“G Ontspan oorouerskap
Hier is ’n geheimpie: Superma bestaan nie. Al wat jou kind nodig het, is ’n ouer wat ‘goed genoeg’ is.
oed-genoeg ouerskap” is ’n term wat in die 1960’s geskep is deur die Britse pediater Donald Winnicot. Dis destyds gebruik om ’n ouer te beskryf wat haar kind beslis goed versorg, maar nie spring om elke probleempie op te los nie.
In ’n neutedop beteken dit dat jy in jou kind se basiese behoeftes voorsien as dit kom by fisieke versorging, emosionele sekuriteit en aanvaarding.
In hul eerste vyf jaar is kinders die meeste afhanklik van hul ouers se fisieke en emosionele beskerming en versorging. Ouerskap wat in dié tydperk “goed genoeg” is, gee aan kinders ’n gevoel van sekuriteit, wat op sy beurt weer belangrik is vir die ontwikkeling van gesonde emosies en selfbeeld.
As jou kind se selfbeeld teen vyf jaar oud goed ontwikkel het en hy emosioneel stabiel is, vorm dit ’n baie sterk basis vir die res van sy kinder- en volwasse lewe.
As jy dít kan regkry, is jou ouerskapstyl goed genoeg. Dis eintlik eenvoudig, en dis heeltemal gratis.
’n Ouer wat goed genoeg is ...
• aanvaar en respekteer ’n kind vir wie hy is;
• keur onaanvaarbare gedrag konsekwent af;
• bied ruimte vir ontdekking en eksperimentering binne gesonde perke; en bowenal: • stel ’n goeie voorbeeld van hoe ’n verantwoordelike volwassene dink, praat en optree. Jou voorbeeld beïnvloed jou kind meer as enigiets wat jy hulle probeer leer.
WAT IS JOU DOEL?
Jou groot doel as ouer is om jou kinders voor te berei om as onafhanklike, verantwoordelike volwassenes te funksioneer. Jy hoef nie vas te val in daaglikse krisishantering nie. Fokus eerder op wat ’n kind uit ’n situasie moet leer ten einde hom voor te berei vir die lewe as volwassene.
Een van die geheime is dat jy konsekwente grense vir jou kind moet stel, maar hom terselfdertyd die ruimte moet gee om te kan ontwikkel. Pas jou dissipline dus deurlopend toe en wees konsekwent, ongeag jou bui. Dikwels hang dissipline daarvan af of die ouer ’n goeie of ’n slegte dag gehad het. Die gevolg is dat die kind leer dat sy gedrag van sy ouer se bui afhang en dat die reël nie ter sprake is nie. Op die ou end bevind die ouer haar in ’n posisie dat sy aanmekaar ”kwaai” moet wees net om haar kinders sover te kry om die reëls te gehoorsaam.
As jy egter ’n reël konsekwent toepas, leer jou kind dat sy gedrag deur die reël
Hoe weet jou kinders dat jy hulle liefhet?
gerig word en nie deur jou bui nie. Só leer hy self sy gedrag beheer pleks daarvan dat jy dit heeltyd vir hom doen.
Dit help ook om riglyne eerder positief as negatief te maak omdat jy dan vir jou kind ’n alternatief vir onaanvaarbare optrede gee. Sê dus liewer “hou jou bene stil” as “moenie so woel nie” – dan weet hy presies wat om te doen.
As jy nou reeds konsekwente grense in jou kind se lewe stel, sal hy eendag makliker in die grootmenswêreld oorleef. Grense is belangrik sodat hy kan leer wat aanvaarbare gedrag is. Dié grense moet natuurlik realisties vir jou kind se ontwikkelingsvlak wees.
Om hom te laat besef hoe belangrik hierdie grense is, kan jy hom beloon vir die regte gedrag of straf wanneer hy die grense oorsteek.
Grense moet billik en liefdevol gestel word. As dit onbillik, inkonsekwent of te streng is, kan dit jou kind se ontwikkeling skade doen.
Liefdevolle dissipline is ’n baie belangrike bestanddeel van ouerskap wat “goed genoeg” is – dit help verseker dat jou kind as ’n emosioneel standvastige, ten volle ontwikkelde mens grootword wat sy plek as verantwoordelike volwassene kan vol staan.
