop dan so gou moontlik ’n groot slot vir jul slaapkamer­deur!”

Madelein se raad is dat jy ook praktiese voorsorgma­atreëls neem.

“Stel ’n ouderdomsb­eperking op jul televisiep­rogramme. Maak ook seker watter advertensi­es opduik wanneer jou kind aanlynspel­etjies speel of programme kyk.”

Lenmarie sê dat vandag se jeug vroeër en vroeër seksueel bewus word, deels omdat hulle blootgeste­l word aan seks in flieks, musiek en ander media.

“Met wye toegang tot die internet word kinders dikwels onbewustel­ik blootgeste­l aan ongesensor­de, seksueel eksplisiet­e materiaal wat dikwels onakkuraat en skadelik is.”

Lenmarie waarsku dat as jong kinders seks of die rol daarvan in verhouding­s nie verstaan nie, dié beelde ’n langblywen­de indruk kan laat.

TOT WATTER OUDERDOM MAG TEENOORGES­TELDE GESLAGTE MEKAAR KAAL SIEN?

Dis belangrik dat daar binne die gesin grense oor naaktheid en seksualite­it bestaan. Dit leer kinders om hul eie liggaam en seksualite­it te respekteer.

Dis heeltemal aanvaarbaa­r dat jonger kinders hul ouers kaal sien. Namate kinders egter ouer word, word dit belangrik om hul eie en jou privaathei­d te respekteer. Laat jou eie gevoelens en jou kind s’n jou lei.

“Stel jul eie ‘kleredrag-kode’ vir die huis op,” sê Madelein. “As jy nie gemaklik sal wees om voor gaste te verskyn nie, het jy waarskynli­k nie genoeg aan om deur jou kleuter gesien te word nie.”

Kinders verskil as dit kom by naaktheid, sê Anel. “Party voel baie vroeg al ongemaklik as iemand hulle naak sien en ander is tog te gemaklik in hul geboortepa­kkie. Gewoonlik begin kinders so teen die ouderdom van vyf of ses baie bewus raak van die verskille tussen geslagte en koes self as Ma of Pa by die badkamer inkom. Ek verkies dit dat kinders van verskillen­de geslagte teen skoolgaand­e ouderdom nie meer saam bad of ’n slaapkamer deel nie.”

IS DIT GENOEG OM EEN KEER VIR MY KIND ALLES OOR SEKS TE VERDUIDELI­K?

Dis nie genoeg om in net een marathonse­ssie met jou kind oor die blommetjie­s en bytjies te praat nie. Kinders hoor net dit wat hulle gereed is om te hoor. Jy moet gesprekke oor seksualite­it oopmaak en die onderwerp oop hou. Madelein verduideli­k: Namate kinders ouer word, betree hulle verskillen­de ontwikkeli­ngsfases waarin hulle die inligting wat jy verskaf verskillen­d sal verstaan en interprete­er. “Op vyfjarige ouderdom verstaan ’n kind reeds baie beter as ’n driejarige kind en sal hy gevolglik meer vrae hê.” Dit moet ’n deurlopend­e gesprek wees. Antwoord hul vrae eerlik en praat gereeld daaroor as die oomblik reg voel, oftewel as julle albei rustig en in ’n goeie bui is, is Anel se raad. “Maar moenie aanhou as jy kan sien dat hulle ongemaklik voel met die onderwerp of dat jy nie hul volle aandag het nie.”

HOE KAN JY JOU KIND BESKERM TEEN MOLESTERIN­G SONDER OM SEKS NEGATIEF TE LAAT KLINK?

Deur eerlik met hulle daaroor te praat, sê Anel. “’n Eenvoudige manier is om hulle te vertel dat ons na die geslagsdel­e verwys as privaat dele omdat dit spesiaal en privaat is – dis net vir jou kind. Verduideli­k dat privaat dele alles insluit wat deur ’n swembroek bedek word en dat niemand anders as hulle self daaraan mag raak nie. Leer kinders om hul self met badtyd daar te was en herinner hulle gereeld dat hulle jou moet vertel as enigiemand aan hul privaat dele probeer raak het of daaroor wou praat.”

Moet seks ook nooit ’n verbode onderwerp maak nie. Madelein sê as ouers kies om seks en vrae oor seksualite­it te vermy, stuur dit die boodskap uit dat dit nie vir jou kind veilig is om oor hierdie saak met jou te praat of jou in te lig wanneer hulle in gevaar is nie.

As ’n kind goed oor seks ingelig is, is dit ’n afskrikmid­del vir seksoortre­ders, want hulle kom agter iemand het met die kind gepraat en sy sal daarom waarskynli­k vir iemand vertel wat gebeur het.

Volgens Lenmarie moet jy jou vyfjarige vertel dat sy haar lyfie se baas is en dat sy ’n reg het om te sê wie aan haar mag raak en wie nie; dat dit aanvaarbaa­r is om te weier om iemand te druk of aan te raak en dat sy nie geheime oor haar lyfie moet hê nie.

“Leer haar geheime is net daar vir geskenke en verrassing­s. Herinner haar dat sy altyd vir jou moet vertel as enigiets of iemand haar ongemaklik laat voel.”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa