Polisie waarsku oor toename in bedrog in middedorp
Kristy Kolberg
Bedrog in die middedorp is aan die toeneem en lede van die gemeenskap word gemaan om hierteen waaksaam te wees.
Volgens George-polisiestasie se kommunikasiebeampte, sers. Michael Opperman, het bedrog in die sakekern die afgelope drie maande (April, Mei en Junie) 'n skerp toename getoon in vergelyking met verlede jaar. "Mense moet hulle nie laat vang deur enige beloftes van 'n winskopie nie," sê hy.
Sosiale media
Sosiale media blyk dit makliker te maak vir booswigte om mense om die bos te lei. "Onskuldige mense word op een of ander manier gelok deur middel van advertensies op webtuistes, sosiale platforms, telefoonoproepe en SMS’e wat dan gepaard gaan met 'n verneukspul en tot bedrog lei. Niemand is te slim om 'n slagoffer te word nie," sê Opperman.
Besighede 'n teiken
Volgens Opperman is daar deesdae al hoe meer besighede wat deurloop. Hy sê dat gevalle waar mense items by besighede bestel en betaal en dan weer die geld uit die besigheid se rekening onttrek wanneer die item afgelewer is, steek ook nou kop uit.
Hy sê dit is belangrik om die identiteit van die koper vas te stel voor enige transaksies plaasvind.
"Groot bestellings word by byvoorbeeld meubelwinkels geplaas, maar die identiteit van koper word nie deeglik vasgestel nie," sê hy.
Mense sien ook winskopies op sosiale media-platforms en maak kontak met die adverteerder sonder om die persoon se identiteit te bevestig. Wanneer die betaling geskied verdwyn die adverteerder eenvoudig met die produk en die geld.
Wenke
Voor enige transaksie plaasvind, maak seker van die volgende:
Bevestig die identiteit van die persoon of besigheid, kontakbesonderhede en adres
Moenie persoonlike besonderhede soos bankbesonderhede en PIN-nommers uitgee nie
Lees die fynskrif. Met die druk van 'n knoppie op ‘n webblad kan jy al jou geld verloor
Moenie items koop wat jy nie self gesien het nie. Reël liewers om die verkoper te ontmoet of stuur iemand betroubaar om die produk te besigtig
Vir verdere inligting kan adjudant-offisier, Tommie Fortuin, by die polisie se plaaslike misdaadinligtingsentrum by 044 803 4719 geskakel word.