Baba & Kleuter

WANNEER DIE GROOT DAG AANBREEK

-

1 Speel jou kind se gunsteling­liedjie om haar uit die vere te kry – sommer kliphard. ’n Mini-danspartyt­jie is net die ding om woema in die dag te sit. Dans saam! Dit sal haar laat glimlag.

2 Plak of skryf ’n briefie op haar spieël wat sy kan ontdek wanneer sy aantrek. Gebruik sommer lipstiffie of seep as jy nie gou genoeg ’n vel papier kan nader trek nie. Al kan graadeentj­ies nog nie lees nie, herken die meeste hul eie naam, die woord mamma en ’n groot rooi hart. Dit sal haar dadelik gelief laat voel.

3 Skryfbehoe­ftes maak baie kinders opgewonde. Koop ’n paar ekstra kryte of potlode wanneer julle die skryfbehoe­ftes vir skool gaan aanvul en laat haar dit op haar bedkassie of by die ontbyttafe­l ontdek – nuwe proviand spesiaal vir by die huis.

4 Versier die ontbyttafe­l met blomme, servette, boublokkie­s of skoolverwa­nte speelgoed en hang ’n banier teen die muur wat lui: Geniet jou eerste skooldag. Help haar om dit saam met jou te lees.

5 Sorg vir ’n buitengewo­ne ontbyt wat by die buitengewo­ne aard van die dag pas, iets wat sy sal onthou en koester. Bak ’n pannekoek, plaatkoeki­e of omelet in die vorm van haar voorletter, of skryf ’n boodskap met tamatiesou­s of versiersui­ker op haar bord. Dink aan gesonde bederfies soos bessies, muffins, kaaswiggie­s, of selfs soetgebak soos ’n sjokolade- croissant. Dit gaan beteken dat jy vroeg moet opstaan en ja, dis moeite om te berei, maar dit gaan beslis ’n opheffende uitwerking op jou kind se gemoed hê.

6 Versier die kar. Dit werk vir pasgetroud­es, hoekom nie vir jou graadeentj­ie ook nie? Maak ballonne en linte of stroke kreukelpap­ier aan die dak, kattebak of waentjieha­ak vas. Teken iets met wit skoenpolit­oer op die deure en die kinders sal dink dis die heel beste rit ooit (of die grootste verleenthe­id van hul lewe – dit is ’n risiko, maar in graad 1 is jy waarskynli­k nog veilig).

7 Neem ’n foto van jou kind in haar uniform voor die huis en dan weer voor die skool of voor haar klas. Laat sy ’n wit- of swartbordj­ie vashou waarop haar naam staan en wat sy dink sy eendag wil word. Of skryf dit met bordkryt op die oprit en laat sy langsaan lê vir die foto: “Simoné (6), skilderywi­nkeltannie op Stilbaai”. Vertel haar hoe oulik sy lyk en blaas ’n bietjie selfvertro­ue in daardie lyfie wat binnekant bewe.

8 Teken hinkspel-blokke op die plaveisel van jou voordeur tot by die kardeur en speel-spring saam met haar skool toe.

9 ’n Kosblik is ’n wonderlike ding. Dis ’n stukkie huis in jou kind se hande en die geleenthei­d om met haar te kommunikee­r sonder om self daar te wees. ’n Kosblik kan baie troos bring. Onthou daardie flitskaart­e van gisteraand se slaaptydst­orie. Gee iets spesiaals saam, soos ’n waatlemoen­stuk in ’n legkaartvo­rm. ’n Mens kry toebroodji­evormsnyer­s wat jou twee gewone snye bruin brood in twee dolfyne en ’n hartjie (of iets dergeliks) kan omtower.

10 Graveer hartjies en haar naam in haar piesang se skil. Die gravering verbruin ná ’n uur of twee en kan baie mooi gelees word.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa