Groot deel van George kon in vlamme opgaan
Kommer het op ’n stadium tydens die onlangse brande bestaan dat George-Oos totaal kon afbrand. As die wind nie die middag van 29 Oktober van noord na suid gedraai het nie, kon daar dalk ernstige probleme gewees het.
Die skokkende onthullings is deur Gerhard Otto, hoof van rampbestuur by die Garden Route-distriksmunisipaliteit, in 'n onderhoud met die George
Herald gemaak. George-Oos sluit woonbuurte in soos Denverpark, Loeriepark, Eden en Genevafontein. As dit sou gebeur, sou duisende inwoners dakloos gewees het. Otto het ook syfers beskikbaar gestel wat 'n aanduiding gee van die koste en skade van die brande wat etlike dae in die gebied gewoed het. Die totale koste beloop miljoene rand. Dit sluit in skade van R8,8 miljoen aan padinfrastruktuur en padtekens en landbouskade van R24 miljoen. In George is skade van meer as R5 miljoen aangerig aan elektriese en siviele infrastruktuur. Die lugsteunkoste-rekening van die Garden Route-distriksmunisipaliteit beloop R7,1 miljoen en vir grondspanne bietjie meer as R1 miljoen.
Hy het ook bekend gemaak dat die Wes-Kaapse provinsiale regering R10 miljoen bewillig het wat onder meer gebruik gaan word vir lugsteun, 'n watertenkvoertuig en twee 4x4 reaksievoertuie wat elk 750 liter water kan dra.
Volgens Otto moet in gedagte gehou word dat voor die brand op 24 Oktober by Herold begin het, was daar reeds 'n brand in Vermaaklikheid waar brandbestrydingspersoneel van die Garden Routedistriksmunisipaliteit by betrokke was.
In een stadium was daar 12 brande in die gebied. Die brande is nie net deur die brand in Herold veroorsaak nie. Van die brande het wel later een geword. Die brande het oor 'n massiewe gebied gewoed en dit was die grootste fynbos brand in die gebied die afgelope
150 jaar.
Op Sondag 28 Oktober is die Gesamentlike Beheersentrum by die distriksmunisipaliteit geaktiveer. Een van die lesse wat reeds geleer is, is dat dit miskien vinniger moes gebeur het.
Hy benadruk dat voor daardie stadium, is nie gedink die brand gaan so groot raak nie.
"Ons almal het miskien nie geweet daar gaan 'n wind van 109 km/h uur wees nie. Die Maandag het 'n noordewind gekom en die vuur het daarna heeltemal handuit geruk."
Op die oomblik is onafhanklike ondersoeke na die brande aan die gang en hy kan dit nie vooruit loop nie. Satellietfoto's is van die WNNR aangevra. Een van die vure is waarskynlik aan die brand gesteek en die ander deur natuurlike oorsake soos weerlig veroorsaak. Die uitslag van die ondersoeke behoort vroeg in die nuwe jaar bekend te wees.
Die onlangse brande was vier keer groter in oppervlakte as die Knysna-brande. Van die lesse wat uit die Knysna-brande geleer is en voorbereidende stappe van die George-munisipaliteit, het gehelp om 'n groot ramp te keer.
Otto het ook reageer oor kommer van chemiese stowwe soos chloor wat by die George-waterwerke gestoor is. Kommer het bestaan dat as dit aan die brand sou raak, dit ernstige probleme kon veroorsaak.
Die Maandag (29 Oktober) is 'n beheerde brand agter die waterwerke gedoen. Die waterwerke is as 'n kritiese punt beskou wat beskerm moes word. Daar was ook tonne kalk en dit sou moeilik gewees het om alles te verwyder.
'n Direkte uitvloeisel van die onlangse brande is dat daar gekyk word hoe meer gekoördineerd opgetree kan word.
Die onderskeie regeringsfere en staatsdepartemente kan nie in silo's funksioneer nie.