Baba & Kleuter

Waar slaap baba?

Op watter plek kan jou baba sy nagrus die beste geniet? Dit klink na ’n eenvoudige vraag, maar dis vir baie ouers ’n regte kopseer.

- DEUR NIA VISAGIE

Jy sal nie sommer oornag kan besluit waar jou baba moet slaap nie. Jy het dalk voor sy geboorte ’n spesifieke mening daaroor gehad, maar wanneer jy eers by die huis met jou nuwe baba is, kan dinge heeltemal anders uitdraai as wat jy beplan het. Die kans dat julle elke aand in ’n ander bed wakker word as waar julle gaan slaap het, is groot. Sulke slaapeskap­ades is tipies in ’n huis met ’n nuwe baba.

Moenie jou kop breek oor ander mense se mening oor wat reg en verkeerd is nie. Baba in sy eie kot of by julle in die bed is twee opsies wat maar elkeen sy eie risiko’s en voordele inhou. Die besluit is julle s’n. Doen wat vir júlle werk.

BY MA IN DIE BED

Baie ouers oor die wêreld heen het geen ander keuse as om baba by hulle te laat slaap nie. Dis doodeenvou­dig omdat hulle nie ’n bababed het nie, en ook nie ’n babakamer nie. Om vir so iemand te sê saamslaap met ’n baba is verkeerd, is onsinnig.

Nog ’n praktiese rede waarom babas dikwels by ma in die bed slaap, is omdat hierdie nabyheid met borsvoedin­g help.

Daar is bewyse dat ’n baba wat by ma in die bed of kamer slaap, vir langer sal borsvoed en selfs ook snags beter slaap. Dis makliker vir jou omdat niemand die baba hoef te gaan haal nie, en die baba het vrye toegang tot jou bors. (Dis natuurlik nie te sê dat jy borsvoedin­g kelder as jou baba nie by jou slaap nie. Suksesvoll­e borsvoedin­g is beslis moontlik al slaap jou baba in sy eie kamer.)

Wees net daarop bedag dat dit gevaarlik kan wees om jou baba in jou bed te laat slaap. Daar is ’n risiko dat jy in jou slaap oor jou baba kan rol of dat jy aan die slaap raak terwyl hy voed. Jy moet dus baie seker wees dat jy nie jou baba gaan versmoor omdat jy te moeg is of dalk te diep slaap

weens medikasie nie. Jy mag ook nie saam met jou baba slaap as jy alkohol gedrink het of as jy ’n roker is nie.

Interessan­t genoeg is die voorkoms van wiegiedood aan die afneem, maar die voorkoms van babasterft­es weens versmoring is aan die toeneem. As jul baba by julle gaan slaap, kan jy die risiko verminder deur van die volgende seker te maak:

Baba moet op sy rug slaap, of effens op sy sy met ’n wiggie onder sy een kant sodat hy nie omrol nie. ’n Wiggie aan elke kant kan ook keer dat jy of jou man per ongeluk oor hom rol.

Jou baba moet in die middel lê, nooit op die rand van die bed nie.

Moenie ’n kussing of duvet met jou baba deel nie. Trek hom aan in een laag meer as wat jy aanhet en draai hom styf toe in sy eie kombersie. As hy nie daarvan hou om styf toegedraai te word nie, kan hy sy eie ligte katoenkomb­ersie kry.

Jou matras moet ferm wees. ’n Waterbed of pap matras is ’n risiko.

Moenie jou baba te warm laat kry met ’n mussie of te veel lae klere of ’n verwarmer nie. Elektriese komberse en warmwaters­akke is uit.

IN SY EIE KOT

’n Baba wat in sy eie kamer in sy eie kot slaap, sal iewers tussen vier en ses maande sy eie slaapsiklu­s begin reguleer. Dis mits hy geleer het om hom self te vertroos wanneer hy wakker word. Voor daardie ouderdom moet ’n ma haar baba help om sy slaap te reguleer.

Ouers slaap egter gewoonlik beter wanneer hul baba nié in hul bed is nie. Dis ook voordelig, want dan is hulle uitgerus.

Die risiko’s in ’n baba se eie bed is minder as wanneer hy by julle slaap. ’n Baba in sy eie kot in sy eie kamer is net so veilig soos ’n baba in sy eie kot in sy ouers se kamer.

Maak seker jy hou by die volgende beginsels:

Jou baba moet op sy rug slaap, of op sy

sy met ’n wiggie wat keer dat hy omrol. Babas wat op hul maag slaap, loop ’n groter gevaar van wiegiedood.

Sit jou baba neer met sy voete amper teen die voetenent van die kot sodat hy nie verder na onder kan skuif nie. Hy sal wel boontoe kan skuif.

Babas moenie met ’n duvet en kussing slaap nie. Trek jou baba aan in ’n ekstra laag klere en draai hom styf toe in ’n ligte kombersie, of bedek hom met ’n ligte, gebreide katoenkomb­ersie.

Moenie knuffeldie­re naby jou slapende baba neersit nie. Maak seker die kot se kantbesker­ming is styf vas en dat hy nie daarin verstrenge­l kan raak nie.

Die matrassie moet ferm wees. As julle ’n tweedehand­se kot gekoop het, maak seker jy skaf ’n nuwe matras aan.

Moenie jou baba laat oorverhit deur hom te dik aan te trek of verwarmers naby hom neer te sit nie. Moet ook nie elektriese komberse of warmwaters­akke gebruik nie.

IETS TUSSENIN

’n Goeie idee, mits julle die ruimte daarvoor het, is om in die eerste paar weke of maande jou baba in sy eie kot in jul kamer te laat slaap. Só het julle nog die praktiese voordele van nabyheid sonder enige van die risiko’s.

As jou baba egter baie steun, kan dit julle nog steeds uit die slaap hou.

Jy kan die kot teenaan jou bed skuif sodat dit maklik is om jou baba snags uit te tel om te voed, of om jou hand deur die stange te druk en jou baba te tik tot hy weer rustig is.

Meg Faure, skrywer van Slaap kindjie,

slaap (Metz Press) sê egter dis ’n goeie idee om jou baba uit jul kamer te skuif voor hy oud genoeg is om slaapgewoo­ntes te ontwikkel, wat gewoonlik teen so vier maande geskied. Pasgeboren­es het nie slaapgewoo­ntes nie, maar as jy aanhou om jou baba ná vier maande in jou kamer te hou (in jou bed of in sy eie kot), gaan hy moontlik later sleg begin slaap.

Die voordele van saam met baba slaap neem in elk geval ná ses maande af.

HET JY GEWEET?

Sekere mediese fondse sal jou terugbetaa­l vir jou babamonito­r. Bel jou fonds daaroor, en maak seker die monitor het ’n NAPPIkode sodat jy kan eis.

’n Goeie middeweg is om baba by julle in die kamer te laat slaap, maar in sy eie kot en nie vir langer as vier maande nie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa