George Herald

Helde beveg vure sonder vrees

-

Alida de Beer

Die manne en vroue wat reg voor in die linie teen brande baklei, het 'n uitmergele­nde en uitdagende tyd agter die rug. Terwyl die res van die burgers met hulle normale roetine voortgaan, werk hulle waar die vonke spat, die rook jou wil versmoor en reusagtige vlamme alles in hul pad wil verteer.

Warwick Fischer, Bethwell Grootboom en Joseph Fortuin van George-Brandweer het bietjie met die George Herald gesels.

"Daar was nie veel ruskans tussen skofte nie, geen afdae nie. Jy gaan net vir so drie ure huis toe en probeer bietjie slaap, dan is dit terug na die vure. Jy werk oortyd en dan nog 'n 24 uur skof daarna. Jou brein wil dan nie altyd afskakel vir slaap nie," vertel Grootboom.

Tussendeur die hulp wat hulle aan EdenBrandw­eer verleen het met die veldbrande, was daar ook struktuurb­rande in die dorp. Hulle het letterlik heen en weer gejaag - nou in die berg, dan by die Tuinroete-dam, in die vroeë oggendure op 'n boer se plaas, en dan weer in 'n woongebied waar 'n plakkershu­t brand. Hulle moes een nag, terwyl hulle gehelp het om veldbrande te blus, ook reageer op 11 uitroepe na brande by plakkershu­tte. En dan was daar nog padongeluk­ke tussenin. Hulle meen dis adrenalien wat hulle deur die uitputting help aanhou. "Ons drink ook baie water en Energade, so ons is baie dankbaar vir die skenkings van die publiek," sê Grootboom.

Die drie manne het 'n noue ontkoming gehad. Hulle was deel van 'n span wat 'n teenbrand moes maak met die treinspoor langs bo die dorp. Hulle stap en steek gras aan die brand parallel met die bergbrand. Hulle stap dus tussen twee brande. Die wind was gunstig, maar ná 'n paar kilometer het toestande versleg en die bergbrand het in hulle rigting begin afdruk. Sê Fischer, "Dit was benoude oomblikke, maar toe begin dit gelukkig reën. Dit het ons gered." Ten spyte van sulke vreesaanja­ende oomblikke, sê Fortuin, geniet hulle hul werk want hulle kan ander mense help. "Ons stel altyd ander se veiligheid eerste. Jou eie veiligheid is op die agtergrond. Daar is darem mense wat dit waardeer. Nou die dag in 'n winkel het 'n tannie my 'n drukkie gegee om dankie te sê."

Wanneer 'n ramp soos die huidige een hom afspeel, beleef die brandweerm­anne se gesinne dit eerstehand­s saam met hulle en daar is soms trane van spanning. "Ons gesinne weet dis jou werk, maar hulle is altyd bekommerd jy gaan dalk nie huis toe kom nie." Grootboom sê sy gesin het hom op 'n stadium vir twee dae glad nie gesien nie. Partykeer kan hulle jou nie eens per telefoon bereik nie, want die selfoonbat­tery raak pap. Dan's daar geen kontak nie.

Geen tyd om bang te wees

Wanneer jy in die hitte en rook sweet en veg, sê Fischer dink jy aan niks anders nie. "Jy het nie tyd om bang te wees nie. Jy fokus op die hier en die nou. Ek dink die adrenalien help. Jy konsentree­r hoe jy als tot jou beskikking kan gebruik om te red en beskerm, en jy probeer dit wat jy doen, vinniger en beter doen."

As daar nie water naby is nie, is dit net jy en 'n flap (bush beater) teen die vlamme.

Grootboom het as kind altyd gedroom om 'n kinderhuis vir straatkind­ers te begin. Hy vertel, "Dit het nie gerealisee­r nie. Ek het by die brandweer aansoek gedoen, want so kan ek ook ander mense tot diens wees. Dis ook opwindend. Ons hardloop ná die brand toe terwyl ander mense weghardloo­p."

 ??  ??
 ??  ?? Dis mense soos Warwick Fischer, Joseph Fortuin en Bethwell Grootboom (van links) wat inwoners se veiligheid eerste stel tydens brande. Foto: Alida de Beer
Dis mense soos Warwick Fischer, Joseph Fortuin en Bethwell Grootboom (van links) wat inwoners se veiligheid eerste stel tydens brande. Foto: Alida de Beer

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa