Jan Taks se SMS’e – hier is die volle storie
Baie – waarskynlik miljoene – mense het die afgelope week SMSboodskappe van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gekry. Daarin word genoem dat jy reeds aangeslaan is en jy moet net die uitslag – of jy geld terugkry of moet inbetaal – goedkeur of wysig.
Ek hoor van heelwat mense wat dink dis ’n bedrogspul.
Dit is nie.
Dit is bloot ’n vriendelike Jan Taks wat mense in die Covid-19-pandemie probeer help sodat hulle nie in lang rye en te na aan mekaar by inkomstebelastingkantore hoef te staan om hul opgawes in te dien nie.
Dit is egter nie in alle gevalle so eenvoudig nie, soos ek verder aan verduidelik.
Maar eers wil ek waarsku: Ek het sommer binne dae ook gesien hoedat bedrieërs nie op hulle laat wag het nie en mense probeer vang met soortgelyke e-posse, waarin genoem word dat daar geld aan jou verskuldig is, in ’n poging om jou bankbesonderhede te verkry.
Die SAID sal nooit vir jou e-pos of ’n SMS stuur waarin jou bankbesonderhede gevra word nie.
Dié van ons wat gereeld met Jan Taks werk, weet dat selfs waar jy vir hulle jou bankbesonderhede wil en moet gee, dit ’n administratiewe nagmerrie kan wees.
Jan Taks gaan só te werk: Eers is derdepartye, byvoorbeeld werkgewers, beleggingsbestuurders en mediese fondse, gevra om alle tersaaklike inligting oor individue aan die SAID beskikbaar te stel. Dit moes teen 31 Mei gedoen wees.
Die volgende stap was ’n outomatiese belastingaanslag wat op 1 Augustus begin het – vandaar die SMS’e van die SAID om belastingbetalers in te lig dat derdeparty-inligting gebruik is, dat ’n belastingopgawe namens hulle voltooi is en dat ’n voorlopige aanslag op die
SAID se eFiling-stelsel of MobiApp beskikbaar is.
Hierdie belastingbetalers moet dit net hersien en die aanslag digitaal óf aanvaar óf wysig.
Aanvaar jy dit, hoef jy nie ’n belastingopgawe in te dien nie, aangesien dit reeds vir jou gedoen is. As jy ’n terugbetaling moet kry, sal die SAID jou geld soos gewoonlik terugbetaal. Maak net seker dat jou bankbesonderhede by die SAID op datum is.
As jy geld moet inbetaal, kan jy soos gewoonlik jou betaling deur eFiling of die MobiApp doen.
Dit is alles goed en wel. Maar voordat jy vir Jan Taks dankie sê dat dit so maklik is en alles sommer net aanvaar, maak eers seker dat jy jouself nie in die voet skiet nie.
Maak dood seker dat die inligting wat die SAID van jou het, korrek is, voordat jy die outomatiese aanslag aanvaar.
Vergelyk die belastingsertifikate wat deur jou werkgewer, beleggingsbestuurder of mediese fonds ingedien is met die outomatiese aanslag.
Onthou ook dat jy dalk vir belastingaftrekkings kwalifiseer waarvan die SAID nie weet nie, byvoorbeeld as jy huurinkomste gekry het, of as jy bykomende mediese uitgawes gehad het wat nie by jou mediese fonds aangeteken is nie.
Daar is egter ook diegene wat nie outomaties aangeslaan kon word nie. Baie van hulle het ook SMS’e van die SAID ontvang om dit vir hulle te sê. Dis meestal mense met uitstaande belastingopgawes.
As jy nie outomaties aangeslaan is of dit nie aanvaar het nie, is die volgende datums vir die indien van jou opgawe van toepassing:
● 1 September – 16 November 2020: Nievoorlopige belastingbetalers aanlyn deur eFiling of die MobiApp.
● 1 September – 22 Oktober 2020: Belastingbetalers wat nie elektronies kan indien nie, kan by sekere van die SAID se kantore indien, maar slegs per afspraak. Besoek sars.gov.za om dit te doen en klik op “Book an appointment”.
● 1 September 2020 – 29 Januarie 2021: Voorlopige belastingbetalers dien hul opgawes deur eFiling in.
● Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen