Nuwe eienaar van KWV se La Concorde-gebou het groot planne
Die historiese La Concorde-gebou in die Paarl wat dekades lank KWV se hoofkantoor was, het ’n nuwe eienaar.
Dié gebou en ander bates, soos KWV se kunsversameling en Laborie, is nie saam met sy bedryfsbates in 2016 aan die Vasari-groep verkoop nie. Die handelsnaam is wel saam na dié groep.
Die gebou het onlangs ’n nuwe eienaar gekry – Giflo, ’n eiendomsontwikkelingsgroep.
Volgens Michiel Scharrighuisen, direkteur en mede-eienaar van Giflo, word hul hoofkantoor reeds ses jaar in La Concorde gehuisves. Hy sê hulle het groot planne vir die gebou. Dit gaan opgeknap word om die erfenis te bewaar, maar terselfdertyd gaan dit gemoderniseer word.
“Dit borrel van potensiaal,” sê Scharrighuisen in ’n verklaring.
Die opdrag vir die bou van La Concorde is in 1953 gegee en die gebou is in 1958 voltooi. Dit het die belangrikheid van die wyn-en-brandewynbedryf in die Boland weerspieël, sê Scharrighuisen.
La Concorde is op ’n perseel van 25 000 m2 geleë. Die indrukwekkende ingang vertoon drie gewels wat deur die Spaanse beeldhouer Florencio Cuairan ontwerp is.
Die gebou het lang gange en hoë plafonne en ’n koepelvormige voorportaal wat met mosaïek versier is. Daar is koperrelings op die trappe en koperhandvatsels is oral aangebring.
Die gebou het plek vir meer as 40 huurders vir kantore van 17 m2 tot 1 300 m2. Redelik baie van dié plek staan leeg.
Scharrighuisen sê in die fleur van KWV se lewe het die eiendom sportgeriewe, soos muurbalbane en ’n swembad, gehad, maar dit het in onbruik verval. Giflo gaan nuwe, moderne geriewe ontwikkel as deel van die herontwikkeling.
“Weens die grootte van die gebou maak dit sin om ’n verskeidenheid van geriewe te bied om aan huurders ’n beter ervaring te gee.”
Die bestaande kafeteria en koffiewinkel word eers behou.
Die planne sluit in dat ’n oefenplek, bêreplek vir fietse, stortgeriewe en ’n braaiplek op die dak bygevoeg word, aldus Scharrighuisen.