Willem Boshoff se beeldhouwerk gewild
Drie beeldhouwerke van inheemse houtsoorte deur die beeldhouer Willem Hendrik Adriaan Boshoff het altesaam R466 088 op Strauss & Co se onlangse veiling van kuns en oudhede in Johannesburg behaal.
Vir sy Blinde Vis IV van olienhout, een van Suid-Afrika se mooiste inheemse houtsoorte wat verwant is aan die Bybelse olyfboom van Israel, is R90 944 betaal. Sy Paasbol-bakkie, wat hy in 1985 as een van ʼn paar gemaak het, is vir R159 152 opgeveil. Sy skepping Berylloid, ’n voorstelling met verskillende houtsoorte van die letter B in braille, in 1982 en 1983 gemaak, het R215 992 behaal. En vir ’n vierde skepping, maar hierdie keer in aluminium, Kubus, is R28 420 betaal. Laasgenoemde bestaan uit los kubustiese elemente wat op ’n spesifieke manier gegroepeer word om dan in ’n vierkantige kubustiese houer te pas. Dit laat mens aan die sogenaamde Kubus van Rubick dink. Vir Boshoff is dit ’n abstraksie of simbool van ’n middestad.
Willem Boshoff is in 1951 in Vereeniging gebore en is nou woonagtig in Kensington, Johannesburg. Hy is ʼn Christen-gelowige wat by geleentheid as lekeprediker die Woord verkondig het. Hy hou daarvan om Christelike simboliek in sy beeldhouwerk te vergestalt. Ook het hy groot empatie met blindes, en dit word dan ook in sy werk gereflekteer. Aan die bokant van Blinde Vis IV het hy in braille ’n aanhaling uit ’n liedjie Something in the Way van die Rock-groep Nirvana bevestig: “It’s O.K. to eat fish, because they don’t have any feelings”.
Die betrokke kunswerk is een van ’n reeks van nege. Hierdie een is egter die enigste een wat van olienhout geskep is. Van die ander is van inheemse kiaat. Aan elkeen van die nege beeldhouwerke in hierdie Blinde Vis-reeks is ʼn betekenisvolle aanhaling in braille-teks geheg.
Boshoff het sy kunsopleiding aan die Kunsskool van die Johannesburgse Tegniese Kollege ontvang. Sy vader, Martiens Boshoff, was ’n skrynwerker, en Willem het by hom geleer om hout met respek en liefde te bejeën. Hy het egter ook sy beeldhouerstalent met metaalwerk op die proef gestel en ’n reeks van 13 beeldhouwerke geskep. Hy het ’n ou stal in Parktown, Johannesburg, gehuur en dit in ’n kunsateljee omskep. Ook het hy daar saans kunsklasse aangebied.
Boshoff doen ook skilderwerk in olieverf, en sy kunsstyl kan as ekspressionisties bestempel word. Sy skilderye kom dikwels voor op veilings van Stephan Welz & Co en Strauss & Co.
In 2001 het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n ere-medalje vir die visuele kunste en beeldhouwerk aan hom toegeken, en in 2008 het die Johannesburg University of Technology ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken.
Hy het in 2000, toe dit nog die Randse Afrikaanse Universiteit was, ’n beeldhouwerk van 33 ton, Kring van Kennis, op die kampus opgerig. Dit bestaan uit 11 rotse met aanhalings in die 11 amptelike landstale daarop gegraveer.
In 2004 het hy ’n plaket in graniet ontwerp vir die Konstitusionele Hof op Constitutional Hill in Braamfontein met die name van agt ANC-lede wat in die Rivoniaverhoor in 1964 in die Hooggeregshof van Suid-Afrika aan hoogverraad teen Suid-Afrika skuldig bevind is en op 12 Junie van daardie jaar tot langtermyngevangenisstraf op Robbeneiland gevonnis is. Die gedenksteen dra die opskrif Prison Sentences.