George Herald

Boor ingespan vir verkalkte aar

-

Alida de Beer

'n George-inwoner het weer 'n nuwe kans op lewe danksy 'n spesiale prosedure wat vir die eerste keer in die Suid-Kaap uitgevoer is.

Die 77-jarige Theo Enslin was so dankbaar en beïndruk met die dokter dat hy sy storie met die George Herald se lesers wou deel. Hy het 23 jaar gelede 'n hartaanval oorleef en sedertdien goeie gesondheid geniet.

Toe hy egter die oggend van 17 Januarie vanjaar wakker word, het hy gevoel iets is fout, soveel so dat sy vrou, Nina hom na die noodeenhei­d van Mediclinic George geneem het. Hy is dadelik in die intensiewe­sorgeenhei­d opgeneem. "Ek moes na Life Bay Viewhospit­aal oorgeplaas word, maar is eers die volgende oggend soontoe geneem omdat hulle vol was. Ek moes 'n angiogram en stent kry."

Dit was egter nie so eenvoudig nie. Die verkalking in die geblokte aar wat die probleem veroorsaak het, was kliphard en die stent kon nie in posisie geplaas word nie. Daar was 'n ander uitweg: 'n Rotasie-aterektomi­e, oftewel rotablasie. Die masjien waarmee dit gedoen word, was egter nie in die Suid-Kaap beskikbaar nie. Die hospitaal moes een hierheen laat kom. Twee weke het verloop voor dit aangeland het, 'n taamlik benoude wagtyd vir Enslin. Dr. Hendrik Snyman het die prosedure uitgevoer. Sy vrou, dr. Elizma Snyman, bestuurder by hul praktyk, verduideli­k dat daar in sommige pasiënte 'n sirkumfere­nsiële verkalking en vernouing van die kroonare (die hart se are) is, soos in Enslin se geval. Die verkalking­s kan wissel van slegs 'n paar mm, tot langer letsels en hulle moet letterlik deur die verkalking­s boor met 'n klein diamantpun­tboortjie.

Sy sê hoewel die prosedure reeds in 1986 vir die eerste keer gedoen is, was dit vir 'n lang tyd nie algemeen in gebruik nie as gevolg van destydse komplikasi­es. "Nou is die spesifieke gevalle waar dit goed werk en waar die resultate beter is as ander intervensi­es, beter bekend, en word die tegniek weer meer gebruik." Komplikasi­es verbonde aan die prosedure is onder meer spasma van die kroonare, perforasie of disseksie van die are.

Beide haar man en Lochner het op dieselfde dag verskillen­de pasiënte in teater gehad wat dit ondergaan het. Enslin was die eerste pasiënt op die lys. Dr. (Hendrik) Snyman het die prosedure voorheen by Tygerbergh­ospitaal uitgevoer.

Life Bay View-hospitaal leen tans die masjien vir drie maande van die maatskappy Boston Scientific om die koste-effektiwit­eit te bepaal, voordat dit moontlik aangeskaf sal word.

 ??  ??
 ?? Foto: Alida de Beer ?? Theo Enslin sterk goed aan nadat dr. Hendrik Snyman deur ‘n harde verkalking in een van sy hartare moes boor. Hy is dieselfde dag ná die prosedure weer huis toe.
Foto: Alida de Beer Theo Enslin sterk goed aan nadat dr. Hendrik Snyman deur ‘n harde verkalking in een van sy hartare moes boor. Hy is dieselfde dag ná die prosedure weer huis toe.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa