‘Ons is gek oor wetenskap!’: SK-leerders
Michelle Pienaar
'n Nutswaentjie wat kan help om strande skoon te hou, en 'n slim manier om inbrekers met kalmeermiddels te stuit, is van die oulike wetenskapprojekte waarmee leerders vorendag gekom het vir die vyfde Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes. Leerders van oor die streek, van gr.6 tot gr.12, het hul vindingryke idees verlede naweek by die Nelson Mandela Universiteit (Georgekampus) uitgestal.
Die publiek het Saterdag 4 Augustus die geleentheid gekry die projekte in die Furntech-sentrum op kampus te besigtig waarna ‘n prysuitdeling in die ouditorium plaasgevind het. Verskeie pryse asook spesiale toekennings is deur Eskom en NMU toegeken.
'n Hele groep uitblinkers, waaronder drie gouemedaljewenners, is gekies om die streek te verteenwoordig by die internasionale wetenskapkompetisie wat in Oktober in Johannesburg gaan plaasvind.
Een van die projekte wat baie goed gevaar het is 'n ontwerp van Hansie Barnard van Hoërskool Punt op Mosselbaai. Barnard het 'n waentjie ontwerp wat werkers se taak heelwat sal vergemaklik wanneer hulle strande opruim.
Ilin Duangchan, nog 'n leerder van die skool, het 'n manier ontwikkel waarmee inbrekers in 'n diep slaap gedompel word terwyl die slagoffers van 'n huisroof op die polisie wag. "In plaas daarvan om gevaarlike wapens aan te hou is dit net soveel makliker om hulle met 'n kalmeermiddelpyltjie te skiet," het sy verduidelik.
Van Hoërskool Outeniqua het Dané
Wiese deurgedring na die internasionale kompetisie, tesame met Shanté Strydom, Kaydee Jantjies en Inge-Maré Talmaggies van Hoërskool Knysna, Hansie Barnard en Nikita Schutte van Punt, Edwin Cupido van Hoërskool Zwartberg naby Prins Albert, Samantha Beukes van Bridgeton Sekondêr en Tuwan van Rooyen van Môreson Sekondêr.
Prof. Michael Schmidt van NMU, direkteur van die departement van natuurlike hulpbronbestuur, het die leerders aangemoedig om hul wetenskaplike studies verder te ontwikkel.
Hy het die bekende aanhaling van Thomas Edison gebruik wat lui: "A genius is 1% inspiration and 99% perspiration." Hy het gesê die feit dat hulle deel vorm van die ekspo beteken dat hulle 'n passie vir wetenskap het.
"Julle is die slimkoppe wat ons na die universiteit wil lok."
Caroline Bredell van Eskom, streekdirekteur vir die wetenskapkompetisie, het gesê dit is die eerste jaar wat die kompetisie by die universiteit gehou word. "Die kinders toon baie potensiaal, ek sien uit daarna om ‘n hele paar van hulle oorsee te neem vir soortgelyke kompetisies."