Vyf elande vrygelaat om ekostelsel te help
Vyf elande (Taurotragus oryx) is Woensdag op die Vergelegenwynlandgoed in Somerset-Wes vrygelaat as deel van ’n navorsingsprojek om die ekostelsel se diversiteit ’n hupstoot te gee.
Die vyf – Mike, Gibbs, Berni, Uniqua en Little P – se vrylating is deel van die Gantouwprojek se jongste fase. Die elande was die afgelope vyf jaar deel van ’n navorsingsprojek wat hul historiese migrasie naboots. Die elande word op ’n natuurlike wyse ingespan om die ekostelsel se diversiteit te verhoog.
Die projek van die Cape Town Environmental Education Trust (CTEET), ’n organisasie sonder winsbejag, is voorheen op die duinestrandveld op die Kaapse Vlakte aangepak en het nou na die renosterveld op Vergelegen verskuif. Die projek is luidens ’n verklaring sedert 2015 aan die gang.
Volgens dr. Anthony Roberts, uitvoerende hoof van die CTEET, beteken “Gantouw” (’n Khoi-woord) “die manier van die eland”.
“Dit verwys na ’n pad wat die elande oor baie jare heen uitgekerf het soos wat hulle heen en weer vanaf die Kaapse Vlakte oor die Hottentots-Hollandberge migreer het,” sê hy.
Volgens hom het verstedeliking gefragmenteerde ekostelsels veroorsaak, waarvan baie in duie stort. Deur elande in die veld vry te laat, word bosindringing voorkom en begin die veld se kenmerkende diversiteit terugkeer. Die ekostelsel werk ook meer doeltreffend.
Die elande se impak op die veld sal met die hulp van hommeltuie en opnames oor diere en plantegroei gemonitor word. Die opnames sal die diere se gekose weiding aandui, die impak op fauna en flora en die veld se dra-kapasiteit.
Daar is drie elandkoeie en twee gekastreerde bulle wat van die Elandberg in Wellington kom. Die projek sal vyf jaar duur en dan weer hersien word.
Vergelegen het ’n kamp van 10 ha groot voorsien. Die CTEET het ’n boma in die kamp as skuiling vir die elande opgerig. Die landgoed se bestuur sal die elande se gesondheid monitor. Die CTEET sal navorsing doen, die ekologie deurlopend monitor en ’n jaarverslag indien.
In die projek se eerste fase is gekonsentreer op die Kaapse Vlakte-duinestrandveld wat slegs in Kaapstad se laaglande voorkom. Op Vergelegen beslaan die elande se weiding verskeie spesies fynbos, soos renosterbos.