Familie spoor man se lyk op
Die lyk van ’n man van De Doorns wat verdwyn het, is die afgelope week deur sy familie in die berg gevind.
Elroy Plaatjies (34) se familie sê hy en ’n onbekende kennis is Saterdag (4 Julie) die berg in, maar hy het nooit teruggekeer nie.
“Ons het Dinsdag (7 Julie) begin bekommerd raak en ek het begin navraag doen oor waar hy moontlik kan wees, maar niemand kon my help nie,” sê Maryna Tarentaal, die oorledene se suster.
Tarentaal het haar broer die Woensdag (8 Julie) by die De Doorns-polisiekantoor as vermis aangemeld.
Die polisie het blykbaar twee keer onsuksesvol in die berg gesoek waar sy lyk later gevind is.
Die familie het toe self na Elroy gaan soek en sy lyk uiteindelik gekry.
“Ons was natuurlik baie geskok om sy lyk te kry,” het ’n familielid gesê.
Dit is nie bekend hoe hy dood is nie.
“Dit is vir ons as familie ’n baie hartseer tyd en ons is steeds baie emosioneel oor die wrede manier waarop hy gesterf het.”
Tarentaal sê haar broer was ’n ekstrovert “met ’n fantastiese sin vir humor” en het baie vir sy medemens omgegee.
Elroy het twee dogters wat hy agterlaat.
“Ek sal hom altyd onthou vir sy liefde vir musiek en hy het nêrens gegaan sonder sy musiekinstrumente nie. As kind het hy self sy eie musiek gemaak.”
Die Tarentaal-familie kom steeds tot verhaal en is nog onseker oor die presiese gebeure wat tot sy dood gelei het.
“Toe ons sy liggaam opspoor, moes ons drie uur lank klim tot waar hy gelê het. Dit was baie moeilik om by die lyk uit te kom omdat dit so hoog in die berg was.”
Die De Doorns-polisie ondersoek ’n saak van moord.