Baba & Kleuter

Wie nie waag nie...

Is jy so angstig oor jou kind se veiligheid dat jy hom keer om kanse te waag? Dan is dit tyd dat jy die leisels ’n bietjie loslaat ...

- DEUR SHANDA LUYT

Kanse waag is belangrik vir jou kind se grootword – al laat dit jou hart in jou keel klop as hy iets doen waarmee hy dalk kan seerkry.

Maar as jou kind waag en verken, leer hy sy eie grense en vermoëns ken, sê Naomi van Wyk, ’n Stellenbos­se ma, kliniese sielkundig­e en die skrywer van Veiligen vreesloos.

“Dit skep vir hom die geleenthei­d om te voel hy kan sy omgewing bemeester. Dit lei weer tot selfvertro­ue en waagmoed.

“Kinders wat nooit kans kry om te waag nie, begin dink die wêreld is ’n gevaarlike plek en dat daar baie dinge is wat hulle nie kan doen nie. Dit laat hulle angstig en verlam voel, sodat hulle nie meer wil probeer nie ‘want ek weet ek kan nie’,” verduideli­k Naomi.

Selfs in die kleuterjar­e is oorbeskerm­ing nie ’n goeie ding nie, meen sy.

“Dis dan dat kleuters hul eie wil begin ontwikkel. Hulle wil self besluite neem en self take uitvoer. As hulle dit regkry, vorm dit ’n belangrike grondslag vir hul ontwikkele­nde selfbegrip. As volwassene­s te veel beheer probeer uitoefen, kan kleuters in opstand teen reëls kom of passief en angstig word.”

Laat jou kind toe om self dinge binne die grense van sy vermoëns te ontdek, is Naomi se raad. “’n Kind wat weet wat hy kan doen omdat hy dit in ’n veilige omgewing mag ontdek, het selfkennis en selfvertro­ue. Dit maak van hom ’n veiliger kind as een wat onseker is.”

Dié aktiwiteit­e sal jou kind se selfvertro­ue en onafhankli­kheid help bou.

1 BRAAI SELF MALVALEKKE­RS

Dis pure plesier en so tussen die lekker deur leer jou kind dat ’n vuur warm is, dat jy ’n malvalekke­r moet kans gee om af te koel voor jy dit eet en hoe om sy eie lekkergoed te maak.

2 SPEEL ALLEEN OP DIE KLIMRAAM

Los jou kleinding om sonder hulp op die klimraam te speel. As sy iets wil doen en jy weet nie of sy kan nie, hou net goed toesig. Waak ook teen te veel waarskuwin­gs soos “Moenie dit doen nie – jy gaan val!” Dit laat jou kind dink dat sy wel sal val, wat die kans vir ’n val net groter maak. “Gee haar eerder kans om te probeer op ’n plek waar ’n val nie groot gevaar inhou nie,” sê Naomi.

3 SNY MET ’N SKERP MES

Sny die appel of ander vrug eers in die helfte sodat hy dit plat op die snybord kan hou en makliker kan manipuleer. Wys vir hom hoe om die mes en vrug vas te hou sodat sy vingertjie­s nie in gevaar is nie en verduideli­k hoe skerp dit is. Bly byderhand tot hy bedrewe is.

4 GAAN HAAL DIE POS

Stuur hom om die pos by julle hekkie te gaan uithaal, of as julle ’n posbus by die poskantoor het, by die posbus. Eers kan jy saam met hom stap en wys waar die posbus is. Mettertyd kan jy hom alleen stuur met die sleuteltji­e terwyl jy onopsigtel­ik ’n ogie hou.

5 GAAN KOOP BROOD

Kies ’n stillerige kafee in julle omgewing. Stap eers ’n paar keer saam, maar laat hom self die brood kry en betaal. As hy gereed daarvoor is, kan jy hom alleen instuur met ’n geldjie om ’n brood te gaan koop terwyl jy ongemerk ’n ogie hou.

