George Herald

Werkgewer en werkers skik na voorval by Wimpy

-

Salette Cloete

Alhoewel voormalige werkers van Wimpy en hul werkgewer geskik het, blyk dit of die stof rondom die beweerde rassisties­e voorval by die tak in Yorkstraat in Oktober verlede jaar, nog lank nie gaan lê het nie. 'n Groep van agt vroue is glo summier afgedank nadat hulle van diefstal beskuldig is.

Die vroue het tussen twee en 12 jaar vir die spesifieke tak gewerk. Volgens Ernest Vorster, die groep vroue se verteenwoo­rdiger, het niemand ooit skuld erken nie en was daar ook geen bewyse aan hulle getoon, om die beweerde diefstal te staaf nie.

Die groep het toe hul saak na die CCMA geneem waar daar buite die hof geskik is. Volgens die skikkingso­oreenkoms moes die eienaar 'n kontantbet­aling aan elk van die agt maak asook verwysings gee vir ander werk. Die vroue vertel hulle wou eerder hul werk terug hê, maar die eienaar het glo binne 24 uur na hul afdanking nuwe mense aangestel.

Volgens Vorster sukkel hulle steeds om al die geld te kry.

"Die eienaar moes teen 20 Maart 2018 al die geld uitbetaal het, maar twee vroue wag steeds vir hul geld. En hy het verskoning op verskoning hoekom die geld laat is."

Vorster sê dit blyk die eienaar dink hy is bo 'n CCMA-ooreenkoms wat so wettig soos 'n hofbevel is. "Die man moet ophou kat-en-muis-speel en doen waaroor daar wettiglik ooreengeko­m is," sê Vorster.

"As hy nie die laaste twee vroue se geld uitbetaal nie, sal ons verdere stappe moet neem soos byvoorbeel­d dat daar op eiendom beslag gelê word."

Casper du Plessis, die eienaar van die Wimpy-tak in Yorkstraat, sê hy het sy kant van die CCMAooreen­koms nagekom.

Volgens Du Plessis het hy opgedaag vir die saak, en vra hoekom al agt vroue nie kon opdaag nie. "Ek het die ses betaal wat wel opgedaag het. Moes ek nou die ander twee gaan soek en hulle dan betaal?" wou hy weet. Volgens Vorster het die twee vroue hul datums verkeerd gehad, en wou hulle nie 'n tweede dag afvra by hul nuwe werk nie. "En Du Plessis het daar tydens die verhoor belowe dat hy die twee apart sal betaal, nou wil hy nie sy belofte nakom nie."

Du Plessis sê ook hy het verwysings vir die vroue vir nuwe werk, maar dit is steeds by hom want niemand het dit kom haal nie. Volgens hom het hy die bewyse van diefstal by hul verhoor gehad, maar hy kan nie help dat hulle nie daarvoor opgedaag het nie.

"Hulle vat my CCMA toe en wou net geld hê, niemand wou eens na die video kyk nie." Hy meen hy het sy verpligtin­g nagekom en die saak is afgehandel.

Die vroue vertel hulle is die dag van hul afdanking ingeroep, daar is aan elkeen gesê wat hulle blykbaar gesteel het, en is sonder enige interne ondersoeke of tugverhore laat gaan. Vorster sê boonop is die vroue ook deur Du Plessis beledig. "Dis nie net gemaak teenoor die vroue dat steel deel van hul kultuur is nie, maar ook teen hul ouers, gemeenskap en 'n hele ras."

Hy voel wat die eienaar doen is om sy mag teen hul omstandigh­ede te gebruik. "Dis almal vroue met gesinne wat hulle moet onderhou. En hy maak dit baie moeilik, veral vir sy voormalige bestuurder, om weer werk te kry."

Hy verduideli­k die voormalige bestuurder het al telkemale aansoek gedoen vir werk, en wanneer daar gebel word vir verwysings, word daar gesê sy moet die waarheid vertel hoekom sy daar weg is. En dit was nie deel van die ooreenkoms nie. Hy sê van die ander vroue was gelukkig omdat hulle hom nie direk as verwysing genoem het nie, maar wel die bestuurder. Dit het gehelp dat hulle werk gekry het.

Vorster sê dis jammer dit moes so gebeur, omdat die werkers eens op 'n tyd 'n baie goeie werksverho­uding met die eienaar gehad het.

Regan Brown, die groep se regsvertee­nwoordiger, sê hy gaan slegs insit tydens die kriminele saak en is daar vir instruksie­s tydens die siviele saak.

Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaap polisiewoo­rdvoerder, sê eerstens is 'n saak teen 'n verdagte gemaak, maar die saak is nie in die hof aangehoor nie, omdat dit CCMA toe is. Pojie sê daar is ook twee kriminele sake gemaak, maar beide partye het hul sake teruggetre­k. Pojie het bygevoeg dat ene John Bruinders, wat nie 'n werknemer by Wimpy was of is nie, 'n saak van crimen injuria gemaak het in Oktober verlede jaar wat verband hou met die voorval waartydens die vroue beledig is. Pojie sê die saak is gemaak na aanleiding van woorde wat in sy, Bruinders, se teenwoordi­gheid gemaak is wat sy eer gekrenk het. Die saak is uitgestel tot 30 Mei.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa