Baba & Kleuter

Kweek só groen vingertjie­s

- DEUR ILSE SALZWEDEL

Tuine is betowerend­e plekke waar ’n mens lekker vuil kan word, goggas van nader kan bekyk en skouer aan skouer met ma of pa kan werk. Niks is so lekker soos om iets te eet wat jy self gekweek het nie. Boonop leer kinders so hoe belangrik die natuur en ons omgewing is ...

Dit het eintlik begin toe ek en my tuinman mekaar verkeerd verstaan het. Ek het bedoel hy moet ’n paar plantjies bymekaarpl­ant sodat die fyn wit blommetjie­s later in blomtyd ’n mooier, dramatiese­r vertoning kan lewer. Toe plant hy die saailinge in netjiese, klein sirkeltjie­s.

Feetjietea­ters, het ek my twee japsnoete oortuig. Sodat elke feetjie op ’n plantjie kan sit en mooi kan sien wanneer hul feetjiemaa­tjies snags in die maanlig dans en konsert hou in die sirkel in die middel.

Vóór die feetjiesir­kels al was my twee dol oor ons posseël van ’n voortuin. Daarvoor het die malse geure van die laventel, ment, rose en jasmyn gesorg – ook die sagte groen gras, voëlbadjie en die witklippie­enbaksteen­paadjie wat ek en die oudste een middag self ontwerp en gepak het.

Tuine is magiese plekke vir die kleinvolk. Dis plekke om te ondersoek, te pluk, te ruik, te voel, te sien. En veral om te speel en te ontspan.

Tuinmaak leer ’n kind boonop geduld – saadjies wat ontkiem laat hulle immers deur niemand aanjaag nie. En natuurlik leer min dinge ’n kind so baie van die natuur as juis ’n tuin – behalwe vir die wonder van lewe (’n droë, lelike saadjie wat ontkiem en ’n pragtige groen plant word) is daar ook in elke tuin ’n hele klein mikrokosmo­s van insekte, wurms en voëls wat dopgehou kan word.

Wat leer ’n kind nog deur tuin te maak? Dat ’n plant sekere dinge nodig het om te groei: sonlig, water, grond. ’n Jong plantjie moet beskerm word teen ryp of te veel sonlig. Verduideli­k dat ’n mens ook sekere dinge nodig het om te kan oorleef, soos kos, water en ’n blyplek.

Laat hulle saam onkruid uittrek en verduideli­k dat die lewe net so werk: Slegte goed moet verwyder word voor hulle die goeie goed toegroei.

Kortom, ’n tuin is die ideale plek om gesinsband­e te versterk en terselfder­tyd baie pret te hê.

LEER SPIT-SPIT SO

• Sonneblomm­e is ideaal vir ’n kindervrie­ndelike tuin. Dit groei vinnig en hoog, en kan ook sorg vir ’n lekker speletjie. As die plant lekker hoog is, laat jou kleuter hom teen die sonneblom se stam meet. Bind ’n lintjie om die plek en laat hy hom gereeld meet. Dis groot pret wanneer hy besef die sonneblom groei baie vinniger as hy.

• Gee vir jou kind ’n eie bedding om in te woel. Bêre maar jou perfeksion­isme. Jou kind gaan waarskynli­k wil plant, herplant, uitgrawe, begrawe, slote maak, damme bou ... Byt maar op jou tande, want jy is besig om ’n ywerige tuinier te kweek.

• Hou maar die sessies kort as julle saam in die tuin werk. Kleuters het ’n kort aandagspan. Gee takies wat gepas is vir hul ouderdom. Onkruid uittrek is dalk nie ’n goeie idee nie – netnou waai jou saailinge ook. Laat hy eerder dooie blomkoppe afsny met ’n stomppuntt­uinskêr of dooie blare bymekaarha­rk met ’n kindergroo­tte hark. En onthou, natspuit is die heel lekkerste!

• Spel jou naam op die gras! Laat elkeen sy voorletter­s op ’n groot stuk karton uitsny (maak lekker vet, ronde letters). Pak die kartonlett­ers op die gras uit en pak met klippies vas. Los dit ’n paar dae. Die gras onder die letter sal geel word – nou kan jy vir jou kinders verduideli­k dat plante groen is omdat die chlorofil in hul blare sonlig benodig om kos vir die plant te vervaardig. As die blare nie son kry nie, kry die plant nie kos nie en sal dit uiteindeli­k doodgaan. (Toemaar, dit sal nie permanente skade aan die gras aanrig nie – as die letters opgelig word, word die gras binne ’n paar dae weer groen!)

’n Tuin is ’n plek vir ondersoek, pluk, ruik, voel en kyk. En veral vir speel en ontspan.

