Baba & Kleuter

Ek leer nog my emosies ken, mamma

Help jou kind om sy emosies beter te verstaan – en dit dan beter te hanteer.

- DEUR KAREN VAN DER BERG

Sy het yskoud geword toe sy haar driejarige seuntjie met ’n baie skerp kombuismes op die grasperk sien hardloop, vertel Lizane van Jaarsveld (31) van Bloemfonte­in.

“Ek het probeer kalm bly en stadig na hom gestap en gevra dat hy die mes vir my gee. Hy wou natuurlik nie, want die nuwe speletjie was te lekker.”

Lizane het die mes by hom afgeneem, dankbaar dat hy hom nie raakgesny het nie. Hy het begin huil, op die gras neergeval en 10 minute lank geskree – salig onbewus van hoe naby hy aan ’n aaklige mesongeluk was.

ONTSPAN: DIS NORMAAL

Dis heeltemal normaal dat kinders woedend op ons besluite reageer. Dit wat jou kleuter van die wêreld verstaan is nie dieselfde as wat jy daarvan begryp nie. ’n Skerp mes, ’n hoë muur of ’n glasbottel is vir hom net ’n speelding, iets waarmee hy sy wêreld kan ontdek.

’n Kleuter se brein het nog nie klaar ontwikkel nie en hulle het nie vorige ervarings waaraan hulle situasies kan meet nie. Daarby kan hulle nie tussen hul emosies onderskei of dit reguleer nie, sê die Bloemfonte­inse voorligtin­gsielkundi­ge Eloise Venter.

Ouers is daar om hul kinders veilig te hou, te leer waarom sekere dinge gevaarlik is en om die gepaardgaa­nde emosies te help reguleer.

BREINTJIES WAT NOG LEER

Erna Liebenberg, ’n onderwysku­ndige, en Madie van Niekerk, ’n arbeidster­apeut van Bloemfonte­in, bied gereeld kursusse oor voorskools­e kinders aan. Volgens hulle word kinders se sosiale en emosionele ontwikkeli­ng deesdae dikwels afgeskeep as gevolg van die enorme akademies druk wat in skole heers – ja, selfs in die kleutersko­ol.

Een van die grootste geskenke wat ’n ouer dus aan haar kind kan gee, is goeie emosionele vaardighed­e.

As ’n mens verstaan hoe ons brein werk, verstaan ’n mens ook waarom kleintjies reageer soos hulle reageer, sê Madie. • Prikkels wat deur ons sintuie ontvang word, reis na ’n struktuurt­jie in die brein wat die talamus genoem word. • Die talamus is die verkeersbe­ampte wat

al die prikkels na die regte plekke stuur. • Die prikkels gaan eers na die neokorteks, wat soos die rekenaar van die brein is en boodskappe verwerk. • Daarna reis die prikkel na ’n senuweebon­del wat die amigdala genoem word. Die amigdala speel ’n groot rol in die verwerking van emosies. Die prikkel word hier as’t ware in gedrag omgeskakel, en die gedrag wat gekies word, is op vorige ervarings geskoei. • Soms stuur die talamus die prikkels reguit amigdala toe, wat die reaksie vinniger maak. Dan is gedrag sonder denke die gevolg. Dit gebeur dikwels met voorskools­e kinders omdat hulle nog nie die ervaring het om hul gedrag op te skoei nie.

’ n Kleuter se brein het nog nie sy gevoelens leer hanteer nie.

DIE KUNS VAN EMOSIE-LESSE

Jou kind se sosiale en emosionele ontwikkeli­ng het te doen met sy ervarings, sy vermoë om sy emosies uit te druk en te beheer, en sy vermoë om positiewe verhouding­s met volwassene­s en ander kinders te vestig, sê Erna.

“Omdat ons almal so besig is, word hierdie ontwikkeli­ngsveld dikwels afgeskeep en dink ons dit sal vanself gebeur. Dis nie die geval nie. Jou kind se emosionele en sosiale vaardighed­e moet nes sy fisieke vaardighed­e aktief ontwikkel word.”

Van geboorte tot sewe jaar leer jou kind hierdie vaardighed­e deur jou na te boots, en van agt tot 15 jaar kom formele en informele lesse by.

“Gun hulle altyd tyd vir rypwording,” sê Erna. ”Ons verwag dikwels meer van kinders as waartoe hulle in staat is omdat hulle nie hul emosies kan reguleer nie.”

Ons taak is om vir ons kinders met die verf en kwaste toe te rus en hulle toe te laat om hul eie prentjie te verf. Beproef gerus dié ”verf” en ”kwaste”, is Erna en Madie se raad:

■ SPEEL Sit saam met jou kind op die mat, ”gooi” vir hom ’n emosie en sê ”vang my hartseer”, ”vang my glimlag” of ”vang my kwaadwees”. Laat hom die emosie wys wat hy moet vang, en gee hom dan kans om ’n emosie te gooi.

■ LEES SAAM BOEKIES en gesels oor die emosies wat die karakters ervaar.

■ GEE INDIVIDUEL­E AANDAG As jy meer as een kind het, neem een kind op ’n slag op ’n uitstappie. Dit versterk jul band.

■ MAAK VINGERPOPP­IES met verskillen­de emosies en hou daarmee konsert.

■ KYK SAAM NA FOTO’S op jou selfoon en gesels weer oor die gebeure van ’n sekere dag, en wat jou kind toe gevoel het.

■ NEEM HOM ERNSTIG OP Moenie maak asof sy gevoelens onbelangri­k is nie; gesels met hom daaroor.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa