‘Vredemaker’ wou juis vlug van misdaad
Pa van 3 geskiet toe hy vriend beskerm
Hy wou net die vrede help bewaar. Toe word hy by ’n winkelsentrum in die ooste van Pretoria doodgeskiet.
JB Strydom (44) het onlangs na Brittanje geëmigreer en was net vir ’n kort besoek in die land.
Hy is gister in die parkeerterrein van die Menlyn Maine-winkelsentrum trompop in die bors geskiet toe hy glo vir ’n vriend in die bres probeer tree het.
Chantelle Ferreira, Strydom se suster, sê haar broer “was ’n regte teddiebeer van ’n mens met ’n sagte hart”.
“Dit is ’n groot skok vir ons. Een van die redes hoekom hy Suid-Afrika verlaat het, was om weg te kom van die misdaad en nou gebeur so iets met hom.”
Strydom het verlede Vrydag in
Suid-Afrika aangekom om sy twee dogters, van nege en 11 jaar oud, te kom haal.
Hulle sou Vrydag na Engeland teruggekeer het.
Strydom se 21-jarige seun en sy vrou, wat reeds saam met hom geëmigreer het, het in Engeland agtergebly.
Strydom het jare lank ’n insleepdiensonderneming in Kempton Park bedryf.
Ferreira sê ná die dood van hul ouers het Strydom besluit om die land “en al sy hartseer” agter te laat en opnuut te begin.
Haar broer was by die winkelsentrum om ’n vriend te ontmoet.
’n Woordewisseling het uitgebreek tussen die vriend en die man wat Strydom uiteindelik geskiet het.
“Al wat hy wou doen, is om sy vriend by te staan,” sê Ferreira.
’n Kort videogreep van die voorval is wyd op sosiale media gedeel.
Daarin kan gesien word hoe Strydom en die vermeende skieter se motorbestuurder handgemeen raak.
Die man bring dan ’n vuurwapen te voorskyn, vuur ’n skoot af en Strydom val dan op die grond neer.
In die video kan die geskokte uitroepe van mense gehoor word wanneer die skoot afgaan.
Cedric Martel, eienaar van Le
Martel Security wat by die sentrum was vir ’n vergadering, sê hy het die stryery op die verste punt van die parkeerterrein gehoor.
Hy sê die vrou in die video is glo die ma van die gewapende man.
“Sy was histeries en het die stryery probeer stop. Ná die tyd het sy aan omstanders gesê haar seun ken die man (Strydom) en dat hulle sake saam doen,” sê Martel.
Nog twee ooggetuies, wat anoniem wil bly, het aan Beeld vertel hoe die man geskiet is deur ’n “man met donker hare en ’n lang poniestert”.
Albei het ook die stryery gesien, maar kon nie mooi uitmaak waaroor dit gaan nie.
’n Veiligheidswag wat in die parkeerterrein aan diens was, het vertel hoe daar nadergestorm is om Strydom te help.
Hy is in ’n bakkie van die veiligheidsmaatskappy Fidelity hospitaal toe gejaag, maar is dood nog voordat die bakkie by die parkeerterrein kon uitry.
Volgens Martel het die skieter die parkeerterrein probeer verlaat, maar hy is deur ander veiligheidswagte voorgekeer.
“Die man het self sy vuurwapen aan die polisie oorhandig toe hulle daar aangekom het en is deur die polisie weggeneem,” sê hy.
■ Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die verdagte het ten tyde van die onderonsie na sy voertuig geloop, waarna hy glo met ’n vuurwapen na die groep teruggekeer en die man wat die situasie probeer ontlont het, geskiet het.
Peters het bevestig daar is op die vuurwapen beslag gelê.
Na verwagting sal die verdagte vandeesweek in die landdroshof in Pretoria op aanklag van moord verskyn.
Strydom word oorleef deur twee susters, ’n broer, sy vrou en drie kinders.
JB Strydom (inlas) word deur ’n kombers bedek terwyl die polisie die parkeerterrein ondersoek.
DIe voorval in die parkeerterrein.