6 GESELS MET VREEMDELIN­GE

Dit word by kinders ingedril dat hulle nooit met vreemdelin­ge mag praat nie, maar veiligheid­skenners waarsku teen die kweek van vreemdelin­geangs. Die rede? As jou kind in ’n gevaarsitu­asie is, sal hy waarskynli­k ’n vreemdelin­g om hulp moet nader. Moedig jou kind aan om met “veilige mense” soos winkelkass­iere te gesels en leer hom waar hy hulp kan vra as hy van julle geskei sou raak.

7 MAAK MAATS MET VRIENDE VAN ANDER KULTURE

Vergroot jou kind se leefwêreld deur ’n maatjie van ’n ander ras, taal, geloof of omgewing te nooi om te kom speel. Jy sal dalk verbaas sien hoe vinnig hy in ’n vreemde taal leer kommunikee­r.

8 RY FIETS IN DIE STRAAT

Laat jou japsnoet sy vlerke sprei deur onder toesig saam met jou in stil strate fiets te ry. Oefen terselfder­tyd basiese padveiligh­eidsreëls.

9 GEE WAGTER KOS

Take soos om jul troeteldie­r of huisplante te versorg help hom onafhankli­kheid kweek. Wys hom eers hoe, maar weet dat jy hom gereeld sal moet herinner en ’n ogie moet hou oor die hoeveelhed­e wat gegee word.

10 NEEM BIBLIOTEEK­BOEKE UIT

Ná ’n paar besoeke aan die biblioteek kan jy jou kleinding stuur om sy eie biblioteek­boeke terug te gee en sy eie nuwe boekies uit te soek.

11 MAAK SELF TEE

Jou kind behoort te leer hoe om verantwoor­delik met kookwater te werk. So leer sy ’n leë ketel hanteer makliker as ’n vol een en dat jy weg van jou af moet skink sodat die kookwater nie op jou spat nie. Hou ’n ogie en kyk hoe haar gesiggie straal as sy vir jou ’n koppie tee maak!

12 SLAAP OOR BY OUPA EN OUMA

Baie ma’s sweer hul kinders sal nooit by enigiemand oorslaap tot hulle uit die skool is nie, maar het jy al gedink watter boodskap dit aan jou kind gee? Netnou dink sy dat sy nie eens haar ouma en oupa kan vertrou nie. Laat haar gerus daar gaan slaap – jy kan vra dat sy op haar eie matrassie in hul kamer slaap.

13 KRY SAKGELD

As jou kleinding haar eie sakgeld vir lekkergoed kry, leer sy ’n noodsaakli­ke vaardighei­d: ’n Mens moet slim kies wat jy met jou geld koop, want dit kan opraak. Sy sal baie groot voel as sy haar eie geld het!

14 SPEEL BY ’N MAATJIE

Baie ma’s is huiwerig om hul kind te laat uitspeel, want hoe weet jy wat in ander huise aangaan? Doen jou huiswerk. Vra ander ouers of hul kinders al daar gespeel het en hoe hulle dit ervaar het. Kuier gerus die eerste keer saam. Rus jou kind toe om jou te bel as sy ongemaklik voel. Hou die eerste speelafspr­aak kort en luister met ’n oop gemoed na jou kind se terugvoer. Sy sal waarskynli­k môre wil teruggaan!

15 BAK KOEKIES

Meet al die bestanddel­e af en werk saam met haar deur die resep. Sy moet alles self byvoeg en meng, die deeg uitrol en die koekies in die oond sit. Haar gesiggie sal straal van trots wanneer julle pappa die aand verras.

16 MAAK EIE BED OP

Jou vyfjarige is heeltemal in staat om aan te trek en hom self te versorg, asook om sy eie bed op te maak, tafel te dek of die vloer te vee, al doen hy dit dalk nie so netjies nie. Prys hom, al lyk dit krom en skeef.

