H5N8 brei verder uit, knou volstruisbedryf
Altesaam 17 voorvalle van die hoogspatogene H5N8-Avian Influenza (AI) virusstam is tot dusver in die Wes-Kaap aangeteken.
Verskeie pluimvee- en volstruisplase en wilde voëls in Suid-Afrika word beïnvloed deur dié virus, wat die afgelope twee jaar tot geweldige inkomsteverliese in die pluimveebedryf in Noord-Amerika en Europa gelei het.
Kwarantyn
Sewe voorvalle van die H5N8-virus is op kommersiële volstruisplase by Heidelberg, en op een plaas in die omgewing van Oudtshoorn gevind. Altesaam 19 plase by Heidelberg en 27 plase by Oudtshoorn, wat binne ‘n 10 km radius van die besmette plaas is, is onder kwarantyn geplaas.
“Weens die verbod op die uitvoer van rou vleis, kry volstruisprodusente reeds
R500 minder per volstruis,” sê dr. Adriaan Olivier van die SA Volstruis-besigheidskamer (SAVBK).
Die volstruisbedryf verskaf werk aan sowat 15 000 mense, wat indirek 100 000 mense se voortbestaan beïnvloed. “Dit is ook in die landelike gebiede waar werksgeleenthede en voedselsekuriteit ‘n uitdaging is, want die landelike ekonomie steun swaar op landbou,” sê Olivier.
Roetine-toetse
Sedert 2008 moet alle volstruise gereelde standaard roetine-toetse ondergaan. Dit is tydens so ‘n roetine-toets dat die H5N8virus in Augustus op twee volstruisplase in die Heidelbergdistrik gevind is. Geen volstruisvrektes weens die virus is tot dusver daar aangemeld nie.
Volgens Olivier is die virus tydens ‘n roetine- nadoodse ondersoek gevind by ‘n volstruis wat op ‘n plaas tussen Oudtshoorn en Calitzdorp gevrek het.
Nie noodwendig van virus gevrek
Vyf broeivolstruise het oor die tydperk van ‘n week op dié plaas gevrek. Dit is die eerste keer dat die H5N8-virusstam by ‘n volstruis in die Klein-Karoo gevind is. “Dit beteken egter nie dat die volstruise weens die virus gevrek het nie,” beklemtoon Olivier.
Daar is verskeie ander redes waarom volstruise in ‘n vryloopstelsel vrek, naamlik wanneer hulle in heiningdrade vashardloop en hul bene breek, of hulle vreet giftige plante wanneer daar tydens ‘n droogte, soos nou, min ander voeding in die veld is.
“Geen verdere vrektes het sedertdien op die plaas by Oudtshoorn voorgekom nie en die res van die volstruise op die plaas is oënskynlik gesond. feitlik onmoontlik om alle kontak te vermy,” sê Olivier. “Elke volstruisplaas is tydens die voortslepende droogte in die Wes-Kaap ‘n klein oase vir wilde voëls omdat daar kos en water voorsien word.”
Volgens die Dieresiektewet, Wet 35 van 1984, is Avian Infuenza (AI) ‘n aanmeldbare siekte. Alle afwykende gedrag, siektetoestande en vrektes moet onmiddellik by ‘n staats- of privaat veearts aangemeld word.
Die virus word vermoedelik deur migrerende watervoëls versprei.
Ander wilde voëls waarby die virus sedert die uitbreking by Heidelberg voorgekom het, sluit in wilde tarentale by Swellendam, Caledon en Heidelberg, en by laasgenoemde ook ‘n kransduif, wildemakou, en kraanvoël, en by Worcester ‘n lagduifie. Volgens Olivier is daar tot dusver geen voorvalle van die virus wat van volstruise na pluimvee oorgedra word nie.
Daar is ook geen voorvalle aangemeld wat die virus na die mens oorgedra is nie.
Veilig vir menslike gebruik
Olivier gee die versekering dat volstruisprodukte op winkelrakke veilig is vir menslike gebruik.
Volstruise ondergaan toetse voor slagting en alle volstruisvleis wat te koop is, is veilig vir menslike gebruik.
Die beweging van volstruiseiers en -kuikens in die kwartantyngebied word beheer en volstruise van plase buite die kwarantyngebied mag slegs geslag word indien hulle negatief vir die H5N8-virus toets.
Biosekuriteit
Biosekuriteit is die belangrikste metode om die verspreiding van die virus te keer en volstruisprodusente word gemaan om toegangsbeheer tot die plaas streng te beheer, voertuie en kleding te ontsmet, van voetbaddens gebruik te maak, en enige wilde voëls of gemorste kos te verwyder.
Rig enige navrae aan die SAVBK by
044 272 3336.