’n Tweede Kans
Ek kan nie glo ons is hier nie en ek wil graag my storie deel. In 2021 het ons gesin van drie uitgevind ons gaan ’n tweeling ryker word. Die mat is onder ons voete uitgeruk en ek het baie met God gestoei oor hierdie dubbele seën. Op 2 Februarie 2022 is Li-Ta om 12:20 gebore en Jo-Ha net twee minute later.
Alles het in twees gebeur: ’n Tweeling op 2/2/22, twee minute uitmekaar. Hulle was perfek, maar as protokol het dr. Chris Diffenthal van Bloemfontein albei in die NICI ( baba-waakeenheid) laat opneem. Die vierde dag het Jo-Ha sy melk begin opbring. Toe dr. Diffenthal ons die volgende oggend met besoektyd inwag, het ons geweet iets groots is fout. Jo- Ha het lug in sy buik gehad, ’n abses op sy lewer en vergrote niere. Absolute skok en ongeloof het ingetree. Hoe ontaard hierdie perfekte droom skielik in ’n nagmerrie? En ek stoei verder met God oor my aanvanklike ondankbaarheid en ek smeek dag en nag aan sy voete om Jo-Ha te spaar.
Intussen is Li-Ta ontslaan en ouboet Jan-Jac (nou vyf) is tuis by ouma in Kathu in die Noord- Kaap terwyl ons in Bloemfontein is. My hart is letterlik in drie geskeur terwyl die skuldgevoel my insluk omdat ek by slegs een van my drie kinders op ’n slag kan wees. Ná te veel x-strale om te onthou, te veel pype, drade en monitors, naalde en drups in ons klein lyfie het ons besef Jo- Ha is baie siek. Dr. Diffenthal se woorde was ’n yskoue bak water toe hy sê net Jesus kan hom nou genees. ’n RT-skandering het bevestig dat Jo-Ha met graad 4-NEK (nekrotiserende enterokolitis) gebore is. NEK tas meestal die onderste deel van die kronkelderm en die naasliggende deel van die dikderm aan. Verskillende grade van NEK kan egter enige deel van die dun- of dikderm beïnvloed. Die hele derm kan aangetas wees en kan onomkeerbaar beskadig word – ’n toestand wat min kindertjies oorleef.
Hy is op 16 Februarie teater toe vir ’n delikate prosedure waar hulle ’n groot deel van sy dikderm verwyder het. Hy was ses dae lank gekoppel aan ’n ventilator en baie pype en monitors – ’n pynlike gesig vir enige moederhart. Ons is genadiglik op 4 Maart ontslaan en is huis toe met stomasakkies. Op 22 April is Jo-Ha weer geopereer om die dikderm te heg. Die hele proses het van voor af begin.
Ons vier binnekort ons tweeling se tweede verjaardag en is ons God ewig dankbaar dat Hy ons besige seuntjie gespaar het deur dr. Diffenthal, ons aardse held. Ons voel God se ongelooflike genade en glo Hy het groot planne met Jo-Ha se getuienis. En vir eers kla ons glad nie dat ons heeldag agter hom en sy kattekwaad moet aanloop nie.