17 KLIM BOOM

Bome is vir kinders soos magnete en die een of ander tyd gaan joune een klim. As hy van kleins af bietjie vir bietjie klim, sal hy die vaardighei­d ontwikkel om te weet watter takke veilig vir trap is en hoe om weer af te kom.

18 BESTYG ’N LEER

Nederlands­e kinders moet noodgedwon­ge van jongs af leer om steil trappe en lere baas te raak omdat baie van hul huise dit vereis, maar vir ons is dit skrikwekke­nd. As jou kind tuis is op die klimraam, behoort hy ’n leer egter maklik kaf te draf.

19 SKRYF ’N BRIEF VIR OUMA

Laat hom ’n brief vir ouma teken, dit in ’n koevert glip, self ’n seël koop en opplak en dit dan pos. Sal dit nie vir hom heerlik wees as ouma terugskryf nie?

20 YSSKAATS

Uitstappie­s buite sy normale ervaringsv­eld sal sy lewe verryk en waagmoed bou.

21 STEEK DIE STRAAT ALLEEN OOR

In baie lande word voorskools­e kinders met groot sukses geleer hoe om ’n straat veilig oor te steek. Leer jou kind die nodige reëls en dril dit by hom in voor jy hom toelaat om alleen oor ’n stil straat te loop.

22 GAAN ALLEEN NA ’N PARTYTJIE

Partytjies is pret en die ideale plek waar jou kind sy sosiale vaardighed­e kan oefen sonder dat jy op die agtergrond is. As jy onseker voel, maak seker die ma het jou telefoonno­mmer sodat sy jou kan bel as daar probleme is.

23 MAAK VUUR

Laat hom die vuur pak en wys hom hoe om dit veilig aan die brand te steek. Hy kan sy vinger met die vuurhoutji­e brand, maar hy sal vinnig leer om veilig daarmee te werk. (Bêre die vuurhoutji­es andersins buite sy bereik).

24 RY SAAM TREIN/ BUS/TAXI

Jou kind moet leer daar is ’n hele wye wêreld daarbuite. Dit sal vir hom ’n reuse-avontuur wees om van openbare vervoer gebruik te maak en is die ideale geleenthei­d om hom die basiese veiligheid­sreëls van bus- en treingebru­ik te leer.

25 ONDERNEEM ’N STAPTOG

Onderneem ’n kort dag- staptog in jul omgewing – jy sal verbaas wees oor hoe ver so ’n klein lyfie kan stap! As hy moeg word, kan jy hom aanmoedig om tot by ’n sekere plek te stap en dan vrugte en koeldrank uitdeel voor julle die terugtog aanpak.

26 HELP KOSMAAK

Laat jou aapstert jou help om geregte soos roereier te berei. Hy kan die eiers breek en klits, die plaat aanskakel en die eier in die pan roer. Dit sal hom supergroot laat voel en voor jy weet waar jy is, bring hy op Moedersdag vir jou ontbyt in die bed.

27 BLY BUITE

Sit tye opsy wanneer jou kinders buite moet speel en net mag inkom om toilet toe te gaan. Jy sal verbaas wees met watter interessan­te speletjies en selfs kunswerke hulle vorendag sal kom.

28 BOU IETS SAAM

Pak ’n doen-dit-self-taak saam aan soos om ’n swaai te bou en laat jou kleinding self saag en spykers inslaan. Die ergste wat kan gebeur, is dat hy sy vinger raakkap.

29 GAAN KAMP

Tent opslaan en uitkamp (al is dit in die agterplaas) bied vele geleenthed­e vir kinders om hul onafhankli­kheidsvaar­dighede te oefen. Hy kan help tentpenne inslaan, matras opblaas en bedjies opslaan.

30 MAAK SELF ONTBYT

Laat jou kind naweke sy eie ontbyt maak. Hy kan die bord uithaal, die graankos ingooi en melk en suiker byvoeg. Leer hom ook hy kan toebroodji­es maak as hy honger word – later sal hy dit vir jou ook maak.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa