Kerkraadslid in September weer voor oor PAV-werkers se geld
WORCESTER. - ’n Plaaslike vrou (58) wat na bewering werkers van PA Venter Shopfitters (PAV) se spaargeld vir regskostes vir haar eie gewin gebruik het, was intussen weer in die Worcesterhof.
Volgens inligting wat aan Standard deurgegee is, beweer die vrou sy het die geld wat sy skuld in haar prokureur se rekening inbetaal en het sy genoem dat afhangende van wat in die saak teen haar gebeur, dit eers daar gaan bly.
PA Venter-werkers het vroeër vanjaar aan Standard genoem hulle het die vrou vertrou omdat sy ’n “gerespekteerde kerkraadslid” is.
“Sy het aan ons genoem dat sy ’n bankrekening het wat sy nie gebruik nie en die rekening kan dus gebruik word vir die werkers om saam te spaar.”
Sowat 30 werkers het sedert Maart 2019 elke maand R100 in die rekening gespaar, maar toe hulle navraag doen om die geld aan die prokureurs van die werkers oor te betaal, was daar blykbaar net R18,09 in die rekening.
“Dit was ’n reuseskok omdat ons dit nooit verwag het dat sy die geld vir haar eie gewin sal gebruik nie.”
In ’n stemopname wat in Standard se besit is, noem die vrou sy het die afgelope tyd “baie pyn” deurgemaak en sy “gee nie om of die werkers haar verder wil vervolg nie”.
“Om nagte om te sit en huil by die Here is nie ’n lekker saak nie.”
Die vrou het vroeër in die jaar genoem dat die geld gebruik is vir mediese uitgawes en volgens haar gaan hulle weer op 16 Augustus na die Panorama- private hospitaal in Kaapstad vir verdere ondersoek.
Die bedrag wat aan die werkers verskuldig is, is tans in die trust-rekening van die vrou se prokureur en daar word nog gewag om te kyk wat gebeur met die hofsaak teen haar voordat verdere aksie oor die geld geneem word.
Die vrou moet op
16 September weer in die Worcester-hof op die aanklag van diefstal verskyn.