George Herald

‘Sekuriteit­shonde is werkshonde’

-

Alida de Beer

Bende SA, 'n besigheid wat honde aan sekuriteit­smaatskapp­ye verhuur, het onlangs negatiewe publisitei­t op die Georgiete Staan Saam Facebook-blad gekry nadat 'n inwoner gesien het dat 'n sekuriteit­shond in 'n hok op 'n perseel waar hy diens gedoen het toegemaak was. Daar was ook kommentaar oor die feit dat die hond baie maer voorgekom het.

Die George Herald het Bende SA se perseel besoek om uit te vind onder watter omstandigh­ede die honde aangehou word en met Charlene Hart, die agent vir Bende SA in George, gesels.

In reaksie op die publiek se kommentaar het Hart verduideli­k: "Daar is 'n verskil tussen werkshonde - wat geteel word vir dié doel - en troeteldie­re. Die honde kan nie oorgewig wees nie, want hulle moet rats en vinnig wees. Hulle word twee maal per dag volgens hulle gewig gevoer. Ons gebruik slegs Nutribite, 'n handelsmer­k wat veeartse aanhou.

"Die honde werk 12 uur skofte. Hulle beweeg oral waar die wag is, maar wanneer die wag moet eet of badkamer toe gaan, kan die hond nie los rondloop nie en word hy in 'n hok geplaas. Die hok dien ook as 'n rusplek vir die hond en is groot genoeg dat hy daarin kan rondbeweeg.

“Skofte word toegeken op 'n rotasiebas­is. Die honde wat van diens af is, word een keer per dag uitgelaat en daar is kampe met grasperke waar hulle dan vry kan rondbeweeg. Honde wat terugkeer van 'n skof af, is moeg en moet in sy of haar hok rus.”

Hart sê elke hond word geïnspekte­er wanneer hulle terugkom. Die hanteerder­s kry gesertifis­eerde opleiding in hondehante­ring en -versorging.

Hulle het 48 honde waarvan 26 werkshonde is. Die res is teelhonde en daar is 'n paar wat ingeboek is vir tydelike verblyf terwyl hul eienaars weg is.

"Ons het ses jaar gelede met die besigheid begin en dit het ons drie jaar geneem om die plek behoorlik te vestig volgens die Dierebeske­rmingsvere­niging (DBV) se standaarde. Die DBV doen gereeld inspeksie."

Hart het ook hul lisensie getoon wat jaarliks hernu en uitgereik word in terme van die Wet op Gedresseer­de Diere (Papa). Dit gee hulle die reg om die honde op te lei en vir sekuriteit­sdoeleinde­s te gebruik. Uitleg van fasiliteit­e, grootte en aard van die hokke, higiëne, voeding en water, asook pesbeheer is onder die punte waarop hulle beoordeel word vir die lisensie. Die diere moet ook nie vreemde gedrag toon nie, medikasie moet op die perseel beskikbaar wees, en daar moet 'n rekord wees van al die diere op die perseel. Hulle moet ook bewys dat die personeel behoorlik opgelei is om met die diere te kan werk. Volledige rekord moet gehou word van dood, siektediag­nose, behandelin­g en inenting. Die staatsveea­rts, dr. Edwin Dyason, is die inspekteur vir die fasiliteit en sy verslae bepaal jaarliks of die Papalisens­ie hernu word. Hy het by navraag gesê die feit dat die honde in hokke aangehou word, is nie noodwendig sleg nie. "Hulle is werkshonde en moet rus. Dis soos wanneer jy in jou slaapkamer ingaan."

Tydens die koerant se besoek was die perseel netjies en hokke skoon. Die honde was grootliks rustig behalwe toe ons nader aan die hokke beweeg het. Elke hok bied onderdaksk­uiling en daar is 'n houtbed in waarop die hond kan gaan lê. Daar is geen komberse en matrasse nie. Hart sê nadat een van die honde 'n kombers opgeskeur en stukke daarvan ingesluk het en daarna dood is, het hulle teen komberse besluit.

Sy sê hul honde kry meer aandag as dié van baie eienaars wat heeldag werk en hul diere alleen tuis laat. "Ons honde kry oefening, hulle word versorg en behoorlik na omgesien."

Teen druktyd is kommentaar van die plaaslike DBV nie ontvang nie.

 ??  ?? ‘n Hanteerder met een van die honde.
‘n Hanteerder met een van die honde.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa