Jong Arende fnuik
Die SWD o.20-rugbyspan het Vrydagmiddag hul lywe op die spel geplaas met hul puik verdediging teen die gedugte span van die Valke op Outeniquapark.
Die Arende het ‘n volpunte oorwinning van 29-27 behaal nadat hulle rustyd reeds 15-10 voor was.
SWD se afrigtingskorps verdien ‘n pluimpie, want hulle het beslis hard gewerk aan die span se verdediging wat in die vorige wedstryde gelol het.
Die Arende is na 6 wedstryde tweede op die punteleer in die Curriebeker se o.20kompetisie met 24 punte en ‘n punteverskil van (+50). Die span het vroeg in die wedstryd gewys waarom hul reeds 36 drieë in 6 wedstryde gedruk het deur die bal deur ses fases te behou en met ‘n skitterende drie onder die pale afgerond het.
Die tuisspan se skrumwerk was soos altyd baie goed asook hul balhantering was uit die boonste rakke. In die lynstane het die Valke hul egter ore aangesit met hul veel langer slotte. Die nuweling-agtsteman, JohnGraham Botha van Rosemoor, het beslis sy toekenning as speler van die wedstryd verdien.
Hy was uitstaande op die verdediging en aanval en is goed bygestaan deur AdriaanLee du Preez (flank), Franco Boshoff
(vaskopstut) en Justin Levendal (slot en kaptein).
Agterlangs het Aiden Josephs (skrumskakel) en die senterpaar, Ronaldo Jansen en Mikyle Roelfse, die oog gevang.
Earl Manie, hulpafrigter, het aan die George Herald gesê dat hul baie tevrede is met dié oorwinning aangesien dit hul mikpunt was teen die sterk span van die Valke. Die Jong Arende speel Saterdag om 14:00 teen hul eweknie van Grens in Oos- Londen.
PUNTEMAKERS
SWD o.20 29 (15): Drieë - Joe Rooyakkers (slot), Jaywin Petersen (linkervleuel), Ronaldo Jansen (buitesenter, 2). Doelskoppe: Tristan Fourie (losskakel, 3). Strafdoel: Fourie.
Valke o.20 27 (10): Drieë - Byron Nysschen (vaskopstut), Reece Bocks (slot), Keaton Gordon (linkervleuel), Gavin Pienaar (binnesenter), Dylan Stiemmie (heelagter). Doelskop: Joshua Petro (buitesenter).
Die Arende het ‘n volpunte oorwinning van 29-27 behaal nadat hulle rustyd reeds 15-10 voor was.