OLÁ UIT LUANDA
Dis nie ’n plek vir ’n vrou nie, is wat Chrizane Geldenhuys moes hoor toe sy Angola toe trek. Sy vertel meer van hul lewe in hierdie land ’n entjie noord van Suid-Afrika, waar sy ondanks uitdagings steeds welkom voel.
Toe my man, Viljee, vroeg in 2020 van Mosambiek na Angola verplaas is, het ons geweet daar wag ’n groot uitdaging op ons. Luanda is een van die duurste stede ter wêreld vir uitgewekenes. Die werkomgewing is meedoënloos en die leefstyl allesbehalwe gerieflik.
Tog was ons opgewonde oor die geleentheid: Dit was vir hom ’n loopbaanbevordering (hy is ’n aankoper) en daar was die vooruitsig om met ’n gesin te begin.
Een van die grootste voordele vir my as niewerkende ekspatvrou is juis die voorreg om heeltyds by die huis te wees.
Ons is vir die eerste keer in 2017 deur ’n SA maatskappy Mosambiek toe gestuur en is dus steeds SuidAfrikaanse burgers. Met twee tasse is ons in Februarie 2020 Kaap toe om gou ’n paar logistieke dinge af te handel. Ons was heeltemal onbewus van dit wat op ons sou wag! Weens die Covid19pandemie word die tydelike besoek toe meer as ’n jaar van pendel tussen ons ouerhuise. Ons het vyf maande lank vir polisieklaringsertifikate gewag en later selfs winterklere gekoop. Toe die werkpermitte in Maart 2021 opdaag, was baba Lisa reeds gebore.
Ek is ’n pandemiemamma wat nes miljoene ander haar ideale prentjie van baba grootmaak moes laat vaar. In April 2021 het ek en Lisa ons by pappa in Luanda aangesluit. Sy was 10 weke oud en het toe al klaar in drie verskillende bedjies geslaap. Ek het gou besef met hóé min ’n mens eintlik ’n baba kan grootmaak.
Met ons aankoms op Luanda se internasionale lughawe is ons na ’n afgesonderde deel vergesel. Dit het soos iets uit ’n wetenskapsfiksiefliek gelyk: Ons is met ontsmettingsmiddel bespuit en ek is deur ’n Angolese amptenaar in ’n Hazmatpak ondervra. Ek moes my Portugees afstof, want hier word daar min Engels gepraat. Toe ek my oë uitvee, steek hulle ’n stokkie in Lisa se neusie op! Ek het my daaraan getroos dat sy nie te veel gehuil het nie. Ek sou nie durf kapsie maak nie, want wanneer jy ’n Afrikaland betree geld ’n ander stel reëls. Ek het reeds in Mosambiek geleer dat ’n mens eerder gehoorsaam is tot jy die visastempel in jou paspoort het.
Ons keuse om in hierdie land te kom woon, het natuurlik uiteenlopende reaksies ontlok. “Luanda is nie ’n plek vir ’n vrou nie,” het ’n skeptiese oom gesê. Sy verwysingsraamwerk was natuurlik die Grensoorlog. “Was jy al voorheen daar?” Ek wil hulle verkeerd bewys, maar ek is bevrees daar steek wel ’n bietjie waarheid in: Om hier te woon, sit beslis nie in almal se broek nie. Tog wag daar ’n hoop babagoed en meer koffieuitnodigings van ander SA uitgewekenes as wat ek kan bybring. Hier kan ons ’n heeltydse huiswerker bekostig sodat ek verder kan studeer. Ek is dankbaar vir die ekstra hulp, want dit verg baie moeite om ’n gebalanseerde leefstyl te handhaaf.
Ek moet my inkopietogte mooi beplan aangesien ’n verskeidenheid kosprodukte beperk is. Dis ook peperduur. Ons eet deesdae sampioene uit ’n blik en ek rek ’n wieletjie fetakaas oor twee etes. By die huis voer ek oorlog teen termiete en moet ons water aanvra wanneer die tenk leegloop.
Daar is natuurlik ook baie voordele. Diesel kos R4 per liter en daar is altyd vars vrugte op straat te koop. Die wasgoed word dwarsdeur die jaar vinnig droog en ek kan met gemak in die openbaar borsvoed. Ons dogtertjie sal binnekort drie tale verstaan. Ek sit laataand op die stoep in die middel van die winter met plakkies, ’n Themp en ’n denimlangbroek aan. Die grond is so vrugbaar dat ek ’n takkie in ’n pot kan druk en twee weke later heerlike basiliepesto kan maak.
Angola het reeds in ons hart gekruip; sy humiditeit, verkeersopeenhopings, muskiete en al. Ek het Lisa se organiese insekweerder vir Peaceful Sleep verruil en ek weet ek is steeds ’n goeie ma.
Lees meer oor Chrizane se lewe en passie vir gesondheid by kostelik.com, of volg @ kostelikblog.