Hof toe oor ‘skatte uit die see’
SALDANHA – Wakker polisiebeamptes van Saldanha het Maandag ’n verdagte met ’n sak vol onwettige kreef en klipmossels vasgetrek.
Die man se makker, wat nog ’n groter volgestopte sak by hom gehad het met “skatte uit die see se spens”, het weggekom en is steeds soek.
Volgens ao. Yolanda Kotze, woordvoerder van Saldanhapolisie, was konstabels Mzukisi Chama en Venketesh Septoo op patrollie toe hulle twee mans op die agterste grondpad tussen Diazville en Jacobsbaai verbygesteek het.
Kotze sê die stappers het van die see se kant af gekom en het in die rigting van Diazville beweeg. Hulle het twee groot sakke by hulle gehad en het uiters verdag voorgekom.
Die konstabels het dadelik hul voertuig omgedraai om die mans te gaan ondervra.
Toe die verdagtes sien die polisie het snuf in die neus gekry, het hulle elkeen in ’n ander rigting gevlug. Die een man (25) is deur die polisie vasgetrek terwyl die ander een tussen Diazville se huise verdwyn het. Die man wat in hegtenis geneem is, het 21 maatkrewe, 19 ondermaat-krewe en 113 klipmossels by hom gehad. Hy het Dinsdag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.