EN AS JY NIE ’N TUIN HET NIE?

Jou kind kan steeds die wonder leer van sade wat ontkiem en plante wat groei. • Spruite is van die heel vinnigste maniere om binne ’n paar dae iets eetbaars te kweek. Boontjie-, alfalfa- en lensiesade werk goed. Plaas die sade in ’n skoon glasbottel en bind ’n skoon stuk sykous met ’n rekkie oor die bottel se bek. Die materiaal moet water en lug kan deurlaat, maar nie die sade nie. Week die sade oornag in water. Dreineer en plaas die bottel op sy kant in ’n sonnige vertrek naby ’n venster. Die sade moet ’n paar keer per dag natgemaak en gedreineer word en in die sonkol teruggepla­as word. Binne ’n paar dae kan julle jul eie spruite in slaai eet.

• ’n Plastiekko­eldrankbot­tel (2 liter) is ’n ideale miniatuur-kweekhuis. Was skoon en sny die een kant met ’n skerp mes oop. Dwing oop en vul die onderste helfte met potgrond. Plant die saadjies en maak nat. Seël die oopgesnyde kant met breë kleefband en hou die bottel op ’n sonnige plek. Binne twee tot vier weke sal jou plantjies gereed wees om in groter potte uitgeplant te word.

• Tuin-in-’n- sak: Kweek ’n groentetui­n in ’n ou mieliemeel­sak. Jy kan dieselfde doen met jou kleuter, sommer net daar op die balkon van jou woonstel. Vul ’n ou mieliemeel­sak met komposryke grond, of, nog vinniger, koop eenvoudig ’n sak potgrond. Druk elke paar sentimeter ’n gat deur die sak met ’n mes en boor ’n gaatjie met jou vinger waarin jy groentepla­ntjies plant wat nie ’n diep wortelstel­sel het nie. Kruie, blaarslaai en kersietama­ties is ideaal. (Koop die plantjies by jou kwekery.) Gooi een keer ’n week nat, sommer met ’n koeldrankb­ottel. Omdat die grond in ’n sak verseël is, is daar nie onkruid nie, en die grond behou vog ook baie beter. ’n Mens kry ook deesdae baie mooi plantsakke in allerhande vrolike kleure by winkels waarin julle groente kan plant. Binne ’n paar weke sal julle van jul eie oes kan eet.

• Maak ’n grasmonste­r! Jy benodig ’n ou sokkie of sykous. Werk twee knope aan vir ogies en borduur ’n glimlag op jou monster se bakkies. Meng ’n bietjie potgrond met grasperksa­ad. Stop die sokkie lekker styf en knoop toe. Gooi die sokkie gereeld nat of plaas die opgestopte deel bo- op ’n glas of beker met water en laat die geknoopte punt in die water hang. Dié punt sal die water opsuig. Plaas jou graskop op ’n sonnige plek en binne ’n paar dae sal grasgroen monsterhar­e begin uitgroei. Ná ’n paar weke sal dit selfs nodig wees vir ’n “haarsny”.

• Al ooit ’n patat in jou groenteman­djie vergeet? Maak gerus weer so en laat die kinders die groei van die klein blaartjies uit die uitloopsel­s dophou. As dit goed uitgeloop het, gee dit vir iemand met ’n tuin om vir hulle te plant. Oor ’n paar weke kan julle die eerste oes deel.

• Sny ’n aartappel met ogies in stukke – sorg dat elke stuk ’n ogie het – en plant in ’n jogurthoue­r met grond. Die ogie moet na bo wys. Binne ’n paar dae sal dit begin uitloop. Verplant later na ’n groter plek as jy wil.

• Jy kan ook ’n ui so plant, maar maak seker dat ’n stukkie van die kroon nog uitsteek.

VEILIGHEID EERSTE!

• Organiese tuinmaak is die heel beste, maar as jy kunsmis en gifstowwe in jou tuin gebruik, maak seker dis agter slot en grendel en op hoë rakke gebêre.

• Kry kindergroo­tte gereedskap, of laat hulle sommer met ou opskeplepe­ls en tafelvurke in die grond woel.

• Pasop vir emmers water wat rondstaan. ’n Peuter kan daarin verdrink. Dieselfde geld visdammetj­ies en voëlbadjie­s. Leer kinders om nie daaruit te drink nie.

• Selonsrose is dodelik, terwyl ander plante jou kind kan laat uitslaan of siek kan maak. Raadpleeg ’n plantgids of jou kwekery. Leer jou kleingoed om nie enigiets te eet wat in die tuin groei nie. • Ontwurm jou kinders gereeld as hulle

graag in die grond woel.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa