Baba & Kleuter

Streel jou eie sintuie

Almal is bekommerd oor ’n baba se sensoriese gesondheid, maar wat van die arme ma wat skielik aan ’n ongekende lawaai, onverstaan­bare boodskappe en vreemde nuwe reuke en roetines blootgeste­l is?

- DEUR DR. ANNEMARIE LOMBARD, ARBEIDSTER­APEUT

Ons lees altyd hoe ons bedag moet wees op ons nuwe baba se sensoriese ontwikkeli­ng, hoe ons moet seker maak hy kan hoor en sien, hoe ons hom nie moet oorlaai met sintuiglik­e ervarings ná nege rustige maande in die baarmoeder nie, hoe ons kan agterkom as ons baba ’n sintuigpro­bleem soos tasweersin het.

Maar wat van jou, die arme ma, en jou eie sintuiglik­e oorlading? ’n Skreeuende kleinding kan jou teen die mure uitdryf, stink doeke kan jou maag laat draai, en die kleurskema wat boeke vir babakamers voorstel omdat dit glo breintjies help ontwikkel, val nie noodwendig in jou smaak nie ...

Jou dag wissel tussen episodes van absolute stilte (sjt, die baba moet slaap!) tot huilsessie­s wat nooit end kry nie. Dis jou taak om te probeer ontsyfer wat jou baba van jou verwag en dan moet jy maar hoop en bid jy’t die regte ding gedoen.

Min mense neem die sensoriese drumpels van nuwe ma’s in ag. Ma’s met ’n hoë sensoriese drumpel kan gewoonlik aanhoudend­e en intense sensoriese prikkels verduur. Hulle kry dit reg om vir kort oomblikke af te skakel en kalm te bly en tob nie heeltyd oor wat alles verkeerd kan loop nie.

Daarteenoo­r reageer ma’s met ’n lae sensoriese drumpel baie vinniger en intenser op sintuiglik­e prikkels. Hulle is gewoonlik meer gespanne, vind dit moeiliker om te borsvoed en voel dikwels oorweldig.

Dis nou maar ’n feit soos ’n koei: Jy is sensories met jou baba verbind. As jy jou sensoriese reaksies onder beheer kry, sal dit syne ook baat. Volg gerus hierdie eenvoudige strategieë om die spesiale tyd saam met jou baba vir julle albei op sensoriese vlak so aangenaam moontlik te maak.

REUK

Jou baba herken jou hoofsaakli­k aan jou reuk omdat sy sig aanvanklik nog te swak ontwikkel is. Hoewel babas baie staatmaak op hul reuksintui­g vir kos en vertroetel­ing, sal jy oorlaai word met onwelrieke­nde reuke in die vorm van vuil doeke, suur braaksel en ander interessan­te uitwerpsel­s. Jy raak egter gou daaraan gewoond.

Raak vinnig en doeltreffe­nd van vuil doeke ontslae. Belê in ’n doekedrom wat die slegte reuke verban. Hou die spoegdoek byderhand wanneer jy winde uitvryf sodat jy nie heeltyd skoon klere hoef aan te trek nie. Jy sal ook beter voel as jy vars ruik.

Moenie parfuum dra nie, want dit kan jou baba se sensoriese stelsel oorlaai.

SMAAK

Babas soek en identifise­er hul bron van voedsel met die hulp van hul smaak- en reuksintui­g.

Gelukkig het hulle nie driegang-maaltye nodig nie en is melk, uit die bors of bottel, in dié stadium meer as genoeg.

Eet gesond en sien om na jouself. Onthou dat jy net ’n goeie ma kan wees as jy jouself ook mooi oppas.

As jy borsvoed, wees versigtig vir kosse wat jy kan agterkom jou baba se spysverter­ing aantas.

BEWEGING

Dit kan ’n baie bevredigen­de ervaring wees om jou baba liggies te wieg of om met hom te gaan stap.

Jy kan nie ’n pasgebore baba bederf nie; loop dus gerus met hom rond. Sit hom in ’n drasak as jy in die huis besig is en hou jou baba teen jou lyf.

As jy voor jou baba se koms gereeld geoefen het, gaan daarmee voort. Beweging is die beste manier waarop jy jou sensoriese stelsel kan reguleer.

As jy nie by ’n gimnasium kan uitkom nie, gaan stap ten minste. Dit help ook om van die ekstra kilogramme ontslae te raak.

AANRAKING

Aanraking is ’n baba se primêre taal en dis baie belangrik vir die vorming van ’n band met hom. Jou aanraking laat jou baba geborge en veilig voel.

Jy gebruik jou tassintuig as jy jou baba bad of borsvoed, en babas gebruik die tasresepto­rs in hul mond om die bron van hul voedsel te soek.

Vra jou lewensmaat om jou ’n baie ferm massering te gee (diepdruk is kalmerend vir die brein) wanneer jy oorlaai of gespanne voel. Of laat jou by die spa masseer – jy verdien so ’n uitstappie!

Ontspan in ’n lang, warm bad.

Maak jou toe met ’n swaar deken of sit ’n lensie- of boontjiesa­k op jou skouers of jou skoot.

GERAAS

Babas kommunikee­r hoofsaakli­k met jou deur te huil. Dis die enigste manier waarop hulle jou kan laat weet hulle is nat, vuil, honger of ongemaklik.

Daar is egter ook babas wat meer ongemaklik is as ander, veral dié met koliek. As jou baba koliek het, kan dit voel of 100 skroewedra­aiers gelyktydig in jou kop ingedraai word.

Vestig gou ’n roetine. As jy jou baba se behoeftes kan voorspel, sal jy makliker daarin kan voorsien en dis beter vir jul albei se sieleheil.

Gebruik jou ondersteun­ingstelsel – jou ouers, skoonouers, huiswerker of vriende – en kom ’n bietjie weg. Jy mag maar! Ja, jy kan nie vir twee dae weggaan nie, maar twee uur sal reeds ’n groot verskil maak.

Speel ’n bietjie Mozart. Dis goed vir die ontwikkeli­ng van jou baba se brein en sal julle al twee kalmeer.

VISUEEL

Jou baba se visuele stelsel is nog swak ontwikkel en daarom word basiese kleurkontr­aste gebruik om sy gesig te stimuleer. Minder is egter beter.

Kyk TV as jy oorlaai voel – dit kan jou laat bedaar.

Raak ontslae van onnodige items wat rondstaan. Dit kan jou sinne oorlaai.

Dra sagter pastelkleu­re as jou baba moeilik is, want wit, rooi en swart kontraste kan hom oorstimule­er.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa