George Herald

Arende se lot in Valke se hande

- Hugo Redelinghu­ys

O, droewighei­d. Die Arende se kanse om deur te dring na die halfeindro­nde van die Curriebeke­r se Eersteliga is nou grootliks in die hande van die Valke.

Hulle sal boonop ook die OP Kings in hul laaste wedstryd in dié reeks Vrydagaand op Outeniquap­ark met ‘n bonuspunt moet klop. En dan net hoop die Valke val vas.

Die Arende lê in die vierde plek op die puntelys met 17 ná ses wedstryde. Die Boland-Kavaliers is derde, ook met 17 punte, maar het nog net vyf wedstryde agter die rug.

Dis egter die Valke, vyfde op die puntelys met 16 punte, wat nou sorg vir benoude boude. Die Valke het nog net vyf wedstryde gespeel en kan met bonuspunte in sy oorblywend­e twee wedstryde die Arende dus uit die topvier skuif.

Die Griffons, eerste met 30 punte, en die Luiperds, tweede met 24 punte, se plekke is reeds in die halfeindst­ryd bespreek.

Vir die Grens-Bulldogs (14), die Welwitschi­as van Namibië (12) en die OP Kings (4) is dit lankal neusie verby.

Juis daarom sal die Arende Vrydagaand wil vergoed vir hul treurmare verlede naweek in Wellington deur die OP Kings goed te klop.

Die Boland-Kavaliers het die Arende se Bolandse-uitstappie sleg bederf deur hulle met 48-20 af te slag. Die Suid-Kapenaars het hulle vasgeloop in ‘n omgesukkel­de span oor wie se vermoëns daar kwaai getwyfel is. Maar die Bolanders het die doemprofet­e verkeerd bewys en getoon dat hulle wel in die topvier in die Eersteliga tuishoort.

Dié terugslag vir die Arende was waarskynli­k nie die verrassing van die jaar nie hoewel mens tog heimlik gehoop het dat hulle dié wedstryd kon wen en hul plek in die halfeindro­nde vasmessel.

Nou is hulle oorgelaat aan permutasie­s waaroor hulle feitlik geen beheer het nie. Dit was sweerlik nie die plan nie.

Nou ja, met ‘n vyftig persent slaagsyfer was so iets sekerlik te wagte.

Dis nou mooimaak en effe opmaak Vrydagaand teen die OP Kings. Afskoptyd is om 18:00.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa