Wat jy oor PROBIOTIKA moet weet
Jy het dalk al gehoor dit word teen maagkwale ingespan en kan immuniteit aanhelp. Maar hoe presies werk probiotika – en kan jy dit met veiligheid vir jou baba of ouer kind gee? Ons dossier maak die wetenskap maklik
Voor jou en jou kleinding se liggaam optimaal kan werk, is ’n gesonde spysverteringstelsel noodsaaklik. Meer as 500 verskillende soorte bakterieë is hard aan die werk in die spysverteringskanaal. Presies hoeveel en wat hul eienskappe is, verskil van plek tot plek.
Elke mens op aarde het ’n unieke derm-mikrobiotaprofiel (mikrobiota is ’n gemeenskap mikroörganismes in jou derm) wat in die vroeë kinderjare gevorm word. Hierdie omgewing, of bioom, bly egter nie konstant nie, maar word aanhoudend beïnvloed deur faktore soos dieet of siektes, om maar net twee te noem.
Dr. Anton Janse van Rensburg van Johannesburg sê dat baie aspekte van ons moderne lewe ongelukkig nie die bioom in ons derms gesond help hou nie.
“Antibiotika, rook, stres, anti-inflammatoriese middels, teensuurmiddels vir die maag en die afwesigheid van gegiste voedsel in ons dieet lei alles tot ’n ongesonde bioom. Dit word disbiose genoem.”
Die vestiging en instandhouding van ’n gesonde balans van mikroörganismes in jou derm is ingewikkeld, maar wetenskaplikes raak toenemend bewus van hoe die prentjie inmekaarsteek.
KOM ONS KYK EERS NA DEFINISIES
Dermflora, mikroflora of derm-mikrobiota is mikroörganismes (piepklein lewensvorms) wat in ons spysverteringskanaal woon. Hierdie organismes kan bakterieë, swamme of ander stowwe wees. Die omgewing waarin hulle voorkom en saamwerk, word ’n mikrobioom genoem.
Ons het altyd sowel ”goeie” as ”slegte” bakterieë in ’n mikrobioom. As ons siek word, is daar meer slegte bakterieë en word die balans versteur. Goeie bakterieë help om van die slegtes ontslae te raak en die balans te herstel. Dis dus belangrik om die hoeveelheid goeie bakterieë so hoog moontlik te hou.
Probiotika is lewende, goeie bakterieë wat die balans in die dermkanaal help hou en so ons gesondheid ondersteun, verduidelik prof. Renée Blaauw, professor van kliniese voeding by die Universiteit Stellenbosch. Ons kan dit deur kos of aanvullings inkry.
Daar is baie verskillende soorte probiotika, waarvan Lactobacillus en Bifidobac
terium die bekendste en algemeenste is. Prebiotika is natuurlike stowwe wat in voedsel voorkom. Dit word nie deur die liggaam verteer nie en is ’n vorm van vesel. Dit verbeter jou algemene gesondheid deur die groei van goeie bakterieë (oftewel probiotika) in die derms te stimuleer.
In ’n neutedop: Prebiotika is voedselbestanddele wat goeie bakterieë (probiotika) help groei en floreer. Dit is meer doeltreffend om probiotika en prebiotika saam te neem as afsonderlik.
HOE WERK PROBIOTIKA?
Probiotika kan ons gesondheid op verskillende maniere aanhelp. Dit ondersteun veral ons immuniteit en werk inflammasie teë.
BYVOORBEELD
• Slegte kieme wat ons lyf aanval, probeer deur die dermwand dring. Die probiotika maak die dermwand minder deurdringbaar en help hulle so uithou.
• Probiotika heg ook aan die dermslym. Dit help keer dat die kieme siektes veroorsaak.
• Probiotika help met die vertering of gisting van stysel en produseer ook vitamiene.
• Dit verhoog die opname van belangrike minerale uit die derms en voorkom dus tekorte wat immuniteit verlaag.
• Probiotika soos Lactobacillus maak melksuur, wat die dermkanaal suur maak en so die groei van slegte bakterieë keer.
Probiotika bevat goeie bakterieë wat van slegte bakterieë ontslae help raak .