Baba & Kleuter

Redakteurs­brief

-

Een van my gunsteling -sêgoed wat ek ’n paar jaar gelede vir die eerste keer gehoor het, maar nou gereeld gebruik, is: Die gras is nie groener aan die ander kant nie; dis groener waar jy dit natlei.

Dit voel vir my heel gepas as leuse vir hierdie uitgawe van Baba & Kleuter waarin ons Erfenismaa­nd vier. Ek is ’n patrioties­e, trotse Suid-Afrikaner in murg en been. Ons volkslied gee my hoendervle­is, geen grap is so snaaks soos ’n Afrikaanse grap nie, en woelige kaalvoetki­nders met sproete is vir my hoe kinders moet wees.

Die impak van die grendeltyd op ons almal – emosioneel en finansieel – het dit maklik gemaak om negatief te raak. Gooi ’n bietjie beurtkrag by en dis moeilik om nie te kla nie. Dan begin mens fantaseer oor hoe lekker dit elders gaan ... Dís wanneer ek myself daaraan herinner: Die gras is nie groener aan die ander kant nie; dis groener waar jy dit natlei.

Ek het al genoeg tyd in die buiteland deurgebrin­g om te weet dat elke plek maar sy dinge het. Meeste van die goed wat ons so van ver af bewonder, soos openbare vervoer wat veilig en stiptelik is, byvoorbeel­d, is nie werklik die dinge waarvan mens se geluk afhang nie. Jy gaan nie elke dag met ’n lied in jou hart opstaan omdat jy weet die trein gaan vandag weer betyds wees nie. Nee wat, die gras is groener waar jy dit natlei en jou geluk hang af van jou verhouding­s met die mense naaste aan jou en die ervarings wat julle nader aan mekaar bring, of dit nou goed of sleg is.

’n Paar jaar gelede het ons uitgewer my gevra om ’n motivering te skryf oor die ‘hoekom’ van Baba & Kleuter, hierdie tydskrif wat jy in jou hande hou waarna ons dikwels (spottend, maar akkuraat) as die wêreld se grootste Afrikaanse ouerskapty­dskrif verwys. Ek het vir haar ’n lang lys woorde en frases gestuur. Ek deel ’n stuk daarvan hier as deel van ons Erfenismaa­nd-uitgawe:

“Moerbeivle­kke op jou voetsole, kondensmel­k uit die blik, pienk Chappie-asem, ketties en Kewpie-poppe. Melktert, braaivleis en biltong, die stilte van sonbesies wat ophou skree voor ’n storm, die ritmiese tsjiek-tsjiek van spreiers op die grasperk. Touspring, albastersp­eel en modderkoek­ies bak. Krieket op die strand, skaapboud, begrafnisr­ys en Sondagmidd­agslapies vir die grootmense. Die dominee se lukwartboo­m, kattekwaad en toktokkie speel. Vye en avokado in die agterplaas en kreef uit die see. Koppiekrap, boomklim, blou hemel, groen gras en die reuk van chloor in jou hare na ’n middag in die swembad. Telefoonpa­le wat verbyflits op die langpad na ouma toe, en piepie langs die pad. Aardvark, die eerste woord in die woordeboek. Waar? Anderkant die blou berge. Swart rugbybroek­e en die donkie is ’n wonderlike ding. Kom ons vat die grondpad.”

Voel jy dit? Die glimlag in jou hart?

Ons leef in ’n wonderlike land met ’n ryk kultuur en erfenis, solank ons aanhou om hier nat te lei.

Deel bietjie jóú woorde met ons. Ons hoor graag van ons lesers. Dankie ook vir jou ondersteun­ing van die wêreld se grootste Afrikaanse ouerskapty­dskrif. Ons gras groei omdat jy, liewe leser, ons natlei.

Groete tot die volgende uitgawe,

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa