Taxigeweld broei in die Vallei
BREEDEVALLEI – Twee taxibestuurders is in afsonderlike voorvalle oor die naweek doodgeskiet.
Die eerste was ’n voorval in De Doorns se middedorp laat Vrydagaand (31 Julie) en die tweede ’n afsonderlike voorval Saterdagoggend (1 Augustus) op die R60-pad net buite Worcester.
Mense het hul medelye met die taxibestuurders se families op sosiale media uitgespreek, maar het ook hul kommer uitgespreek oor die veiligheid van veral taxibestuurders.
“Volgens inligting wat aan ons verskaf is, het die taxibestuurder Saterdag twee onbekende rylopers met sy Toyota Avanza op die R60/Robertson-pad opgelaai,” sê sers. Annelize
October van die Worcesterpolisie. Sy het bygevoeg die slagoffer is in die rug en agterkop geskiet.
Die motief vir die moord op die taxibestuurder in De Doorns is in hierdie stadium nog onbekend.
“Ons kan nie op hierdie tydstip bevestig of die twee voorvalle met mekaar verband hou nie en dit word tans as twee aparte ondersoeke hanteer.”
October het bevestig niemand is nog in verband met enige van die twee voorvalle in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met verdere inligting oor die voorvalle word aangeraai om hul naaste polisiekantoor te kontak.
Taxi’s mag volgens die nuwe inperkingsregulasies nou weer hul voertuie tot volle kapasiteit laai.