Babas se spysv verteringsprobleme
BABAS EN HUL SPYSVERTERINGSPROBLEME
Ma’s is dikwels bekommerd dat hul baba hardlywig is as die doek al ’n rukkie leeg is en dit lyk asof baba druk. Die beste aanduiding van hardlywigheid is egter nie gereeldheid nie, maar eerder ’n droë en harde stoelgang – selfs al het jou baba gereeld ’n poefdoek.
Dit is belangrik om jou baba goed gehidreer te hou, want dit is die beste manier om hardlywigheid te voorkom.
Aan die ander kant van die poefspektrum is ma’s bekommerd oor diarree. Babas wat borsvoed, het gewoonlik baie natterige poefdoeke. Sommige babas kan 10 vuil doeke per dag hê, en ander net een per week – dit is alles normaal.
Wees egter op die uitkyk vir slym in die stoelgang of ’n enorme poefdoek, want dit kan wel ’n teken van diarree wees.
Babas met diarree kan ook koorsig wees en braak. Ontwatering is vir veral klein babas baie gevaarlik en daarom moet jy jou dokter so gou moontlik raadpleeg.
Die vele voordele van probiotika sluit in dat dit dermbeweging verbeter en daarom vir die behandeling van sowel hardlywigheid as diarree kan help.
Probiotika versterk die dermwand en beskerm so teen infeksie en inflammatoriese dermsiektes.
Navorsing wys ook dat as vroeggebore babas ses weke lank probiotika kry, dit die gevaar van sterfte aan nekrotiserende enterokolitis kan verlaag. Dis ’n siekte waarin ’n deel van die spysverteringskanaal besmet raak en afsterf.
Probiotika help ook met die vertering van laktose in voedsel, wat weer help met die opneem van voedingstowwe – veral minerale soos kalsium.
KINDERS EN HARDLYWIGHEID
Hoewel tekens en simptome van hardlywigheid in die eerste lewensjaar kan voorkom, is simptome geneig om ’n hoogtepunt te bereik tydens potjielesse – iewers tussen twee en vier jaar oud.
Hardlywigheid is trouens ’n algemene en angswekkende probleem by kinders, en sowat 30 persent sukkel selfs ná puberteit nog daarmee.
Vir ’n jong kind kan hardlywigheid vinnig meer as ’n dermprobleem word. Angs en stres kan die simptome vererger, en behalwe vir ongereelde en pynlike stoelgange kan jou kind ook later begin weier om toilet toe te gaan.
Jy kan help deur hom meer vloeistof te gee en meer vesel by sy dieet in te sluit. As dit nie werk nie, is stoelgangversagters jou volgende opsie.
Maak ook seker dat jou kind genoeg tyd (3 tot 10 minute) het om op die toilet te ontspan en dat hy nie aangejaag voel nie.
Afgesien van die gewone behandeling wat ons hierbo noem, kan jy jou kind gerus ook daagliks probiotika gee om ’n moontlike wanbalans in die dermflora te behandel. Dit sal help om die balans te herstel en so voedselbeweging deur die dermkanaal verbeter.
KINDERS EN DIARREE
Baie kinders onder drie beland in die hospitaal as gevolg van gastroënteritis en die daaropvolgende diarree. Dit word veroorsaak deur ’n aantal verskillende virusse, bakterieë of parasiete, insluitend die rotavirus en toenemend ook die norovirus.
Sommige kinders loop ’n groter gevaar om diarree op te doen: kinders met immuungebrekstoestande, onderliggende chroniese toestande of kinders wat behandeling ondergaan. Hulle kan almal ’n ernstiger en langdurige infeksie opdoen.
Wat kan ouers doen om te help? Hoewel rehidrasie die belangrikste behandeling vir diarree is, kan sekere probiotika die duur en intensiteit van die simptome verminder. Gebruik dit gerus saam met rehidrasie-oplossings.
As jy vir jou kind probiotika gee, moet jy die korrekte een vir die toestand kies. Maak seker dis deeglik vir die toestand getoets en ook geskik vir jou kind se ouderdom. Navorsing wys die trefkrag van ’n probiotikum hang van die stam af. Raadpleeg dus eers jou dokter of apteker sodat jy seker is jy kies die korrekte weergawe wat die beste sal help.