Einde van ’n sagmoedige reus
Die bekende oud-Springbokatleet en kunstenaar, John van Reenen, is Maandagnag 20 Augustus in die ouderdom van 71 jaar op Calitzdorp oorlede.
“Ek het hom die afgelope drie en ‘n half jaar dag en nag opgepas: hy het in my arms gesterf,” het Isabel Ludick Dinsdag gesê.
John is op 26 Maart 1947 op Bethlehem in die Vrystaat gebore.
John, een van ses kinders, was ‘n legendariese atleet. Op laerskool op Bethlehem het hy rugby gespeel en geswem, maar toe hy in gr.7 was, het Cif Muller, ‘n onderwyser aan Grey Kollege in Bloemfontein, hom begin afrig in atletiek, en veral spies- en diskusgooi. Hy het in
1965 aan die Hoërskool Voortrekker op Bethlehem matrikuleer.
Van Reenen het mettertyd in ‘n wêreldklas diskusgooier ontwikkel. Toe hy in die middel sestigs weens Suid-Afrika se apartheidsbeleid nie aan die Olimpiese Spele kon deelneem nie, is hy Amerika toe, waar ses verskillende Amerikaanse universiteite vir hom sportbeurse aangebied het. Aangesien hy nooit Amerikaanse burgerskap kon kry nie, het hy toe in elk geval nie aan die Olimpiese Spele deelgeneem nie.
In 1971 het ‘n hy graad in beeldende kunste aan die Washington State University se kunsdepartement behaal, en in 1974 teruggekeer na Suid-Afrika. In 1975 het hy ‘n honneursgraad in kuns aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, en in dieselfde jaar ‘n diskus-rekordafstand van 68,48 m gegooi – ‘n rekord wat 25 jaar bly staan het.
Daarna het hy op verskeie dorpe gewoon, totdat hy ‘n huis op De Rust gekoop het en die Van Reenen-galery in die hoofstraat bedryf het. Later het hy op ‘n vriend, Joel Immerman, se plaas buite De Rust gaan woon.
John was ‘n diabeet en sy regtervoet, en later die been tot onder die knie, is drie jaar gelede weens gangreen geamputeer. Hy het daarna die Fine Arts Gallery op Calitzdorp gekoop en tot sy dood daar gewoon.
Sy vriend Gustaf Claassens het drie jaar gelede ‘n artikel oor hom geskryf toe hy reeds in Calitzdorp gewoon het. Hy was erg geskok oor sy skoolheld se fisieke toestand en met sy terugkeer in Bloemfontein ‘n trustfonds geskep waaruit John se mediese kostes betaal is. Hy het ook ‘n borgskap vir ‘n doelgemaakte rolstoel vir John gekry. Iets wat hy maar min gebruik het, veral die laaste tyd.
“Hy het baie pyn gehad,” het Ludick gesê. “Hy was bedlêend. Die Here het vir my krag uit die hemel gegee om daardie grote liggaam te kon hanteer. Ek het hom gewas, sy baard geskeer, maar hy het self geëet. Ek kon sien hy het baie pyn as hy so stil lê.
“Hy het altyd gesê: ‘Isabel, die Here het jou op my pad gesit’ - hy was soos ‘n broer vir my.”
Omstreeks 22:30 Maandagaand het John haar na sy kamer geroep en haar gevra om vir hom te bid. “Hy het gesê: ‘Isabel, ek is baie lief vir jou’. Ek het gesien hoe sy oë glans verloor; toe sterf hy in my arms.”
John word oorleef deur twee broers Peter en Paul en sy suster Vivienne de Jager, wat in George woon, en Ada Dawson, wat in Bethlehem woon.
“John se wens was om veras te word en dat sy as by Bethlehem gestrooi word,” het Claassens gesê.