As jou kind se selfbeeld teen vyf jaar oud goed ontwikkel het en hy is emosioneel stabiel, vorm dit ’n baie sterk basis vir die res van sy kinder- en volwasse lewe.
WYS J ❤ U LIEFDE
Hoe weet jou kinders dat jy hulle liefhet? Die antwoord is ’n drieletterwoord. Tyd.
Tyd is die een bron waarvan almal ’n gelyke deel ontvang het – anders as geld – en hoe jy jou tyd deurbring, is ’n aanduiding van jou prioriteite.
Geen geld kan ooit die plek inneem van ouerliefde en aandag nie.
’n Gebrek aan liefde en aandag strem die normale band tussen jou en jou kind. Kinders wat nie in hul ouerhuis liefde kry nie, is dikwels onseker, hul selfbeeld is swak en hulle sukkel eendag met verhoudings, hul huwelik en ouerskap.
GEE HOM VLERKE
Nog ’n belangrike aspek van ouerskap wat “goed genoeg” is, is dat jy jou kind die geleentheid gee om tot sy volle potensiaal te ontwikkel.
Dit behels elke aspek van sy funksionering, van sy fisieke en intellektuele tot sy morele en spirituele ontwikkeling.
’n Kind het ’n natuurlike behoefte aan ’n vaste basis van waar af hy sy omgewing kan ontdek.
Ouerskap wat “goed genoeg” is, sal plek maak vir ’n wye verskeidenheid stimulasiemoontlikhede. Jou betrokkenheid en ondersteuning is belangrik, selfs tot jou kind al volwasse is.
Oorversigtige ouers perk hul kinders se ontwikkeling in weens vrese. Ouers is dikwels bang om kinders te laat eksperimenteer omdat hulle vir die kind se veiligheid vrees. Dit is egter beter om jou kind in beheerde omstandighede met iets nuuts of gevaarliks te laat kennis maak as om hom daarvan te weerhou, sodat hy dit later uit nuuskierigheid in elk geval toets.
Inheemse Amerikaners laat ’n kind byvoorbeeld toe om in die rigting van die vuur te kruip sodat hy self die hitte kan voel, maar hulle hou hom fyn dop terwyl hy dit doen sodat hy nie verbrand nie. Só leer die kleintjie dat dit te warm naby die vuur is en sal hy later ook van die vuur wegbly, selfs al is sy ouers nie daar om ’n oog te hou nie.
Onthou egter dat die grense natuurlik baie streng moet wees as dit kom by lewensbedreigende sake of dinge wat ernstige beserings kan veroorsaak.
PROBEER JY TE HARD?
Volgens die Amerikaanse sielkundige H. Cooke Read maak ouers die meeste foute wanneer hulle te goed probeer wees.
“Dit gebeur dikwels omdat ons angstig is. Ons probeer té hard. As albei ouers werk, kom hulle dikwels saans vol bewustelike en onbewustelike skuldgevoelens huis toe. Teen daardie tyd is jou kind moeg en prikkelbaar. En jý is moeg en prikkelbaar. En so dikwels gee jy jou kind dan alles wat hy wil hê net om konflik te vermy. Dit bederf jou kind en skep ’n patroon wat hom gaan herhaal.”
Ouers moet minder angstig oor hul kinders wees, is Read se raad. Jy hoef net “goed genoeg” te wees, nie uitmuntend nie. “En dis eintlik in die menslike natuur om vir jou kind goed te wees. Uiteraard gaan jy soms foute maak. Jy gaan kwaad word vir jou kind – maar dit beteken nie jy’s minder lief vir hom nie.”
Ouerskap wat “goed genoeg” is, begin as jy goed oor jouself as ouer voel en jou kind uit dié perspektief grootmaak, sê Read. “Daar is ’n gesegde ‘as mams nie gelukkig is nie, is niemand gelukkig nie’. Gelukkige ouers het gelukkige kinders!”
Ons hoef nie ons kinders volmaak groot te maak nie. Ons moet hulle net liefhê. Ontspan dus!