Geniet Vrouedag met gevulde pannekoek by ou tolhuis die naweek
Die tolhuis sal komende naweek, van 9 tot 11 Augustus elke dag tussen 09:00 en 14:00 oop wees vir pannekoek en koffie.
Op Vrouedag, 9 Augustus, gaan 'n tikkie ekstra moeite met die pannekoekvulsel gedoen word. 'n Besoek aan die geskiedkundige geboutjie omring van die majestueuse Outeniquaberge kan 'n heerlike uitstappie wees waarop die skoner geslag bietjie getrakteer kan word. 'n Nuutjie by die tolhuis is 'n pragtige perdekar wat die Vriende van die Tolhuis bekom het. Dit sal elke dag daar uitgestal word. "Ons gaan 'n voorraad outydse klere daar hê sodat mense vir die pret 'van toeka se dae'-foto's kan neem saam met die waentjie," sê Gerda Stols, voorsitter van die tolhuisvriende.
"Nico Coetzee was verantwoordelik vir die restourasie van die perdekar. Hy moes die wielspeke en houtringe self maak en het hom uitstekend van sy taak gekwyt. Kommaweer Stoffeerders het gesorg vir die professionele stoffering. Ons het nog nie 'n perd voor die kar ingespan nie en soek na die geskikte gereedskap daarvoor."
Die Vriende van die Tolhuis benodig 'n vraghouer waarmee hulle ablusiegeriewe by die tolhuis wil skep. Enigiemand wat moontlik 'n houer het wat in onbruik is en dit kan skenk, kan vir Gerda Stols bel by 083 772 8252. Toegang tot die tolhuis is gratis, maar donasies is welkom.