Transnet sê oor 3 maande
SALDANHA – Die gemeenskap se ongelukkigheid oor die Saldanhahaweowerheid, Transnet Port Terminals (TPT), se aanstellingsproses wat glo plaaslike werksoekers uitsluit, is verlede Maandag deur die Transnet-groep se topbestuur aangehoor.
Volgens ’n Transnetpersverklaring wat op
28 Julie uitgereik is, het
Portia Derby, die
Transnet-groep se uitvoerende hoof, verlede Maandag
(27 Julie) met die leiers van verskillende plaaslike gemeenskapsorganisasies vergader oor hul griewe wat in Julie tot gewelddadige betogings in onder meer Saldanha en Vredenburg gelei het.
Verlede week se vergadering met Derby spruit oënskynlik uit hierdie gemeenskapsorganisasies se “nieamptelike byeenkoms” vroeg in Julie met verteenwoordigers van Transnet.
Weslander het op 16 Julie berig ’n video is via WhatsApp rondgestuur waarin ’n groep betogers met werknemers van TPT by die Saldanhahawe-ingang vergader om hul griewe ten opsigte van die vermeende aanstelling van buitelanders of mense van ander provinsies in poste as vragmotorbestuurders te bespreek.
Betogings en plundering van winkels en openbare eiendom het hierop gevolg.
Lipuo Lebekeng, woordvoerder van die TPT, het dié aanvanklike vergadering met die betogers nie ontken nie en sou volledige terugvoering vir Weslander saamstel.
Weslander wou by navraag weet of die betogers se klagtes meriete het en indien wel, hoe TPT se moontlike aanpassings in sy aanstellingsproses in die toekoms sal help om meer plaaslike mense te akkommodeer.
Dit blyk egter hierdie antwoorde sal eers beskikbaar wees ná ’n uitgesette tydperk wat TPT sal gebruik om oor oplossings te beraadslaag.
Die terugvoering sal eerste met die onderskeie gemeenskapsforums gedeel word, wat op 27 Julie die amptelike vergadering met Derby bygewoon het.
Die persverklaring van 28 Julie maak egter nie melding van die aanvanklike vergadering vroeg in
Julie met die gemeenskapsleiers nie en verklaar dat 27 Julie se vergadering deel is van “die uitvoerende hoof se betrokkenheid by rolspelers van die Weskus, soos die Saldanhabaainywerheidsontwikkelingsone (IDZ) wat samewerking tussen die breër gemeenskap en Transnet wil versterk”.
’n Deel uit die genoemde persverklaring beaam wel die werksoekers se klagtes soos aanvanklik deur Weslander waargeneem en lui só: “Die griewe wat deur gemeenskapsleiers geopper is, is onder meer uitdagings met betrekking tot Transnet se verkrygingsprosesse, indiensnemingspraktyke deur Transnet se verskaffers en diensverskaffers sowel as die ontwikkeling en verbetering van die werksmag in Saldanha.”
Derby het haar daartoe verbind om oor drie maande antwoorde aan die gemeenskapsleiers te gee.
Volgens die verklaring sal Transnet in hierdie tyd besluit watter stappe hy sal doen om probleme die hoof te bied. Die organisasies wat op 27 Julie met Derby vergader het, sluit die All Truck Drivers Foundation, Cosatu, Satawu en Sanco in.