HULLE KAN GENEES
LIEFSTE NICU-OUERS
’n Mens hoor die stories en steeds dink jy altyd “dit sal nie met my gebeur nie”, maar sou jy en jou baba julself nou in die NICU ( baba-waakeenheid) bevind, is hierdie brief vir julle.
Terwyl ons tweelingseuns in die NICU was, het ek suksesstories gesoek. Ek het dit broodnodig gehad om te weet dat ander ouers en kinders hierdeur is en aan die ander kant uitgekom het. Omdat ek weet hoe belangrik dit vir my was, deel ek graag ons wonderwerkverhaal.
Ek kan skryf oor die diagnose en die verskillende mediese struikelblokke wat ons gehad het, maar al wat julle werklik hoef te weet, is dat ons op 12 weke uitgevind het ons verwag ’n tweeling. Ons het ook op dié dag uitgevind Samuel het ’n toestand (agter-ureterkleppe of PUV, ’n vlies in die urienbuis wat keer dat die urine uitloop) en dat ons toe al moes ingryp om hom ’n kans te gee.
Sammy moes ’n stent kry sodat die urine van sy blaas na die vrugwatersak kon vloei. Ongelukkig is een van die gevare van dié ingryping dat die vrugwater kan begin lek. Dit het met ons gebeur en op 26 weke moes ek ’n noodkeiser ondergaan. So het ons NICU- ervaring begin.
Ek kan ’n boek skryf oor die op- en-aftuimeltrein en oor die mense wat ek ontmoet het, die mense wat ek gaan uitsoek het, die dokters, verpleegsters, medeouers, die mense wat vir my gestuur is en almal wat saam met ons gebid het. Daar was ’n weermag mense wat ’n hele jaar en agt dae saamgeglo en -gebid het.
Die PUV-diagnose was nie die rede vir hulle lang hospitaalverblyf nie, maar eerderd ’n anderd diagnose,di PIG (tussenselligetlli long-glikogeensiekte), ’n uiters seldsame longtoestand. PUV en PIG – lettertjies en verkortingsvorme vir groot monsters. Maar dit maak ook nie nou meer saak nie.
Samuel en Benjamin het vanjaar vier geword. Hulle is slim en sterk, lief vir hardloop, klim en klouter, hulle kan sien, hulle kan hoor, hulle kan praat (ongelukkig nog net Engels, maar ons werk daaraan). Behalwe vir die littekens hier en daar sou jy nie kon dink hierdie seuns was die hele eerste jaar van lewe afhanklik van ’n mediese span om hulle aan die lewe te hou nie.
Die NICU-pad is moeilik, maar so belangrik. ’n Mens leer so baie in die NICU. Ek het geleer hoe om weer met erns te bid en hoe om te glo. So bid ek nou saam met elkeen wat die brief lees en glo dat daar nog wonderwerke kan gebeur.
Dankie Abba Vader vir Samuel en Benjamin.