Help geld insamel vir Ollie vir stamselle
Alida de Beer
‘n Geldinsamelingsprojek word by die komende George-landbouskou (29 Augustus tot 1 September) gehou vir Heinrich (Ollie) Terblanche, die SWD-rugbyspeler wat in 2015 weens ‘n ernstige nekbesering tydens ‘n wedstryd verlam is.
Terblanche het verbetering getoon nadat hy vier stamselbehandelings gehad het, maar die onkoste daarvan is te hoog vir hom en sy vrou, Chanel om voort te gaan daarmee. Die dokters het aanvanklik nie hoop gehad dat hy weer sou kon loop nie, maar danksy sy geloof, deursettingsvermoë, baie harde werk en ondersteuning van Chanel, kan hy wel deesdae klein entjies met krukke beweeg. Die George Herald het onlangs oor die paartjie se vreugde berig nadat hy die gebruik van twee maagspiere herwin het, enkele maande nadat hy sy vierde stamseloorplanting vroeër vanjaar gehad het. Dit het die hoop laat opvlam dat opvolgbehandelings verdere verbetering sal meebring. ‘n Enkele behandeling kos egter R60 000.
Quinten Wagner, ‘n eiendomsagent van Realty 1 wat ook sy eie klein bemarkingsmaatkappy, Selvid, bedryf, het van Terblanche se nood te hore gekom en het besluit hy wil help. “Ons by Realty 1 wil graag iets aan die gemeenskap teruggee en ek het met die voorstel gekom dat ons vir Ollie kan help. Ek weet waardeur hy gaan, want ek kon ná ‘n motorfietsongeluk nie loop nie en het byna my arms verloor,” vertel Wagner.
Realty 1 gaan ‘n lootjiekompetisie by hul stalletjie by die skou aanbied. ‘n Kitaar en ander lekker pryse soos restaurantetes gaan te wen wees. Lootjies kos slegs R10. Die lootjietrekking sal die Saterdagmiddag van die skou gedoen word. Die wenners sal gekontak word en hul pryse afgelewer word. Alle geld wat ingesamel word, sal vir Terblanche se stamselbehandeling gaan.
Volgens ‘n biokinetikus by die Sportwetenskapsinstituut in Kaapstad, kan Terblanche se liggaam nog baie gebruik terugkry, daarom wil hulle nog ‘n stamseloorplanting probeer. Hoe meer keer die liggaam van die stamselle inkry, hoe beter raak die kanse op herstel. Die paartjie volg ‘n streng natuurlike dieet sodat die behandelings optimaal kan werk. “Die stamselle beweeg na al die plekke waar herstel in die liggaam nodig is, so ons probeer inflammasie in Heinrich se liggaam beperk wat help dat die meeste selle dan na sy beseerde nek beweeg. Ons is baie hoopvol dat nog behandelings ‘n positiewe effek sal hê. Hoewel hy ongelooflik gevorder het, is daar nog baie liggaamsfunksies wat hy nie het nie.”
Enigiemand of besigheid wat graag ‘n donasie wil gee of lootjies wil koop, kan Quinten bel by 062 421 8803 of direk in die trustfonds inbetaal. Die besonderhede is: Schoeman & Associates Inc, Absa, trusttjekrekeningnommer 405 480 3709, takkode 632 005. Verwysing: SO0068 of OLLIE - STAMSELLE.
Die bewys van betaling kan na quinten@ realty1george.co.za gestuur word sodat hulle briewe kan stuur om die donateurs te bedank.