Vioolsdrif se temperatuur van 50,1 °C nie korrek gemeet
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het gister erken dat die onlangse snikhete temperatuur in Vioolsdrif in die Noord-Kaap wat deur sy weerstasie gemeet is toe nié ’n korrekte meting was nie.
“Hierdie data kom direk van die instrumente af en die gehalte daarvan is nie gekontroleer nie. Daarom word dit as voorlopige data beskou,” het die SAWD gister in ’n verklaring gesê.
Die weerstasie in Vioolsdrif, een van die plekke in Suid-Afrika waar die warmste temperature gereeld aangeteken word, het verlede Vrydag die maksimum temperatuur op 50,1 °C gemeet.
“Die SAWD het besef dat as dié meting korrek is, dit ’n nuwe nasionale rekord vir SuidAfrika sou beteken. By nadere ondersoek het dit aan die lig gekom dat die temperatuursensor net twee dae tevore vervang is en daar is besluit dat die weerstasie oor die naweek gemonitor sal word. Die ontleding van die gegewens het toe getoon dat die werking van die sensor twyfelagtig is en dat die voorlopige temperatuurlesing van 50,1 °C dus ongeldig is,” sê die SAWD in ’n verklaring.
Suid-Afrikaners het verlede week behoorlik gesweet toe uiters hoë temperature in veral Gauteng, die oostelike dele van Noordwes, die oostelike dele van die Vrystaat, die westelike dele van Limpopo en Mpumalanga aangeteken is.